Die versuim om hierdie uitdaging aan te pak is aan die kern van feitlik al die konflikte in die wêreld.
Die situasie in die Oekraïne is baie ingewikkelder as die goeie ou/slegte-weergawe wat deur die media op ons afgedwing is. 77.5% van die bevolking is etniese Oekraïners en 17.2% is Russies. Baie van die Oekraïners praat egter Russies as eerste taal – so ten opsigte van taalverdeling kom dit op 67% Oekraïens en 30% Russies te staan. Die politieke verdeling stem ooreen met die tale wat gepraat word. In die verkiesing van 2010 het die noord-westelike deel van die land, wat oorwegend Oekraïens praat, vir Yulia Tymoshenko gestem, terwyl die Russiessprekende suid-ooste hul steun aan haar teenstander, Viktor Yanukovych, toegesê het. Yanukovych het die verkiesing, wat oor die algemeen as vry en regverdig beskou is, gewen. Tymoshenko het in die tronk beland.
Dinge het in Februarie kookpunt bereik toe Yanukovych ’n ooreenkoms met die EU afgekeur het en gekies het om nader aan die Russe te beweeg. In daaropvolgende geweldadige onluste, wat hoofsaaklik aangevuur is deur Oekraïnse sprekers wat die EU goedgesind is, is sy regering op ongrondwetlike wys omvergewerp. Hy is gedwing om na Rusland te vlug en sy weelderige presidensiële paleis en oorvloedige bewyse van korrupsie deur die staat agter te laat.
Een van die eerste dade van die nuwe Oekraïnse Parlement was om Russies as ’n streekstaal af te skaf. Alhoewel die maatreël gevolglik deur die waarnemende President geveto is, was dit ’n goeie aanduiding van die anti-Russiese gesindheid van die revolusionêres. Die Russe het vinnig teruggeslaan deur die Krim, wat hoofsaaklik deur etniese Russe bewoon word, en wat die strategiese Russiese vlootbasis van Sevastopol insluit, in wese in te val.
Dit het gelei tot teenbeskuldigings deur die Weste en die instelling van sanksies wat hoofsaaklik teen Russiese leiers gemik is. Sedertdien steun Rusland ongetwyfeld ’n Russiese inval in die suid-oostelike Oekraïne. 1 000 Russiese troepe is na bewering in die Oekraïne en nog meer is langs die grens. Europa kom te staan voor die ernstigste militêre konfrontasie sedert die einde van die Koue Oorlog.
Dít alles beklemtoon die behoefte aan die doeltreffende bestuur van etniese, godsdienstige en linguistiese diversiteit in ’n toenemend multikulturele wêreld. Meer as 75% van die wêreld se lande beskik oor minderhede wat meer as 10% van hul bevolkings uitmaak. Watter regte behoort hierdie minderhede te hê om hul tale te praat, hul kulture en godsdiens vrylik te beoefen en om hul eie kultuur- en taalaangeleenthede te bestuur?
Behoort minderhede wat duidelik die meerderheid in streke is, die reg hê om af te stig? Die antwoord blyk af te hang van politiese belang eerder as grondwetlike beginsel. Kosovo se afstigting van Serbië is gesteun deur die Weste – en teengestaan deur Rusland. Toe Abkhazië egter van Georgië geskei het, het die Russe sy reg om dit te doen, gesteun, terwyl die Weste dit teengestaan het.
Skotland is tans in die greep van ’n referendum oor of dit van die Verenigde Koninkryk moet afstig. Indien die meerderheid Skotte “ja” stem, sal die land onafhanklik raak. Indien Québec ooit stem om van Kanada af te stig, sal die mense se wens gerespekteer moet word. So waarom moet hierdie beginsel nie ook van toepassing wees op die Krim nie – of op streke in die suid-oostelike Oekraïne waar Russe duidelik die meerderheid uitmaak?
Trouens, meeste lande met etniese minderhede – met inbegrip van Rusland – is vasbeslote oor die behoud van hul territoriale integriteit. Die Verenigde State sal nie toelaat dat enige van sy state afstig nie – en sal ook nie die reg aanvaar van die Navajo-tuisland om onafhanklikheid te verkry nie. Kanada sal nie sy arktiese gebiede aan die Inuit afstaan nie, en Turkye sal beslis nie die afstigting van die Kurde aanvaar nie.
Ná ’n rampspoedige poging tot territoriale segregasie het Suid-Afrika in die vroeë 90’s aanvaar dat die vraag nie was oor hoe ons saam kan leef nie, maar oor hoe ons diverse gemeenskappe vreedsaam saam kan leef. Ons het onderhandel om ’n Grondwet wat amptelike status aan al ons tale verleen het en ons regte om ons kulture te geniet, ons godsdienste te beoefen en ons tale te gebruik, verseker het. Dit erken die reg op onderrig in die taal van jou keuse. Dit verklaar die gelykheid van alle Suid-Afrikaners en verbied diskriminasie op grond van ras, taal en etniese oorsprong. Die oorkoepelende waardes in artikel 1 van die Grondwet stel ’n gedeelde visie vir die toekoms daar.
Baie van hierdie bepalings word erodeer deur dit waarna die ANC verwys as die radikale inwerkingstelling van die tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Engels is besig om de facto in die enigste amptelike taal te verander; Afrikaanse onderrig verkeer onder druk in skole – en veral op universiteitsvlak; inheemse tale word nie ontwikkel nie; die staat diskrimineer op onregverdige wyse teen minderhede op grond van hul ras; en die vryheid van minderhede word oral beperk deur die instelling van demografiese verteenwoordiging.
Dít alles is deel van wat die ANC na verwys as die ‘Nasionale Vraagstuk’. In ’n beleidsdokument van 2005 let dit heel korrek daarop dat die nasionale vraagstuk regoor die wêreld, wat nog lank nie opgelos is nie, op ’n ondenkbaar barbaarse wyse kop uitsteek. Dit wys voorts daarop dat die les vir Suid-Afrika is dat ons nie durf om die nasionale vraagstuk in ons eie land te ignoreer nie. Dit som dan sy eie posisie saaklik op: “In die Suid-Afrikaanse konteks handel die nasionale vraagstuk nie hoofsaaklik oor die regte van minderhede of oor etnies gemotiveerde griewe nie (hierdie verklaring het nie ten doel om die belangrikheid van die regte van minderhede te onderskat nie). Dit handel inderwaarheid hoofsaaklik oor die bevryding van die mense van Afrika.”
Nadat Suid-Afrika op ’n goeie noot begin het, ignoreer ons duidelik – in die woorde van die ANC – toenemend die nasionale vraagstuk in ons eie land. Huidige ontwikkelings in die Oekraïne – en samelewings regoor die wêreld wat in konflik gedompel is – is ’n aanduiding van hoe onwys dit is om dit te ignoreer – en hoe noodsaaklik dit is om diversiteit te erken, te akkommodeer en te vier.
Deur Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: maistora / Foter / Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-NC-ND 2.0)