Die tabel hieronder gee die grondoppervlak van SA, asook die grootte van landbougrond en bewerkbare (“arable”) grond. Dit wys ook dat amper 50% van SA as woestyn (minder as 200m reën per jaar) of baie droog (minder as 400mm per jaar) beskou word.
SUID-AFRIKA | |
Totale grondoppervlak | 122 miljoen hektaar |
Potensiële landbougrond | 97 miljoen hektaar (Wêreldbank) |
Bewerkbare en verboubare landbougrond | 12.5 miljoen hektaar (Wêreldbank) |
Deel van landbougrond as woestyn beskryf | 27.8 miljoen hektaar (22.7%) |
Deel van landbougrond as droog beskryf | 30.0 miljoen hektaar (24,5%) |
In Rapport was daar Sondag twee artikels oor landbougrond. Die eerste het aangedui dat volgens die jongste navorsing op landbou.com daar die afgelope 20 jaar baie meer kommersiële grondtransaksies plaasgevind het as waarvan die President ons vertel en dat swart boere nou 34.5% (33.5 miljoen hektaar) van alle beskikbare landbougrond (insluitende kommunale grond) besit, teenoor wit boere se 65.5%. Die tweede het ‘n hele aantal suksesverhale van vennootskappe tussen wit en swart boere en laasgenoemde se sukses in die kommersiële sektor beskryf.
Volgens lanbou.com se navorsing is daar in vyf provinsies swart mense wat 40% en meer van die landbougrond besit, wat aandui dat kopers verkies om grond op sekere plekke te koop waar dit makliker is om te boer. Om hierdie prentjie verder te ontwikkel: die Noordkaap (meestal woestyn, droog en nie grond wat maklik kommersieel geboer kan word nie) is 37.2 miljoen hektaar groot. Indien hierdie getal van die totaal van 97 miljoen hektaar afgetrek word, dan is die grootte van landbougrond in Suid-Afrika 59.8 miljoen hektaar. As mens ook die hoeveelheid grond wat swart mense volgens landbou.com in die Noordkaap besit (2.1 miljoen hektaar), aftrek van die totale besit van swart mense van landbougrond van 33.5 miljoen hektaar, dan besit swart mense 31.4 miljoen hektaar van die landbougrond in SA. Dit gee ‘n persentasie van 52.5%. Heelwat meer as die misleidende 9.8% van die president. Selfs sonder om die Noordkaap uit die landbougrondprentjie te haal, is die persentasie landbougrond wat deur swart mense besit word, reeds 34.5%.
Maar daar is ‘n ander, en groter probleem. Die ideologiese slagspreuk dat grond welvaart is, tesame met die opvatting dat daar ‘n landbougrond-honger is, veroorsaak dat die debat hoofsaaklik oor landbougrond gaan. Maar dis nie waar die “grondhonger” lê nie. Dit word beraam dat SA nou ongeveer 65% verstedelik is. Twee uit drie Suid-Afrikaners woon in stede. Die Centre for Development and Enterprise het in die laat negentigs ‘n peiling van 4000 Suid-Afrikaners onder alle rasse en samelewingsvlakke gedoen en dit het gewys dat net 6% van respondente nou of eendag sou wou boer. Dis te betwyfel of hierdie statistiek vandag anders sal lyk. President Zuma het self gekla dat 90% van grondeisers eerder die kontant gevat het as die grond. Trouens, met die huidige moeilike boerdery-omstandighede sal die aantal mense wat wil boer eerder laer wees. Om in Suid-Afrika te boer, is nie maklik nie. Dit neem meestal lank om winsgewend te word en groot kapitaalbedrae is nodig om te begin. ‘n Bestaansboerdery mag dalk ‘n ander saak wees, maar as dit die norm word, is voedselsekerheid daarmee heen.
Die punt is: grondhonger vir landbougrond as groot emosionele kwessie is ‘n mite. Die ware grondhonger is vir grond om ‘n eie huis op te bou en ‘n woonplek te maak. Die miljoene mense wat in informele nedersettings rondom ons stede bly, is genoeg bewys daarvan. En die feit dat hierdie Suid-Afrikaners nie ‘n titelakte het vir die grond waarop hulle woon nie, kan nie in die eerste plek voor die deur van wit monopoliekapitaal of die boeregemeenskap gelê word nie, maar moet vierkantig op die regering se eie skouers geplaas word. Die grond wat hiervoor die mees geskikte is, is munisipale grond rondom dorpe en stede. Dis die regering wat meer as 20 jaar hiermee gesloer het. Gelukkig lyk dit of sommige DA-beheerde stadsrade nou met hierdie proses ‘n begin maak.
Dis gevaarlik en onverantwoordelik om die honger-na-landbougrond mitemonster te voed. Hoekom dit gedoen word, wissel van onkunde, tot ‘n gebrek aan belangsetlling vir feite wat nie met my ideologie strook nie of gewone leuens omdat dit vir my stemme sal bring. Maar dis nie op feite gegrond nie en voed ’n gevaarlike persepsie oor landbougrond.
Natuurlik moet verder gevorder word met grondhervorming in terme van landbougrond. Artikel 25(2) van die Grondwet bevat twee kernsake, naamlik die beskerming van privaat eiendomsreg en die noodsaaklikheid van grondwetlik gebaseerde grondhervorming. Daar is baie gewilligheid onder boere en die georganiseede landbou om grondhervorming op ‘n volhoubare manier verder te neem. Maar dan moet twee sake dringend aandag kry: ‘n ordentlike grondoudit moet gedoen en gepubliseer word – en deur gesprek moet die regering oortuig word om dit as basis vir beleidsontwikkeling te aanvaar. Tweedens sal dit baie help om die mitemonster dood te maak as ‘n gesaghebbende agentskap weer vir Suid-Afrikaners vra: wil jy boer of wil jy ‘n huis bou?
Deur Theuns Eloff: uitvoerende direkteur, FW de Klerk Stigting