In 2008 het die ANC ‘n Onteieningswetsontwerp ingestel wat duidelik probeer het om die grondwetlike vereiste dat die howe op die vergoedingsbedrag vir onteiende eiendom moet besluit, te omseil. Die Wetsontwerp het sulke heftige teenstand gekry van beleggers en NROs dat President Mbeki dit stil-stil onttrek het. Sy optrede het ooreengestem met die ANC se benadering dat dit net so vinnig met die agenda van die NDR kon voortgaan as wat die ontwikkelende balans van magte dit sou toelaat.
Die ANC se benadering tot eiendom is voorts toegelig in die Groenskrif op Grondhervorming van 2011, waarvolgens “[a]lle anti-koloniale stryde in wese oor twee dinge gaan: die herinbesitneming van grond wat deur geweld of bedrog verloor is; en die herstel van die sentraliteit van die inheemse kultuur.” Dit omskryf die transformasie van landbou as “’n fundamentele verandering in die verhoudings (stelsels en patrone van eienaarskap en beheer) van grond, vee, gewasse en gemeenskap.” Dit het verklaar dat private eienaarskap van grond van ‘n “beperkte” aard sal wees en dat buitelandse eienaarskap sorgwekkend sal wees en huurpag sal beperk.
Teen Maart 2012 het die ANC besluit dat die balans van magte genoeg geskuif het om voort te gaan met waarna dit verwys as “die inwerkingstelling van die radikale tweede fase” van die NDR. Volgens die ANC se beleidshoof, Jeff Radebe, het “ons eerste oorgang ‘n raamwerk en ‘n nasionale konsensus vergestalt het wat toepaslik was vir politieke bevryding – ‘n politieke oorgang – maar wat onvoldoende en onvanpas is vir ons maatskaplike en ekonomiese transformasie-fase.” Later het President Zuma daarop gewys dat “ons in 1994 sekere kompromieë aangegaan het wat in nasionale belang was…Ons moes versigtig wees oor die herstrukturering van die ekonomie ten einde ekonomiese stabiliteit op daardie tydstip te handhaaf.” In Julie 2015 het Adjunkpresident Cyril Ramaphosa verklaar dat “die ekonomiese transformasie wat ons onderneem ten doel het om die struktuur van die ekonomie en patrone van eienaarskap fundamenteel te verander.”
Teen 2015 was die tyd reg om ‘n nuwe Onteieningswetsontwerp in te stel as die middelpunt in ‘n reeks wetgewing wat eiendomsregte beperk. Met eerste oogopslag wou dit blyk om ‘n verbetering op sy voorganger te wees: dit aanvaar dat die howe moet besluit op vergoeding vir onteiende grond en het ook voorsiening gemaak vir onderhandelings tussen die onteieningsgesag en eienaars voor onteiening plaasvind.
Die ANC se bekendstelling op ‘m laat stadium van ‘n nuwe definisie dat onteiening “die verkryging” (en nie die verpligte aankoop) van eiendom is – het kommer geopper dat dit steeds ten doel het om die gebalanseerde benadering tot onteiening soos deur die Grondwet vereis, te omseil. Nadat die staat verklaar is as die “bewaarder” van alle landbougrond in die raamwerkwetsontwerp op die ontwikkeling van landbougrond, blyk dit of die ANC die weg baan na die verkryging van grond (en ander eiendom) nie vir sy eie besit nie – maar as “bewaarder” namens ander Suid-Afrikaanse burgers. Die Konstitusionele Hof het in 2013 in Agri South Africa vs The Minister of Mineral and Energy Affairs beslis dat in sodanige omstandighede vergoeding moontlik nie betaalbaar is nie – alhoewel die Hof dit duidelik gemaak het dat sy uitspraak van toepassing is slegs op die spesiale omstandighede van die saak wat voor dit gedien het.
Die Wetsontwerp maak voorsiening vir onteiening vir ‘n “openbare doel”. Die konsep van “openbare doel” is goed gevestig en sluit onteiening vir sodanige doelwitte in soos die bou van paaie of damme. Die konsep van die “openbare doel” is egter vaag en die Wetsontwerp haal eenvoudig die Grondwet aan dat die “openbare doel” die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike bronne te verseker…”, insluit.
Objektief gesproke is eiendomsregte duidelik in “openbare belang” aangesien hulle ‘n sine qua non vir alle vry, voorspoedige en suksesvolle samelewings is. Indien die bepaling van openbare belang egter aan die regering oorgelaat word, kan dit gedefinieer word as enige iets wat die ANC se ideologiese en politieke doelwitte pas, sonder enige objektiewe toets. Dit kan die weg baan na arbitrêre ontneming van eiendom – wat duidelik in artikel 25(1) van die Grondwet verbied word.
Daar is ook ‘n baie breë definisie van eiendom in die Wetsontwerp wat eenvoudig die Grondwet aanhaal as “eiendom wat nie beperk is tot grond nie”. “Eiendom” kan dus enige eiendom behels – met inbegrip van private huise, besittings, aandele en intellektuele eiendom.
Daar is ook geen definisie van “grondhervorming” nie. Grondhervorming kan wissel van onteiening van alle grond wat aan private persone behoort – tot ‘n proses wat grond toeganklik sal maak aan enige iemand wat wil boer in samewerking met ‘n kommersiële landbousektor in private besit. Afhangend van die definisie, kan grondhervorming die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners uitbrei – of dit kan daarop neerkom dat alle grond onder die bewaring van die staat geplaas word (wat vermoedelik die ANC/SAKP se doelwit is).
Suid-Afrika het ‘n nuwe onteieningswet nodig wat in ooreenstemming is met die Grondwet en wat ‘n billike balans weerspieël tussen die behoefte aan grondhervorming en die regte van eiendomseienaars. Soos dit nou is, skep die Wetsontwerp se vaagheid byna onbeperkte moontlikhede vir arbitrêre ontneming van eiendom.
Die oorsprong, bedoelings en gevolge van die Onteieningswetsontwerp is egter glad nie vaag nie:
- sy oorsprong is diep gewortel in die radikale agenda van die ANC se NDR-ideologie;
- sy voorneme, tesame met ander wetgewing wat eiendomsregte raak, is – in die woorde van Adjunkpresident Ramaphosa – om “die struktuur van die ekonomie en patrone van eienaarskap fundamenteel te verander”; en
- sy gevolge sal katastrofies wees:
- dit sal lei tot ‘n afgradering deur die graderingsagentskappe;
- dit sal buitelandse en plaaslike belegging ernstig ontmoedig;
- dit sal die Nasionale Ontwikkelingsplan finaal kelder;
- dit sal Suid-Afrika se vermoë ondermyn om voedsel te lewer;
- dit sal reuse geleenthede vir korrupsie skep; en
- dit sal rasseverdelings verdiep.
Ons stem saam met die Instituut vir Rasseverhoudings dat daar geen onteiening moet wees sonder ‘n voorafgaande hofbevel nie. Ons het ook ‘n versoekskrif aan President Zuma gerig om die Wetsontwerp terug te verwys na die Nasionale Vergadering of na die Konstitusionele Hof om oor die grondwetlikheid daarvan te beslis.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: www.sabc.co.za
THE ORIGINS, INTENTIONS AND CONSEQUENCES OF THE EXPROPRIATION BILL