Die SAKP aan die ander kant is “die voorste party van die werkersklas met die doelwit om ‘n sosialistiese revolusie te bevorder ten einde sosialisme met die diktatorskap van die proletariaat te skep… Hulle is nou skaam om dit in die publiek te sê – maar dis reg so. Dit is die werklike doelwit … wat ten doel het om ‘n kommunistiese samelewing daar te stel wat deur ‘n klaslose samelewing onderskryf word. Dit is die doelwit van die SAKP”.
Die President se erkenning van die SAKP as die “voorste” party van die werkersklas is belangrik omdat die ANC swart werkers identifiseer as “die hoofbeweegrede en die leier van die proses van verandering”. Dit bied die SAKP ‘n belangrike rol en wettigheid om die NDR te lei, ‘n geleentheid wat dit vinnig aangegryp het. Dit het onlangs verklaar dat “die bevordering, verdieping en beskerming van die NDR en om daarvoor verantwoordelikheid te neem…‘n grondslag is vir en die mees direkte roete is na die bou van sosialisme in die konkrete omstandighede van die land.” Dit het ook gespog dat hul siening van die NDR “gedeel word deur ons hele alliansie. Die perspektief is nou aan die kern van die program van ons regering.”
Dit blyk of die President die wettigheid van die SAKP se doelwit van “sosialisme met die diktatorskap van die proletariaat” en “’n kommunistiese samelewing” eenvoudig net aanvaar. Dít ten spyte van die feit dat ‘n kommunistiese samelewing nie versoenbaar sal wees met die ANC se breë demokratiese en veel-klassige doelwitte nie – om nie eens te praat van die feit dat dit onversoenbaar is met die Grondwet wat hy (en SAKP ministers) onderneem het om te handhaaf nie.
Hy verklaar verder dat die doelwitte van die SAKP en die ANC “in dieselfde rigting kyk”. “Dit is waarom ons hierdie pad saam stap, vennote op dieselfde roete…op ‘n spesifieke tydstip om ons NDR in te stel.” Dit beteken nie noodwendig dat die ANC die daarstelling van ‘n kommunistiese samelewing ondersteun nie – maar dat beide organisasies in dieselfde rigting beweeg wat die NDR betref.
Die President voeg by dat sodra die NDR behaal is “…sal ons daar stop en nie verder gaan nie”. Die ANC sal stop by die Nasionale Demokratiese Samelewing terwyl die SAKP ‘n kommunistiese staat sal nastreef. Soos hy later in isiZulu byvoeg, “wanneer ons uiteindelik daar aankom (by die NDS) sal Blade en sy vriende van ons afskeid neem en ons sal toekyk hoe hulle ‘n moeiliker koers inslaan. Ons sal voortgaan om hulle van ‘n afstand dop te hou.”
President Zuma los egter die deur oop vir kommunisme: Hy verklaar (ook in isiZulu) dat indien die ANC se “posisie (die NDS) onhoudbaar raak, ons ons tasse dalk sal pak en agter hulle aangaan – wie weet?”
Die President het die volgende te sê oor COSATU:
“COSATU is ‘n progressiewe vakbondfederasie wie se hoofdoelwit is om te baklei vir die regte van die werkers en om dit te beskerm teen die uiterste uitbuiting van die kapitalistiese klas. Dit is COSATU… En dit is sy doelwit … Dit is waarom hulle baie hard moet werk om dit te verwesenlik – om seker te maak dat die werkers se omstandighede op die fabrieksvloer bevorderlik is…”
President Zuma hoop dat wanneer die doelwitte van die NDR behaal is, daar geen behoefte sal wees vir die werkers om voor te gaan op die weg van die SAKP nie – maar hy is nie seker nie… “Wanneer ons ons bestemming van voorspoed bereik sal die werkers se omstandighede reg wees…so die werkers sal met ons wees. Ons weet nie wanneer diegene op die voorgrond hulle sal laat weet om te sê dat ons voortgaan, of hulle sal voortgaan en of hulle sal besluit om by ons te bly nie…ons weet nie …”
Die kans is egter goed dat COSATU sy alliansie met die SAKP sal voortsit. Tydens sy 5de Sentrale Komitee-vergadering in Junie 2011 het sy president, S’Dumo Dlamini, COSATU se lojaliteite uiteengesit: “Ons aanvaar die SAKP as ons aanvoerder in die stryd om sosialisme. Dit is om hierdie rede dat ons enige iets binne ons vermoë sal doen om die SAKP te versterk.”
So, President Zuma is nie regtig seker oor die post-NDR scenario nie: “Wanneer hulle ons verlaat om verder te gaan, weet ons nie wat sal gebeur nie.” Hy voeg by (ook in isiZulu) “want ons sal steeds op die selfde plek wees, waar ons regeer”.
Dit is die kern van die saak. Soos die SAKP van bewus is, gaan alles oor staatsmag. Wie sal werklik regeer wanneer die Alliansie die doelwit van die NDR bereik? Die SAKP het verklaar dat dit van plan is om leierskapsposisies in die ANC te infiltreer. Die politieke verslag van sy 12de Kongres in 2007 wys spesifiek op die Comintern-opdrag in 1928 om die ANC te infiltreer: “Ons herhaal: ‘Om die leierskap van die werkers en die Party in die Organisasie (die ANC) stelselmatig te ontwikkel.” Tot 40% van die kabinet is moontlik nou lede van die SAKP.
In sy toespraak het President Zuma moontlik gepoog om die ANC-ondersteuners gerus te stel dat mag in die hande van die ANC sal bly – in reaksie op die toenemende ongemak in die ANC-geledere oor die SAKP se houding. Hierdie ongemak het onlangs gelei tot ‘n openbare twis tussen die magtige “premiersliga” en die SAKP.
Gewone ANC-lede het elke rede om bekommerd te wees. Hulle teenstaanders in die bevrydingsbewegings wat deelgeneem het aan die nasionale bevrydingsfase van die Russiese, Kubaanse en Viëtnamese revolusies is vinnig agtergelaat in die voorste party se strewe na die diktatorskap van die proletariaat.
Die enigste manier waarop die SAKP kan voortgaan is om die ANC se doelwit oor te neem – aangesien dit oor geen kiesersteun van sy eie beskik nie. Die SAKP is geheel en al afhanklik van die mag wat die ANC aan hom gee. Die vraag is waarom die ANC voortgaan om soveel mag aan die SAKP te verleen wanneer sy post-NDR doelwitte soveel verskil van die demokratiese en veel-klassige doelwitte wat die ANC beweer hy ondersteun.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting