+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Minister Gordhan sê goeie wit én swart werknemers en bestuurders is deur staatskapers uit Eskom gedwing omdat hulle nie meer in daardie toksiese omgewing wou werk nie. Van hulle is landuit, omdat hulle kundigheid op ander plekke in die wêreld in hoë aanvraag is. Dis waar, maar staatskaping is nie grondprobleem van Eskom se bestuur en funksionering nie. Eskom sukkel al meer as die “verlore nege jare”…

Of dit nou Eskom, Life Esidimeni, gebrek aan grondhervorming, bankrot munisipaliteite of besoedeling in die Vaalrivier is, is die antwoord op die vraag hoekom dit gebeur het altyd: “ons het ‘n gebrek aan kapasiteit”. Anders gesê: “ons het nie die mense om die werk te doen en dit reg te doen nie”.

As mens dan die verdere vraag vra, naamlik hoekom het julle nie kapasiteit nie, is die antwoord òf ontwykend of hoogstens dat dit die gevolg van “staatskaping en korrupsie” is. Soms word Zuma se kaderontplooiing ook hierby gevoeg.  Maar Eskom se probleme het nie ses of sewe jaar gelede begin nie; net so min as wat die talle wanfunksionele munisipaliteite (70% sê party) oor staatskaping van die Zuptas in die toestand is waarin hulle is.

As gesoek word na die oorsake van ‘n “gebrek aan kapasiteit”, word rassetransformasie, soos toegepas in regstellende aksie, gelyke indiensneming (wat die afgelope tyd al meer ‘n perfekte oksimoron word) en Swart Ekonomiese Bemagtiging gerieflikheidshalwe vergeet. Dis wel bekend dat Eskom al jare spog dat hy dié voorloper is met rassetransformasie – dit is dus nie net die Zuptas wat Eskom op sy knieë gedwing het nie. Dis ook die talle onbekwames wat oor die afgelope twintig jaar aangestel is. Nie dat daar nie goeie en bekwame swart mense aangestel is nie, maar hulle was en is duidelik in die minderheid; en die meeste van hulle is as gevolg van staatskaping en ‘n wanfunksionele sisteem weg. Dieselfde is waar van talle munisipaliteite.

Die feit dat Eskom self – onder druk van die Departement van Arbeid – steeds volhou met planne dat wit ingenieurs nog verder verminder gaan word, lyk die prentjie na die ANC-regering wat die transformasieviool speel terwyl Eskom en Suid-Afrika se ligte niebrand nie!

Nee, kom ons sien die olifant in die kamer raak. Of liewer, kom ons erken openlik daar is ‘n ander olifant in die kamer as staatskaping. Dis die olifant van sleg toegepaste regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Dis die olifant wat gevoed word deur die ANC-regering se obsessie met ras, en die ideologie van rassetransformasie. Dis die olifant wat ‘n dieet van 80:9:9:2 gevoed word – alle staatsinstellings (en al hoe meer privaatsektorinstellings ook), moet in geheel en in elke klein onderafdeling, die nasionale rassedemografie van 80% Afrikane, 9% wit mense, 9% bruin mense en 2% Indiër weerspieël. En dit geld of daar nou kapasiteit is of nie. En die voer van die olifant word vererger deur die klaaglike mislukking van die land se onderwys- en opleidingstelsel. Daar kom gewoon nie genoeg goed gekwalifiseerde swart Suid-Afrikaners deur om al die poste te vul nie.

In dieselfde Rapport word Senzo Mchunu, ‘n Ramaphosa-vertroueling aangehaal: “Ons sal dit berou dat ons sommige van ons swart bestuurders as mense van uitstaande gehalte bestempel het. Wat in die meeste semistaatsinstellings gebeur het, is dat dié mense wat ons vertrou het, inderdaad swart bestuurders was, maar hulle was nutteloos. Hulle was uitstekend in mislukking en diefstal”. Harde woorde, maar uiteindelik iemand van binne die kraal wat die rasbeheptheid van die ANC regering ontmasker.

Daarby werk die 80:9:9:2 formule soos ‘n kwotastelsel: daar is hofuitsprake wat dit bevestig en Eskom se planne bewys dit ook. Die kwota van 9% moet bereik word, en daarom moet daar teen wil en dank van wit mense ontslae geraak word teen Maart 2020 – selfs al veroorsaak die gebrek aan bestuur, onderhoud en tegniese kennis dat Eskom die hele land en ekonomie in groot moeilikheid het. Rassetransformasie kom eerste!

Die stelsel sê: as jy nie ‘n swart persoon kry nie (of jy kry dit nie oor jou gesonde verstand om ‘n onbekwame of totaal onervare persoon aan te stel nie), laat die pos dan vakant… of stel maar ‘n ongeskikte en onbekwame een aan, dit gaan mos eintlik oor die regstelling eerder as die effektiewe werkverrigting en dienslewering.

Die berugte Renate Barnard-uitspraak van 2014 het, ten spyte van ‘n hoogs twyfelagtige uitkoms, het tog ‘n paar interessante waarskuwings oor regstellende aksie bevat:

Die volgende een is ‘n juweel: Die vereiste is dat die bevoordeeldes van regstellende aksie opgewasse vir hulle taak moet wees. Hulle moet toepaslik gekwalifiseerd wees sodat “doeltreffendheid en bevoegdheid nie op die altaar van regstellende aksie geoffer word nie”. En dit is presies wat in byna die hele staatsdiens gebeur het. Eskom, wat jare lank as dié trotse voorbeeld van rassetransformasie voorgehou is, het hulle doeltreffendheid en bevoegdheid op die altaar van rassetransformasie geoffer. Staatskaping het dit nie begin nie, maar net kom erger maak.

Natuurlik moet ons as ‘n land en nasie nou saamstaan om Eskom en ander staatsinstellings (insluitende wanfunksionele munisipaliteite) te help red. Solidariteit se kennisbank is ‘n uitstekende idee.

Maar die vraag moet gevra word: is dit nie tyd om regstellende aksie, gelyke indiensneming en swart ekonomiese bemagtiging in hulle rassegewade te stop nie? Kan die doeltreffendheid van die staat sulke rasbehepte en futiele maatreëls bekostig? Kan ons land bekostig om kundige mense uit minderheidsgroepe aan die buiteland of vroeë aftrede te verloor?

Mnr die President, ter wille van ons land en al sy mense, oorweeg dit asseblief sterk om ‘n einde te maak aan hierdie rasgegronde maatreëls? Die minderhede in die land wil graag help, hulle wil gestuur word, hulle wil dien… maar hulle word op grond van hulle velkleur as ongeskik en onbekwaam beskou. Hulle is te min om oor die mediumtermyn enige goed gekwalifiseerde swart Suid-Afrikaner uit ‘n pos te hou. Hulle kan tog nie, as minder as 20%  van die bevolking, ‘n bedreiging inhou nie? Gebruik hulle en bou een nasie. En dan sal die ligte weer aangaan!

*Eers op www.maroelamedia.co.za gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).