Die probleem strek egter verder as die streke van die EVV. Ons moet nou vra tot watter mate die Parlement die belangrike rol speel wat in ons grondwetlike stelsel in die vooruitsig gestel is – waarin dit veronderstel is om op gelyke vlak as die Regbank en die Uitvoerende Gesag te wees.
Die Parlement se rol word in artikel 42(3) van die Grondwet uiteengesit:
“Die Nasionale Vergadering word verkies om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker. Hy doen dit deur die President te kies, deur as ʼn nasionale forum vir die openbare oorweging van sake te dien, deur wetgewing aan te neem en deur optrede van die uitvoerende gesag na te gaan en toesig daaroor uit te oefen.”
Die mate waarin lede van die Nasionale Vergadering werklik die mense verteenwoordig, is twyfelagtig. Dit is duidelik dat hulle danksy ons stelsel van proporsionele verteenwoordiging eerder aan hul party se politieke base verantwoordelik is, eerder as aan die kiesers. Kragtens artikel 47(3)(c) verloor hulle hul lidmaatskap van die Nasionale Vergadering (en dus, in die meeste gevalle, hul lewensbestaan) indien hulle nie meer lede is van die party wat hul as lede van die Vergadering benoem het nie.
Dit verleen aan die politieke base enorme beheer oor hul vermoë om die Uitvoerende Gesag tot verantwoording te roep. Enige lid van die Nasionale Vergadering wat vreesloos poog om die optrede van die Uitvoerende Gesag te ondersoek of daaroor toesig te hou sal in alle waarskynlikheid hom of haar sonder ‘n werk bevind.
Hierdie werklikheid is geïllustreer deur die gebeure wat gevolg het na die ANC se Nasionale Konferensie in Polokwane in Desember 2007. Deur die steun van slegs 10% (of 400) van die afvaardigings na die konferensie af te rokkel het die SAKP/COSATU/Zuma-faksie daarin geslaag om beheer van die ANC te verkry – en dus van die Wetgewer en die Uitvoerende Gesag. Dit was in staat om die President, onder wie se leierskap die ANC die voorafgaande nasionale verkiesing gewen het, te herroep, en kon aan die Parlement voorskryf watter beleide dit wou aanvaar.
Die voortgesette oorheersing van die regerende beweging oor die Parlement en sy verrigtinge word geïllustreer deur die feit dat die ANC Baleka Mbete, een van sy belangrikste ampsdraers, as Speaker in die Nasionale Vergadering aangestel het. In funksionerende demokrasieë regoor die wêreld is dit die aanvaarde gebruik dat die Speaker onafhanklik van party-politiek moet wees. Die Speaker moet in ‘n posisie wees om die werk van die Parlement op ‘n vreeslose en onafhanklike wyse te bestuur. Dit is egter nie die geval nie, soos gesien kan word in die herhaalde versuim van die Parlement om te dien as “’n forum vir openbare oorwegings van aangeleenthede” en om die optrede van die Uitvoerende Gesag streng en doeltreffend te ondersoek en daaroor toesig te hou.
Baie van hierdie probleme kon aangespreek geword het deur hervormingsmaatreëls wat jare gelede deur Ferderick van Zyl Slabbert voorgestel is. Hy het ‘n kiesstelsel voorgestel ingevolge waarvan 300 lede van die Parlement verkies sou word in multi-lid-kiesafdelings. Dit sou verseker dat 75% van LPs hul lojaal moes wees teenoor die kiesers wat hulle verkies het – en nie aan hul party-base nie.
Dit sal ook nodig wees om artikel 47(3)(c) te herroep ten einde te verseker dat lede van die Parlement nie meer afhanklik is van die goedkeuring van hul politieke base vir hul voortgesette lidmaatskap in die Parlement nie. Daarbenewens moet die Speaker in staat wees om sy of haar rol op onpartydige, doeltreffende en onafhanklike wyse van sy of haar politieke party uit te voer.
Onder sulke omstandighede sal die Parlement moontlik in staat wees om die belangrike rol te speel wat in die Grondwet in die vooruitsig gestel is.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: vic.bergmann / Foter / CC BY-ND