Om die standunt oor OSV verder te vertroebel, het voorsitter Mantashe by die eerste nasionale dialoog gesê dat die voorwaardes oor OSV nie deel van die Nasrec-besluit was nie, maar slegs ‘n “waarskuwing” (“caution”). Daarteenoor het adjunkminister Jeremy Cronin (‘n selferkende kommunis) in ‘n vurige pleidooi by die dialoog aangevoer dat dit nie nodig óf wenslik is om artikel 25 te verander nie. Hy het die Nasrec-besluit as “a round peg in a square hole” beskryf, teenstrydig en daarom onuitvoerbaar. Selfs ‘n vorige leier van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola, het in sy spreekbeurt grootliks met Cronin saamgestem en daarteen gewaarsku om ‘n artikel van die Handves van Regte te verander. Terloops, Cronin se betoog was duidelik meer op sy eie kamerade in die ANC as die res van die gehoor gemik. Hy moes húlle oortuig.
Nie eers die Ramaphosa-ondersteuners praat dus uit een mond oor OSV nie. Hoekom huldig die ANC dan hierdie siening oor OSV? Is dit teen die EFF by die 2019-stembus gemik? Of is dit om die EFF nader te trek en só te verseker dat die ANC se steun nie verder daal nie? Die teenargument is dat die meerderheid ANC-ondersteuners oor korrupsie en staatskaping in 2016 van die stembus weggebly of vir ander partye gestem het, nie omdat die ANC nie radikaal genoeg oor grondhervorming was nie. Ander beskou OSV as ‘n noodwendige uitvloeisel van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie, radikale sosio-ekonomiese transformasie en ‘n poging om wit Suid-Afrikaners uit die land te dryf. Daar mag elemente hiervan waar wees, maar dit verklaar nie hoekom President Ramaphosa aan die een kant vir nuwe beleggings vra en aan die ander kant OSV najaag nie – dit maak gewoon nie ekonomiese sin nie. En dat die Nasrec-besluit belegging in die ekonomie as voorwaarde insluit, bevestig dit.
Dr Mathole Motshekga (‘n lid van die Grondwetlike Hersieningskomitee) se standpunt by die nasionale dialoog gee dalk ‘n ander antwoord. Voor 1994 het swart Suid-Afrikaners twee hoofprobleme gehad het: stemreg en ‘n gebrek aan grond. Stemreg is deur die 1994-skikking en die aanvaarde Grondwet reggestel. Maar die grondkwessie is nog nie reggestel nie, en moet dringend aandag kry. Dit sluit by Ramaphosa se “oersonde” aan. Hierdie regstelling moet deur OSV gebeur, asof daar nie ‘n artikel 25 in die grondwet is nie. Ander ANC-leiers praat ook soms asof die regering nie in artikel 25 ‘n opdrag kry om deur wetgewing en ander maatreëls billike grondhervorming te dryf nie. En die argument is dat iets anders – OSV – nou nodig is om dit te bereik.
Die verslag van die Hoëvlak Paneel onder leiding van voormalige President Kgalema Motlanthe lê die skuld vir die gebrek aan grondhervorming volledig voor die ANC-regering se deur. Die grondwetlike mandaat is nie nagekom nie. Die manier waarop die ANC nou op hierdie mislukking reageer, is om te maak asof artikel 25 van die Grondwet nie genoegsaam is om die grondprobleem op te los nie; trouens dit was nooit daar om die grondprobleem op te los nie. Meer dringende en drastiese maatreëls is nou nodig – OSV. Dit word polities die alfa en die omega – en die ANC plaas daardeur sy hele politieke koms op die spel. Swart Suid-Afrikaners gáán hulle grond terugkry – en gou ook.
Dis ‘n gevaarlike politieke spel. Om letterlik al jou eiers in die grondmandjie van OSV te sit terwyl die EFF oor jou skouer loer, kan baie negatiewe gevolge in 2019 hê. Veral as jy met amptenare in die verantwoordelike departement sit wat (volgens die Motlanthe-verslag) ten beste hoogs burokraties en ten slegste onbevoeg en selfs korrup is. Selfs OSV op groot skaal gaan nie gou en effektief gebeur nie. Die dilemma van die ANC en President Ramaphosa is dat hulle op die EFF-gemaakte tier geklim het en hom nou moet ry, sonder om af te val en opgevreet te word deur ontevrede kiesers wat die beloftes van vinnige grondherstel geglo het.
Die ander element van hierdie dilemma is die persepsies en vrese van die wit en veral die Afrikaanse gemeenskap. Hierdie groep sluit sakemense, georganiseerde landbou, aktivistiese organisasies en gewone sout-van-die-aarde-mense in. Hulle het die verkiesing van Ramaphosa as ANC-leier verwelkom en het saam gejuig toe hy as President van die land ingehuldig is. Hulle wil in Suid-Afrika bly, ‘n bydrae maak, kos produseer, werkgeleenthede skep, belê en die ekonomie laat groei. Dit kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat sonder hulle die groot ekonomiese herstel baie moeilik gaan wees (indien nie onmoontlik nie).
Hierdie groep Suid-Afrikaners hoor egter kommerwekkende en dubbelsinnige geluide van die ANC leierskap. Die “oersonde” van grondontneming moet reggestel word en die grond aan “ons mense” (lees swart Suid-Afrikaners) teruggegee word – sonder om die “ander” se titelaktes en harde werk op daardie grond te erken en te vergoed. Hulle hoor eintlik net “Zimbabwe”. En dan help die Ambrosini-aanhaling namens ‘n jonger Cyril Ramaphosa ook nie: dat wit mense se goed stadig van hulle weggevat gaan word, soos om die water in die padda se houer stadig maar seker te verhit, totdat die padda doodgaan. Omdat Ambrosini nie meer self gevra kan word nie, moet die President miskien eens en vir altyd self duidelikheid daaroor bring. Dit kan baie negatiwiteit uit die weg ruim.
Die persepsies oor OSV onder swart (ons gaan ons grond vinnig terugkry) en wit (ons grond gaan sonder vergoeding gevat word) is saam die dilemma vir die ANC leierskap. As hy die swart ondersteunersgroep in die steek laat, kan hy by die stembus swaarkry. As hy die wit groep laat skrik, sal die ekonomie wat die werkgeleenthede vir die swart meerderheid moet skep, nie van die grond af kom nie. Dis die dilemma: OSV kan die ANC tussen die twee stoele laat deurval.
Wat staan regdenkende en welmenende Suid-Afrikaners te doen? As ‘n mens saamstem dat grondhervorming (soos in artikel 25 vervat) noodsaaklik is vir groter gelykheid en geregtigheid, en dat OSV nie nodig of wenslik is nie, kan mens nie anders as om met die regering in gesprek te tree nie. Dit kan gebeur deur die parlementêre konsultasieproses of op sektorale vlak. Dit is uit die Motlanthe-verslag duidelik dat die eerste pogings om artikel 25 se mandaat uit te voer, misluk het. In belang van die land en al sy mense, is dit ons plig – en in ons belang – om te help dat dit die tweede keer meer geslaagd en volhoubaar is. En dit is in die ANC-regering se belang dat hy alle Suid-Afrikaners in hierdie opsig hóór. En dat die reaksie nie is soos wat ‘n swart advokaat by die nasionale dialoog gesê het nie – as sy wit kollegas aanbied om te help, word daar aan hulle gesê om lede van die ANC te word.
Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
*Eers op Netwerk24 gepubliseer