- Sommiges sien hulself, in die eerste plek, as akademici, wat verbind is tot die bevordering van wêreldklasstandaarde. Hulle verwerp die idee dat universiteite enige spesiale rol het om in die bevordering van hierdie of daardie taal te speel. Hulle glo werklik dat akademiese uitnemendheid op ‘n beter wyse behaal kan word deur die aanvaarding van die wêreldtaal, Engels, as die enigste onderrigtaal.
- Ander glo die ANC se argument dat Afrikaans ‘n taal van uitsluiting is – en dat dit onuitwisbaar besmet is deur sy verbintenis met die verlede. Hulle is baie skaam oor die rol wat Afrikaanse universiteite tydens apartheid gespeel het – en oor hierdie universiteite se voormalige Afrikaanse identiteit. Gevolglik is hulle vasberade om enige verbintenisse met die Afrikaanse identiteit voor 1994 so vinnig as wat hulle kan eenkant toe te skuif.
- Ander glo dat hulle onvermydelik sal moet ingee wat die ANC-regering en betogende studente se eise betref om in die rigting van demografiese verteenwoordiging te transformeer. Hulle dink dat hoe meer hulle saamwerk, hoe beter sal hulle in staat wees om akademiese belange te beskerm.
- Baie Afrikaanse kommentators, studente en ouers het – bloot om praktiese redes – nie ‘n probleem daarmee om die skuif na Engels te aanvaar nie. Hulle dink dat Engels hulle sal help in ‘n land waar dit nou feitlik die enigste taal van besigheid en die regering geword het. Dit sal ook beter wees vir hul kinders om in Engels te studeer indien hulle eendag sou besluit dat hulle hul toekoms oorsee sal moet bou.
Die ANC is ongetwyfeld verheug en geamuseerd oor die spektakel van al hierdie goeie mense wat oor hul voete val om die ideologiese benadering van hul Nasionale Demokratiese Revolusie in werking te stel.
Die vooruitsigte van hierdie welmenende mense op die medium en lang termyn is, soos die kapitalistiese tou-verkopers, nie goed nie. Die ANC wil demografiese verteenwoordiging hê – en so gou as moontlik. Hulle wil nie enige instelling in die openbare sfeer hê waar minderhede – op ‘n nie-rassige en nie-uitsluitende grondslag – sal oorheers nie. Hulle wil hê dat alle openbare instellings aan Afrika-hegemonie onderworpe moet wees.
Dit beteken dat daar van studenteliggame, die fakulteite en die voormalige Afrikaanse universiteite vereis sal word om die nasionale demografiese profiel so gou as moontlik te weerspieël. Daar sal geen plek meer wees vir die oorweldigende meerderheid van daardie welmenende wit Afrikaanssprekende akademici, bestuurders en raadslede nie. Deur afstand te doen van die outonomie van hul universiteite, sal daar so gou as wat prakties moontlik is, van hulle ontslae geraak word.
Die ANC sal ook nie enigsins meer belangstelling toon in wat hulle beskou as Eurosentriese standaarde van akademiese uitnemendheid as wat hulle toon in die handhawing van standaarde van uitnemendheid elders nie. Hoekom moet enige iemand onder enige wanindruk verkeer dat hierdie eens uitstekende universiteite nie binnekort soos ons ander universiteite vinnig agteruit sal gaan nie?
Aan die ander kant is daar baie Afrikaners – waarskynlik ‘n meerderheid – vir wie hul taal, saam met hul geloof en kultuur, ‘n integrale deel van hul identiteit as mense is.
- Hulle kan nie insien hoekom universiteite wat Afrikaanse onderrig bied – ten minste op voorgraadse vlak – nie steeds akademiese uitnemendheid kan behaal nie – soos wat hulle in die verlede gedoen het nie.
- Hulle is nie skaam oor hul identiteit as Afrikaners nie. Hulle glo nie dat taal die draer van gesamentlike skuld is nie. Hulle verstaan nie hoekom daar van hulle verwag word om die etos van hul universiteite eenkant toe te skuif nie – net soos wat Engelsmanne nie verplig voel om die etos van Oxford of Cambridge eenkant toe te skuif nie – net omdat hulle in die verlede verbind is met Britse imperialisme en ander ideologieë wat nie meer aanvaarbaar is nie.
- Hulle kan nie verstaan waarom hulle nie – op ‘n grondslag wat nie uitsluit nie en nie-rassig is – in staat kan wees om in hul moedertaal te studeer en om hul kultuur uit te oefen soos hul goed dink nie. Hulle verstaan nie hoekom hulle ontneem word van ‘n belangrike deel van hul kultuur- en taalerfenis wat verteenwoordig word deur die universiteite wat deur hul vaders en voorvaders gestig, gebou en onderhou is nie.
- Hulle glo dat dit onwys en onnodig is om te buig voor die eise van ideologiese en rasgemotiveerde staatsministers en militante studentebetogers. Hulle is geneig om eise wat hulle as onregverdig, onbillik en ongrondwetlik beskou, teen te staan.
- Hulle verwerp die idee dat indien hulle in Afrikaans onderrig word, hulle nie in staat sal wees om mee te ding in die de facto Engelse besigheids- en administratiewe omgewing nie – of goed sal vaar oorsee nie – soos baie Afrikaners in die verlede gedoen het nie. Meeste van hulle is nie van plan om Suid-Afrika te verlaat nie.
- Hulle verwerp die instelling van Afrika-hegemonie in alle aspekte van die samelewing en steun eerder die ideale van multikulturele en samewerkende en nie-uitsluitende diversiteit.
Die Grondwet is in der waarheid baie duidelik oor baie van hierdie vrae:
- In sy Aanhef praat dit van ‘n Suid-Afrika wat aan al sy mense behoort, verenig in hul diversiteit;
- Dit erken Afrikaans as een van ons 11 amptelike tale;
- Dit voer aan dat alle amptelike tale “gelykheid van aansien moet geniet en gelyk behandel moet word.”
- Dit verbied onregverdige direkte of indirekte diskriminasie teen enige iemand op grond van etniese oorsprong, kultuur of taal;
- Dit erken dat elkeen die reg het op onderrig in die taal of tale van hul keuse in openbare instellings waar daardie onderrig redelik moontlik is.
- Dit erken die reg van elkeen om onafhanklike onderwysinstellings wat nie op grond van ras diskrimineer nie, op eie onkoste te stig en te handhaaf; en
- Dit verseker elkeen se reg om die taal van hul keuse te gebruik en deel te neem aan die kultuur van hul keuse op ‘n wyse wat met die ander regte in die Handves van Regte ooreenstem.
- Dit verklaar dat persone wat aan kultuur-, godsdiens of taalgemeenskappe behoort nie van die reg ontneem mag word, saam met ander lede van daardie gemeenskap, om hul kultuur te geniet, hul geloof te beoefen en hul taal te gebruik om kultuur-, godsdiens en taalverenigings en ander organe van die burgerlike samelewing te vorm, daarby aan te sluit en te handhaaf nie – op ‘n wyse wat met die ander regte in die Handves van Regte ooreenstem.
Die staat en openbaar befondsde instellings soos universiteite het ‘n plig om al hierdie regte te handhaaf en fasiliteer. Hulle het veral die plig om te verseker dat almal ‘n reg het om onderrig in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings te geniet waar daardie onderwys redelik moontlik is.
Dit is duidelik moontlik om dit te doen by universiteite wat tradisioneel onderrig in Afrikaans gebied het – veral in die Wes-Kaap, waar Afrikaans die hooftaal is.
Afrikaanssprekendes sal alle rede hê om ‘n beroep op die regering en die betrokke instellings te doen om verantwoording te doen indien hulle sou versuim om hul regte kragtens artikel 29(2) aan te spreek.
Dit is net so belangrik om die behoefte aan herstelmaatreëls betreffende diskriminerende wette en beleide gegrond op ras in ag te neem. In hierdie verband is dit noodsaaklik dat die tersiêre onderwysstelsel die behoeftes van bruin Suid-Afrikaners, wat die laagste universiteitsdeelname van enige gemeenskap in Suid-Afrika het, die hoof moet bied. Die behoeftes van benadeelde swart en bruin Engelssprekende studente in die Wes-Kaap word voldoende aangespreek deur die ander drie universiteite in die provinsie wat onderrig slegs in Engels bied – maar daar is geen voorsiening gemaak vir benadeelde bruin Afrikaanssprekendes nie – veral diegene van die landelike gebiede van die Wes-Kaap.
Ironies genoeg word Engels nie hoofsaaklik gebruik om die behoeftes van benadeelde swart en Bruin Engelssprekendes te akkomodeer nie – maar dié van relatief bevoordeelde wit Engelssprekendes wat na Stellenbosch kom vanaf ander dele van Suid-Afrika.
Ons moet die idee verwerp dat Afrikaans, die oorheersende taal in die Wes-Kaap, as ‘n taal van uitsluiting beskou kan word – en ook die ongrondwetlike idee verwerp dat Engels op een of ander manier die enigste nie-amptelikenasionaletaal – en die taal van insluiting – geword het. Duidelik kan dit vir baie Afrikaanssprekende universiteitskandidate en kandidate wat ander inheemse tale praat, juis ‘n taal van uitsluiting wees.
Ons moet ook die idee verwerp dat Afrikaans deur die verlede besmet is en dat sy sprekers en hul kultuur ‘n laer morele posisie beklee. Sulke idees ondermyn die grondliggende reg van Afrikaanssprekendes op menswaardigheid – die waarde waaruit alle ander grondwetlike waardes vloei.
Die bestuur van die oorblywende universiteite waar Afrikaans steeds ‘n onderrigtaal is moet die praktiese oorweging in ag neem oor of hulle ‘n wesenlike deel van hul ondersteuningsbasis – en moontlik die oorweldigende basis vir befondsing en skenkings – wil vervreem.
Die aangeleentheid ter sprake is of Suid-Afrika as veeltalige en multikulturele samelewing sal ontwikkel met linguisties en kultureel diverse instellings – soos deur die Grondwet vereis word – en of die internasionale taal, Engels, en Afrika-hegemonie – afgedruk sal word op almal in ooreenstemming met die regerende party se ideologie van demografiese verteenwoordiging. Die aangeleentheid hou ook verband met die toekoms van akademiese uitnemendheid: ons kan baie seker wees dat indien demografiese verteenwoordiging op ons universiteite ingestel sal word, dit nie baie lank sal hou nie.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: Carsten aus Bonn via Foter.com / CC BY-ND