Presidensiële vraetyd, soos voorgeskryf deur die Reëls van die Nasionale Vergadering (die Reëls), is onvoldoende (soos voorheen deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte uitgewys is in ’n voorlegging aan die Parlement). Maar na afloop van ’n onlangse begeesterde vertoning deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (die EVV) waartydens hulle parlementêre verrigtinge verontwrig het met hul dreunsang dat President Zuma die geld moet terug betaal (met betrekking tot die opgraderings aan Nkandla), is al wat van vraetyd oorbly retoriek en gerugte. Volgens berigte het die Adjunkpresident selfs na bewering aangevoer dat die verhouding tussen die President en die Nasionale Vergadering nie meer goed genoeg is vir hom om enige mondelinge vrae te beantwoord nie.
Kragtens Reël 111(1)(a) van die Reëls hoef dae waarop die President vrae moet beantwoord slegs een keer per parlementêre termyn geskeduleer te word. Soos Pierre de Vos egter daarop wys moet die woord “termyn” nie op dieselfde wyse uitgelê word as die betekenis van die woord in artikel 49(1) van die Grondwet nie – wat bepaal dat die Nasionale Vergadering vir ’n termyn van vyf jaar verkies word. Dit sal “baie van die reëls onverstaanbaar en absurd laat” en sal ook beteken dat die President slegs een keer elke vyf jaar mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering hoef te beantwoord. De Vos voer met reg aan dat dit duidelik teenstrydig sou wees met artikel 55(2) van die Grondwet. Sodanige uitleg sal ook teenstrydig wees met die grondliggende waardes van ’n verantwoordbare, responsiewe en oop regering, asook met die President en sy kabinet se plig om die Parlement van volledige en gereelde verslae te voorsien.
Selfs wanneer die woord “termyn” uitgelê word as ’n jaarlikse parlementêre sitting (die Parlement se interpretasie), word dae waarop die President vrae moet beantwoord slegs vier keer per jaar geskeduleer. Vrae word, kragtens Reël 111(1)(b), beperk tot aangeleenthede van “nasionale en internasionale belang” (alle ander vrae moet, kragtens Reël 111(2), aan die Adjunkpresident of Minister in die Presidensie gerig word) en moet, volgens Reël 111(3), ten minste 16 dae voor die dag waarop vrae beantwoord moet word, ingedien word.
Selfs dít is egter onbevredigend:
- Eerstens is dit te maklik vir die President om slegs vier keer per jaar vrae hoef te beantwoord;
- Tweedens noop die feit dat vrae beperk word tot aangeleenthede van “nasionale en internasionale belang” die vraag: belangrik vir wie? In ’n demokrasie behoort daardie bepaling deur die mense gemaak te word, nie die President nie.
- Derdens is dit steeds ’n goeie vraag waarom die President 16 dae nodig het om ’n antwoord ten opsigte van beleid of uitvoerende besluite voor te berei terwyl hy dit onmiddellik moet kan beantwoord sonder enige voorbereiding of waarskuwing; en
- Vierdens moet die Sekretaris van die Parlement alle vrae aan die President aan die Speaker voorlê vir “goedkeuring” (dít is ’n afsonderlike bespreking op sy eie) en dat die getal vrae aan die President beperk is tot ses vrae per dag waarop vrae beantwoord word.
Hieruit kan dit afgelei word dat die reëls met betrekking tot mondelinge vrae aan die President heeltemal onvoldoende is indien dit aan grondwetlike vereistes gemeet word.
Artikel 1 van die Grondwet stel ’n veelparty-stelsel van demokratiese regering daar wat tot verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid moet aanleiding gee. Dit beteken in beginsel dat die Grondwet, sy amptenare en instellings in staat moet wees om hul besluite, optrede en wette aan die mense te verduidelik en regverdig; om mense te antwoord en vir hulle toeganklik moet wees; en om hul bedrywighede op ’n oop en deursigtige wyse uit te voer.
Daarbenewens bepaal artikel 42(3) dat die Nasionale Vergadering optrede van die uitvoerende gesag na moet gaan en daaroor toesig moet uitoefen en moet, kragtens artikel 55(2)(a), “verseker dat alle uitvoerende staatsorgane in die nasionale regeringsfeer aan hom verantwoording doen.” Die Nasionale Vergadering moet ook, kragtens 55(2)(b), toesig hou oor “die uitoefening van die nasionale uitvoerende gesag, met inbegrip van die uitvoering van wetgewing en enige staatsorgaan.”
Daarbenewens bepaal artikels 92(2) en (3) dat lede van die Kabinet (bestaande uit die President as hoof van die Kabinet, ’n adjunkpresident en Ministers) “gesamentlik en afsonderlik teenoor die Parlement aanspreeklik is vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies.” Gevolglik moet lede van die Kabinet “die Parlement voorsien van volledige en gereelde verslae oor aangeleenthede onder hulle beheer”.
Artikel 57 van die Grondwet bemagtig die Nasionale Vergadering om sy eie interne reëlings, verrigtinge, prosedures, reëls en orders wat met sy werksaamhede verband hou, te bepaal en beheer. Die Konstitusionele Hof het in Oriani-Ambrosini v Sisulu bevind dat artikel 57 só uitgelê moet word dat die Nasionale Vergadering nie by magte is om substantiewe of inhoud-gebaseerde beperkings op die grondwetlike pligte of magte van sy lede toe te pas nie, maar om ten minste reëls te aanvaar wat prosedureel van aard is. Dit beteken dat die Reëls, met inagneming van grondwetlike waardes, magte en verantwoordelikhede, voorsiening moet maak vir ’n doeltreffende maatreël om toesig uit te oefen ten einde te verseker dat die President volledige en gereelde verslae by die Parlement indien oor aangeleenthede onder sy beheer.
Die Parlement verkondig met reg dat die ware toets van demokrasie die mate is waarin die Parlement kan verseker dat die regering verantwoordelik is teenoor die mense. Gevolglik verduidelik dit dat dit sy pligte is om onwettige of ongrondwetlike optrede deur die nasionale uitvoerende gesag te identifiseer en te voorkom; om die regte en vryhede van burgers te beskerm en om die regering verantwoordelik te hou vir die wyse waarop belastinggeld bestee word; en om te verseker dat werksaamhede deur die regering meer deursigtig is ten einde openbare vertroue in die Regering te verhoog. Ten opsigte van Nkandla en die ondersoek na onreëlmatige uitgawes betreffende die President se private woning alleen, blyk dit of die Parlement versuim om elkeen van sy verklaarde pligte na te kom.
In hul huidige vorm beperk die Reëls die Nasionale Vergadering – en veral opposisiepartye – om hul toesighoudende funksie doeltreffend uit te oefen, in plaas daarvan om voorsiening te maak vir ’n platform vir doeltreffende toesighouding van die nasionale uitvoerende gesag. Anders as wat die regerende party sou wou glo, het die Konstitusionele Hof in Oriani-Ambrosini daarop gelet dat hierdie toesighoudende verantwoordelikheid ’n gesamentlike verantwoordelikheid is van beide die meerderheids- en minderheidspartye en hul individuele lede om krities en ernstig te besin oor wetgewende voorstelle en ander aangeleenthede van nasionale belang.
Gevolglik moet die Reëls, ten einde gevolg te gee aan die letter en gees van die Grondwet, voorsiening daarvoor maak dat ’n behoorlike sitting vir vrae aan die President ten minste maandeliks geskied, indien nie twee keer per maand nie. Die Reëls moet ook voorsiening maak vir ’n vasgestelde aantal vrae betreffende enige onderwerp van Lede van die Nasionale Vergadering wat sonder kennisgewing aan die President in die Huis gerig kan word. Die Reëls moet ook voorsiening maak vir behoorlike interpellasie en aanvullende vrae.
Intussen sal die lede wat die EVV in die Nasionale Vergadering verteenwoordig, hul skorsing uit die Huis omdat hulle die President luidkeels, te aanhoudend en miskien te skerp ondervra het, in die Hoë Hof beveg. Terselfdertyd moet die President steeds ’n toenemende aantal vrae beantwoord wat die verteenwoordigers van die kiesers aan hom in die Parlement wil stel – wat ongetwyfeld hul reg is kragtens die Grondwet.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Vir kommentaar oor verklaring:
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: tjkruger@cfcr.org.za
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND