Die president kan die letter van die Grondwet aanhaal en weier om die kommissie van ondersoek aan te stel, en die hof mag hom selfs gelyk gee. Maar dis vir alle regdenkende Suid-Afrikaners duidelik dat hy in hierdie opsig ten minste die gees van die Grondwet minag. As hy niks gehad om weg te steek nie, sou die aanstelling van so ‘n kommissie nie ‘n probleem gewees het nie. Dit sou – volgens sy eie verklaring – dan ook nodig gewees het om te bepaal dat dit aan die Parlement moet rapporteer en nie aan hom nie. Sy optrede in hierdie verband laat ‘n sterk vermoede dat hy hom en sy beweerde optrede as bokant die reg en die Grondwet beskou. Die feit dat die president hom nie – volgens alle protokol – van die NUK-vergadering verskoon het toe hy bespreek is nie – is ‘n verdere bewys van ‘n gebrek aan integriteit.
Die tweede onlangse ontwikkeling was die bevestiging van mnr Zuma se presidentskap van die land deur die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK). Dit is nou duidelik dat hy ANC president en landspresident sal bly tot Desember 2017. Maar uit die verklaring van Gwede Mantashe na die vergadering, is dit ook duidelik dat hy net tot dan president van die ANC sal bly en dat ‘n nuwe ANC-president in Desember 2017 verkies sal word. Die sogenaamde Putinopsie – waar hy ANC president bly en ‘n pion as landspresident aanstel – is dus uitgeskakel. Dis verder duidelik dat Zuma se teenstaanders sterk(er) en meer geword het, maar dat die momentum nog nie sterk genoeg is om hom vroegtydig uit die kussings te lig nie. Die feit dat daar besluit is om ‘n raadplegende konferensie teen einde Junie 2017 te hou, is insiggewend. Dit sal die druk op president Zuma en die fokus op die opvolgstryd lewendig hou.
Wat veral egter duidelik uit die Mantasheverklaring geword het, is dat eenheid in die ANC nou belangriker geag word as om Zuma vroeg te laat gaan. Soos gewoonlik, kaats die ANC interne konflik weg deur die aanslag van die ou eksterne vyande, “rassisme, etniese nasionalisme en monopolie kapitaal” as belangriker te beskou as die bedenklike aktiwiteite van sy leier. Dit sluit aan by Zuma se eie onlangse toesprake van die aanslae van buite en binne teen hom.
Met ‘n bietjie logika kan mens aflei wat die moontlike kompromieë of verstandhouding is wat tot die besluit van die NUK gelei het. Die eerste kompromie is waarskynlik dat mnr Zuma president van die land bly tot 2017. ‘n Tweede logiese een is dat die ontevredenes nie weer voor daardie tyd sal probeer om hom terug te roep nie. Aan die ander kant kan mens dink dat die president kon onderneem het om nie die rebelle uit sy kabinet te skop nie, en dat hy sal terugstaan as ANC president in Desember 2017. Of daar ‘n onderneming oor die Madonselverslag van mnr Zuma se kant was, is onwaarskynlik. Daar is op hierdie stadium blykbaar geen sprake van amnestie nie – nie soseer omdat dit nie ‘n moontlikheid is nie, maar omdat die Zumakamp nog te sterk en seker van hulle posisie voel. President Zuma se onlangse vertoning met vraetyd in die Parlement, waar hy amper minagtend teenoor sy teenstanders binne en buite die ANC was, getuig hiervan.
Dit laat ons met ‘n aantal faktore wat 2017 gaan beïnvloed.
Die aanloop tot die raadplegende konferensie aan die einde van Junie gaan die opvolgstryd vroeg in die kollig plaas. Hierin gaan die werf van ANC lede en die stig van takke ‘n belangrike rol speel. KwaZulu-Natal het reeds amper 30% van die stemme in die NUK en die ander premierliga provinsies wil dit verder vergroot.
Verder gaan die klem op die (oënskynlike) eenheid van die party geplaas word om te voorkom dat dit skeur, maar om terselfdertyd verdere optrede teen mnr Zuma te voorkom. Die feit dat die Madonselaverslag nou in die howe is, sal die implementering daarvan ten minste tydelik stop en ‘n ondersoek na die beweerde Zuma aktiwiteite onbepaald uitstel.
Wat die ekonomie betref, sal die klem moet val op groei bokant 1% noudat ons kredietstatus nie afgradeer is nie. Die vraag is of Pravin Gordhan sonder Zuma se politieke steun ‘n afgradering in 2017 kan voorkom. Die agentskappe en hulle kritiese oog gaan nie verdwyn nie.
En les bes, hang die moontlikheid van ‘n kabinetskommeling soos ‘n swaard oor alle kabinetslede wat openlik teen Zuma se voortgesette presidentskap gepraat het. Zuma is ‘n meesterstrateeg en dalk gaan ‘n paar ministers nie ‘n gemaklike Kersseisoen hê nie.
Deur dr Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
*Die artikel is oorspronklik op Netwerk24 gepubliseer