+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Dit wil inderdaad voorkom of dit wit Suid-Afrikaners ontneem van hul grondwetlike reg om baie aspekte van hul kultuur te geniet en opper ernstige vrae betreffende Suid-Afrika se toekoms as ‘n samelewing wat die diversiteit van al sy gemeenskappe eer. Soos Regters Cameron en Froneman op wys in hul minderheidsuitspraak, is die gevolg van die eerste uitspraak dat enige steun deur wit Suid-Afrikaners, veral wit Afrikaners, op ‘n kulturele tradisie verskans in die geskiedenis, nie erkenning in die Grondwet geniet nie, omdat daardie geskiedenis op onderdrukking geskoei is.

Die saak spruit uit AfriForum se besluit om die besluit uit te daag om Pretoria se straatname – geskoei op Afrikaner-geskiedenis – te vervang met die name van ANC-helde uit die bevrydingstryd. AfriForum het ‘n tussentydse hofbevel bekom om die Stadsraad te verbied om die straatname te verander totdat dit behoorlik oorleg gepleeg het, en hangende die uitslag van ‘n hersiening deur die hof. Die tussentydse bevel is toe verwys na ‘n volbank van die Hoë Hof. Die volbank het die tussentydse bevel gehandhaaf omdat appèlaansoeke teen tussentydse bevele nie oor die algemeen toegestaan word nie, en omdat Afriforum se argument dat die Stad versuim het om ‘n behoorlike openbare deelname-proses te volg, onaantasbaar is.

Die volbank het die Stad verlof tot appèl geweier, waarna die Stad die Konstitusionele Hof direk genader het.

Die Konstitusionele Hof het die reg van die Stad om appèl aan te teken, gehandhaaf, en sodoende – volgens Regters Froneman en Cameron – goed gevestigde en sinvolle reëls vir appèlaansoeke teen tussentydse interdikte, verswak.

Deur sy hantering van die vraag oor die herbenoeming van strate het die Konstitusionele Hof ten gunste van die bevrydingskant van die Suid-Afrikaanse geskiedenis beslis. Dit het verklaar dat Suid-Afrika “letterlik die laaste Afrika-land was om van die stelsel bevry te word wat niks fout gevind het met die geïnstitusionaliseerde onderdrukking van een rassegroep deur ‘n ander om geen ander rede as die kleur van hul vel, die vorm van hul neus en die lengte of tekstuur van hul hare nie.”

“Feitlik alle erkenning en eer is dus onderskeidelik gegee en toegeken aan wit geskiedenis en hul helde en heldinne. Die stelsel het die verskansing van wit heerskappy en voorregte en swart minderwaardigheid en benadeling behels. Geen wonder die Verenigde Nasies het beslis dat die stelsel ‘n misdaad teen die mensdom was nie.”

Nadat dit die behoefte om wit en swart Suid-Afrikaners te respekteer wat ‘n belangrike rol gespeel het om Suid-Afrika te bou en ontwikkel, het die meerderheidsbeslissing presies die teenoorgestelde gedoen. Dit het verklaar dat die gevolge van die stelsel van rasse-, etniese en stam-stratifikasie van die verlede dus permanent vernietig en begrawe moet word”. Dit het bygevoeg dat dit deels verwesenlik kan word deur name van ons stede, dorpe, “dorpies”, strate, parke, wildtuine en instellings te verwyder wat elemente van ons verlede verteenwoordig wat hartseer by ander rassegroepe veroorsaak of wat hul wonde wat kwansuis genees het, weer oop te krap. “Selfs ‘n paar onskadelike name wat erkenning verleen slegs aan die geskiedenis, taal, kultuur of mense van een ras” moet verwyder word “sodat dit plek kan maak vir die erfenis en verdienstelike helde en heldinne van diegene wat voorheen uitgesluit is.”

Die meerderheid regters het voorts verklaar dat “alle vredeliewende Suid-Afrikaners ten gunste van versoening, wie se uitkyk op die wêreld geïnspireer is deur ons grondwetlike visie, die Afrika-filosofie van ubuntu moet aanvaar.” “Die Afrika-uitkyk op die wêreld dat jy slegs heel is wanneer ander waardeer word, geakkommodeer word en respekteer word, moet ook voorkeur geniet in ons benadering en houding tot alle belangrike aangeleenthede in hierdie land, met inbegrip van naamsveranderings.”

Waar die menings van die meerderheid regters oor die kulturele erfenis van wit Suid-Afrikaners, volgens Regters Froneman en Cameron, implisiet is, is dié van Regter Jafta, in sy aparte beslissing, onomwonde eksplisiet: “Hoe”, vra hy, kan die “daar van die onteenseglik transformerende Grondwet verwag word om kulturele tradisies wat gewortel is in die rassistiese verlede, te erken? Die antwoord moet wees, indien daar sodanige verwagting is, dat dit misplaas is.”

Hy het bygevoeg dat “rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies geen plek het in ons grondwetlike bestel nie, alhoewel dit in die verlede bestaan. In teenstelling hiermee hoort sodanige tradisies in die asblikke van die verlede waar hulle begrawe behoort te word.” “Dit”, het hy afgesluit, “is ‘n duidelike aanduiding dat enige aanspraak op die genot van kultuur nie ‘n reg op rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies van die koloniale en apartheidsera mag insluit nie.”

Nadat hulle AfriForum met reg aangevat het oor die verwysing na die “sogenaamde ongeregtighede van apartheid”, het Regters Froneman en Cameron gevra wat die meerderheidbeslissing in praktiese terme beteken. “Behels dit dat, as ‘n algemene stelling, wit Afrikaners en wit Suid-Afrikaners geen kulturele regte het wat voor 1994 dateer nie, tensy hulle kan bewys dat dit nie op onderdrukking gegrond is nie?” Met verwysing na die “vele kulturele, godsdienstige of verbandhoudende organisasies wat spruit uit ons verdeelde en onderdrukkende verlede, het Froneman en Cameron gevra of hulle “nou almal grondwetlike uitgewekenes is, bloot weens ‘n geskiedenis wat besmet is deur bloedvergieting of rassisme?”

Die uitspraak het ander baie ontstellende implikasies. Beteken dit dat die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners niks meer is as ‘n een-dimensionele litanie van onderdrukking nie? Was daar niks sedert 1652 wat herdenking en viering regverdig nie? Wat van die Anglo-Boereoorlog – die grootste anti-koloniale stryd wat ooit deur Afrikane gevoer is? Wat van figure soos Jan van Riebeeck, Wolraad Woltemade, Piet Retief, Jan Smuts en Louis Botha – moet hulle slegs deur ‘n prisma van onderdrukking/bevryding beskou word?

Wat beteken die uitspraak vir die grondliggende reg van wit Suid-Afrikaners op menswaardigheid – waaraan hul kulturele en historiese identiteite onlosmaaklik gekoppel is? Hoe kan aangevoer word dat hulle ‘n reg op gelykheid het indien hul geskiedenis hulle tot morele minderwaardigheid veroordeel? Moet hulle nou afsien van hul geskiedenis en “die Afrika-filosofie van ‘ubuntu’ aanvaar” en strewe om meer soos Bram Fischer en Beyers Naude te wees – die ‘goeie’ wit mense wat deur die meerderheid regters uitgewys is?

Soos hier bo genoem, moet daar met groot sensitiwiteit omgegaan word met die herbenoeming van strate en plekke. Swart Suid-Afrikaners moet voel dat hul geskiedenis en kulture ten volle verteenwoordig word in straat- en plekname. Dieselfde moet egter geld vir minderhede. Die Grondwet verklaar dat Suid-Afrika aan ons almal behoort, verenig in ons diversiteit.

Die Konstitusionele Hof is reg dat hierdie vrae benader moet word op die grondslag wat in die aanhef van ons Grondwet daargestel is, wat die ongeregtighede van die verlede erken, maar ook diegene respekteer wat gewerk het om die land te bou en ontwikkel. Die Hof het met reg verklaar dat “inklusiwiteit, eenheid in diversiteit, erkenning van die kultuur en geskiedenis van wit en swart Suid-Afrikaners en versoening ons gekose pad na die welvarende toekoms is” – en dat wat ubuntu betref, “jy slegs heel word wanneer ander waardeer, geakkommodeer en gerespekteer word.” Maar hoe kan hierdie eerbare sentimente versoen word met Regter Jafta se besluit om die meeste van die helde, tradisies en geskiedenis van minderhede na die “asblik van die verlede” te verdoem”?

Deur Dave Steward, Voorsitter van die FW de Klerk Stigting

Foto: www.iol.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.