Die eerste belangrike kwessie is die bedoeling van die verklaring – om meer sekerheid te gee oor die ANC se siening van artikel 25 en die wysiging daarvan. Dit kon vir die ANC-ondersteuners en op filosofiese vlak gedoen gewees het, maar vir ander Suid-Afrikaners en veral sakemense, boere en grondeienaars het dit nog meer vrae geopper. In die verklaring is daar niks nuuts nie, afgesien van die vae kommentaar dat die ANC “deur die parlementêre proses ‘n voorgestelde wysiging van die Grondwet sal finaliseer wat die voorwaardes waaronder grond sonder vergoeding uitgevoer kan word”. Dit bied nie meer duidelikheid vir daardie persone en die vier presidensiële gesante wat beleggings van miljarde dollar vir die land soek nie.

Tweedens beteken dit nie dat die verklaring presies in ooreenstemming is met die Nasrec-besluit van Desember 2017 nie. Die Nasrec-resolusie het vier kwalifiseerders gehad vir die inwerkingstelling van onteiening sonder vergoeding (OSV) – dit moenie landbouproduksie, voedselproduksie, belegging in die ekonomie en ander sektore van die ekonomie skaad nie. Die verklaring van 31 Julie bied geen kwalifiseerder nie, maar wel ‘n paar doelwitte. Die wysiging om OSV toe te laat moet “herstel en ekonomiese ontwikkeling bevorder en landbouproduksie en voedselsekerheid verhoog”. Herstel is ‘n nuwe, nie verrassende toevoeging. Die ironie is dat artikel 25 reeds duidelike voorsiening hiervoor maak, kan nie ontken word nie. Die probleem is dat hierdie doelwitte vaag is en die bepaling van OSV uit die hande van die belanghebbendes neem, wie veronderstel is om die ekonomie te dryf. Die skade wat volgens die Nasrec-resolusie vermy moet word, was ‘n toets wat by die beleggers, boere en eienaars van eiendom sou berus het. Dit word nou buite berekening gelaat, aangesien die nuwe doelwitte binne die bestek van party-politieke beloftes en retoriek val. Dit is slegte nuus vir die ekonomie en die land.

‘n Derde kwessie is die vraag oor of die besonderhede wat volgens die President in artikel 25 vervat sou word, in die Grondwet hoort. Die Grondwet het nie ten doel om ‘n gewone wet te wees met verskeie stipulasies en baie besonderhede nie. Dit moet deur wetgewing uitgevoer word, net soos wat die voorneme van artikel 25 is wanneer dit verklaar dat die staat wetgewing moet aanvaar wat grondhervorming sal uitvoer. Dit sou baie beter wees om die besonderhede in ‘n nuwe Onteieningswet te vervat, eerder as om artikel 25 te wysig.

Vierdens is die wyse waarop die verklaring die Grondwet uitlê, ‘n groot bron van kommer. “Die ANC herbevestig sy posisie dat die Grondwet ‘n mandaat is vir radikale transformasie van beide die samelewing en die ekonomie”. Dit is onmiskenbaar dat die Grondwet ‘n transformatiewe benadering het, maar om dit te interpreteer om ‘n politieke party se ideologie vir rasgebaseerde sosio-ekonomiese transformasie te steun en dit selfs as mandaat te stel, gaan te ver. Ironies genoeg wil die ANC duidelik die Grondwet meer in ooreenstemming bring met sy eie ideologie, deur ‘n artikel te wysig wat bestaande eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners beskerm. Hulle is klaarblyklik nie tevrede met die “mandaat” nie, maar wil dit selfs verder radikaliseer.

Die vyfde kwessie is, indien ‘n wysiging OSV moontlik maak, wat kan die uitwerking en gevolge daarvan wees? Artikel 36 maak dit verpligtend vir enige wet om vir almal te geld. Dit beteken dat die staat nie ‘n wet kan instel wat byvoorbeeld slegs op mense met blou oë van toepassing is wat verklaar dat hulle nie motors mag bestuur nie. Sodanige wet sal nie ‘n algemeen geldende regsvoorskrif wees nie, en sal dus ongrondwetlik wees. Gevolglik sal wysigings aan artikel 25 – gebaseer op die mening van die mense dat die Grondwet “duideliker” moet wees oor OSV – in stryd wees met artikel 36 indien dit slegs sekere groepe mense (soos wit Suid-Afrikaners) teiken – en sal dit dus ongrondwetlik wees. Daarbenewens, indien die wysigings van so aard sou wees dat OSV toegelaat word en dat die toesighouding van die howe ten opsigte van wat “regverdige en billike” vergoeding is, heeltemal geskrap sou word, dit teen die beginsel van die Oppergesag van die Reg sou wees, die hoeksteen van ons Grondwet. En ironies genoeg het President Ramaphosa dit ook bevestig dat dit ‘n “behoorlike uitleg” van die huidige Grondwet is. Daar moet ook op gewys word dat “regverdige en billike” vergoeding ‘n universeel aanvaarbare regs- en morele beginsel is. ‘n Verandering aan artikel 25 wat die Oppergesag van die Reg raak, het ‘n 75% meerderheid nodig, volgens artikel 74(1) van die Grondwet. Hierdie kwessies sal in gedagte gehou moet word deur die regerende party wat hul benadering tot die wysiging van artikel 25 betref.

In die sesde plek is die konsep van die OSV ‘n drastiese afwyking van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) – waarvan President Ramaphosa die ondervoorsitter was.Die NOP neem kennis van die dubbele doel van die eiendomsklousule; verhoed die beslaglegging van eiendom sonder regverdige vergoeding, terwyl dit ook ‘n morele grondslag lê vir herstelmaatreëls, met inbegrip van grondhervorming. Daar was voorheen ‘n breë konsensus regoor politieke lyne betreffende die NOP as bloudruk vir Suid-Afrika se gedeelde toekoms. Hierdie afwyking van die NOP suggereer ‘n regerende party wat sy dominante posisie misbruik, ten spyte van ‘n veelparty demokrasie wat ‘n kenmerk van Suid-Afrika se grondliggende waardes is. Meer belangrik, die NOP stel teikens daar vir grondherverdeling, asook konkrete maatreëls om grondherverdeling te verwesenlik. Sodanige maatreëls sluit in die identifisering van oordraagbare plase, en begunstigdes – op distrikvlak, met die fasilitering van distrikskomitees oor grondhervomring. Hierdie aanbevelings van die NOP is nooit in werking gestel nie.

Die verwatering van eiendomsregte is nie goed vir die land of sy ekonomiese groei nie. ‘n Onmiddellike gevolg van die resolusie om die Grondwet te wysig is ‘n toename in onwettige grondbesettings – waarvan baie gelei tot gewelddadige gevegte tussen groepe met mededingende belange oor dieselfde stuk grond. Sodanige besettings het duidelike gevolge vir landbougrond waar gewasproduksie bedreig word, wat weer ernstige gevolge vir Suid-Afrika se voedselsekerheid kan inhou. In elk geval word beleggers gelok deur beide stabiliteit en sekerheid in ‘n land se beleid – sleutelkenmerke wat in President Ramaphosa se aankondiging ontbreek. ‘n Vinnige lees van die ANC se posisie oor OSV onthul teenstrydiggede en ondeursigtigheid. Vergelyk die ANC se tweedaagse spitsberaad oor grond in Mei, waartydens die party onderneem het om nie die Grondwet te wysig nie, met dié van die President se laatnag aankondiging. Gegewe hierdie patroon – hoeveel vertroue kan in die ANC geplaas word om die land hierdeur te lei?

Laastens, soos so baie kommentators reeds gesê het, is daar geen bewys of selfs ‘n aanduiding is dat die gebrek aan voldoende grondhervorming sedert 1994 te wyte is aan artikel 25 nie. In teendeel, daar is gewys (onder andere deur Motlanthe se Hoëvlak-paneel wat deur die Parlement se Speakerforum ingestel is) dat die probleem lê by die regering se vermoë, ‘n gebrek aan wetgewende raamwerk en die gebrek aan politieke wilskrag. Die vraag is: het die verslag van die Hoëvlak-paneel nou ‘n stille dood gesterf, of sou dit ook in ag geneem word wanneer die Grondwetlike Hersieningskomitees sy eie verslag finaliseer?

Die wysiging van artikel 25 sal nie lei tot behoorlike grondhervorming nie, maar sal al die negatiewe gevolge inhou waarteen daar gewaarsku is in die ANC se Nasrec-resolusie: skade aan landbouproduksie, skade aan voedselsekerheid, skade aan ander sektore van die ekonomie en skade aan internasionale en plaaslike beleggings. Soos die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, dit so mooi oor die naweek gestel: “Ons sal nog die dag berou (en dit was verlede Dinsdag) toe ons populisme bo die Oppergesag van die Reg gekies het.

Theuns Eloff, Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting; en Phephelaphi Dube, Direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte
8 Augustus 2018

Leave a Reply

Your email address will not be published.