Daar was, te verstane, ‘n gesamentlike sug van verligting ná Moody’s se aankondiging – maar ook kommer dat Suid-Afrika steeds wag op die besluite van die ander twee agentskappe, Standard & Poor’s en Fitch – wat oor die algemeen strenger is met hul besluite as Moody’s.
Daar is ook ‘n algemene indruk dat die dreiging van ‘n afgradering gelei het tot ‘n nuutgevonde eenheid tussen die regering, arbeid en besigheid. Vermyding van die afgradering is, volgens die Adjunkpresident Ramaphosa, “’n groot sukses vir ons, wat wys wat ons kan bereik wanneer ons saam staan.”
Volgens die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, het ons “’n gemeenskaplike voorneme onder arbeid, besigheid en die regering dat ons nie afgradeer wil word nie en dat ons baie positiewe dinge oor onsself kan sê.” Op Maandag, 9 Mei het hy bygevoeg dat hy baie optimisties was dat “die Span Suid-Afrika-benadering een is wat ons tot die volgende twee graderingsagentskappe kan uitbrei…en spesifiek tot die skakeling tussen arbeid, die regering en besigheid.”
President Zuma het Maandagaand ook belowe dat besigheid en die regering daaraan sal werk “om onsekerheid betreffende beleid te verminder en om vertroue in die regering se vermoë te versterk om sy beloftes na te kom om groei te bevorder.”
Die President se versekering word verwelkom omdat die huidige bedreiging van ‘n afgradering juis veroorsaak is deur ernstige “onsekerheid” op verskeie belangrike gebiede van regeringsbeleid. Dit sluit in:
- Die toekoms van eiendomsregte ná die aanvaarding van die Wet op die Beskerming van Beleggings, die Onteieningswetsontwerp en die onsekerheid wat heers betreffende die regering se voornemens ten opsigte van grondhervorming.
- Twyfel oor die toekoms van die mynboubedryf wat veroorsaak is deur die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne (wat steeds in die pyplyn is nadat dit verlede jaar na die Parlement terug verwys is) en die nuwe eensydig ingestelde handves betreffende mynbou – ten opsigte waarvan mynmaatskappye ‘n swart eienaarskap van 26% moet handhaaf, ongeag die getal kere wat swart aandeelhouers hul aandele verkoop.
- Die vermoë van maatskappye om noodsaaklike bestuursvaardighede te behou na die dreigement van die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, om drakoniese strafmaatreëls in te stel op maatskappye wat versuim om aan die behaling van indiensnemingskwotas volgens ras te voldoen. Sy is veral bekommerd dat wit Suid-Afrikaners steeds 68.9% van top bestuur in die privaatsektor uitmaak (sonder om te noem dat wit mense ongeveer dieselfde persentasie uitmaak van die arbeidsmag wat oor grade beskik in die ouderdomsgroep 40 – 65, waaruit top bestuurders hoofsaaklik aangestel word).
- Wanbalanse in die arbeidsbeleid wat veroorsaak is deur COSATU se lidmaatskap van die regerende Alliansie en die sterk gesindheid teen die vryemarkstelsel van die kommunistiese leierskap van die meeste van die groot vakbonde.
Dit alles vind plaas teen die agtergrond van ‘n formidabele stryd om beheer van die ANC danksy indrukke dat president Zuma daarin geslaag het om die hoogste vlak van die staat te kaap. Dit sluit in belangrike staatsinstellings – soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die intelligensiedienste, die Valke en die SAUK – wat eens beskou is as komponente van die institusionele sterkte wat Moody’s so beïndruk het.
‘n Belangrike aspek van hierdie stryd is die voortgesette stryd tussen die President en die Minister van Finansies om beheer van finansiële beleid. Minister Gordhan veg moedig voort om vas te staan wat fiskale verantwoordelikheid betref – wat so noodsaaklik is vir toekomstige graderings – in die finansiële beleide van die staat en in belangrike staatskorporasies. Die President wil Minister Gordhan verhoed om sy planne vir die SAL en vir die bou van kernkragsentrales te kelder.
Dit is oorwegings soos hierdie – en veral die uitslag van die stryd tussen die President en die Minister van Finansies – wat toekomstige graderings sal bepaal.
Adjunkpresident Ramaphosa en Minister Gordhan is heeltemal reg om die belangrikheid te beklemtoon van nasionale eenheid wanneer Suid-Afrika se reuse ekonomiese uitdagings aangepak word. Dit is ook een van die hoofvereistes in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Maar hoe sal ons in staat wees om nasionale eenheid te handhaaf wanneer, ten opsigte van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), die ANC-regering daartoe verbind is om die ekonomiese rolle en posisie van minderhede drasties te beperk op grond van hul ras?
Die regering moet óf besluit op die werklike samewerking tussen alle rolspelers en gemeenskappe wat betrek word by die NOP en in die benadering wat nou deur Minister Gordhan en Adjunkpresident Ramaphosa aangevoer word – óf op die verdeling en ekonomiese ineenstorting wat onvermydelik op die inwerkingstelling van die NDR sal volg.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: ewn.co.za