Die eerste – en positiefste – punt is dat die vyfde verkiesing van ons nuwe grondwetlike bedeling ons grondwetlike demokrasie verstewig en verskans het. Die verkiesing was vry en regverdig en is oor die algemeen op ’n voorbeeldige wyse uitgevoer. Al die betrokkenes – die 18.6 miljoen kiesers wat gestem het; die politieke partye wat deelgeneem het en die OVK – verdien ons opregte gelukwense.
Die tweede punt is dat Suid-Afrikaners steeds volgens ras stem. Alhoewel die DA daarin geslaag het om sy steun onder swart Suid-Afrikaners wesenlik uit te brei – veral in Gauteng – is daar steeds geen aanduiding dat die party binnekort genoeg swart stemme sal kry om die oorhand van die ANC uit te daag nie.
Die ANC se reputasie as die party van die vryheidstryd; sy noue verbintenis met Nelson Mandela en sy rekord as die verskaffer van maatskaplike toelae aan meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners – en van werksgeleenthede en welstand aan die vinnig groeiende swart middelklas – is ’n kragtige formule vir voortgesette dominansie. Daarbenewens maak die ANC se vennootskap met COSATU hom die voorkeurparty vir die grootste meerderheid van Suid-Afrika se 3.6 miljoen vakbondlede.
Al hierdie faktore – tesame met die ANC se effektiewe beheer van die SAUK en staatskommunikasie – is duidelik sterk genoeg om enige kommer wat dalk kan heers rakende die ANC se swak rekord ten opsigte van dienslewering; sy versuim om aanvaarbare vlakke van ekonomiese groei en werkskepping te behaal; en sy verdediging van die besteding van R246 miljoen op die President se private woning, uit die weg te ruim.
Die ANC se steun het inderdaad sedert 2009 met 3% gedaal. Die meeste verliese wat die party aan die EFF en die DA afgestaan het was egter danksy die voortgesette erosie van die IVP se steun in KwaZulu-Natal en die stemme wat hulle van COPE-ondersteuners gekry het.
Meeste van die 8% van kiesers wat vir COPE in 2009 gestem het, het dit gedoen weens die wyse waarop President Mbeki deur Jacob Zuma, COSATU en die SAUK uit die kussings gelig is. Hulle het nie baie verskille met die ANC gehad ten opsigte van belangrike beleide nie – en baie het nou na hul oorspronklike politieke tuiste teruggekeer.
Die DA het rede om fees te vier oor sy prestasie. Die party het sy aandeel van die stemme met ’n reuse 37% gegroei; en dit het sy beheer van die Wes-Kaap versterk – ten spyte van sommige kiesers se kommer betreffende die DA se teenstrydige benadering tot billike indiensneming en BSEB.
Nietemin kom ’n aantal eenvoudige waarhede na vore:
- Suid-Afrika is steeds ’n oorheersende party-demokrasie – met al die abnormale werkinge wat daarmee saamgaan. Die regering ervaar nie baie druk om sy prestasie te verbeter deur korrupsie werklik te beveg nie. Dit sal voortgaan om die vermoë van staatsdepartemente, die veiligheidsmagte, semi-staatsinstellings, munisipaliteite en provinsies te erodeer deur lojale kaders te ontplooi in belangrike posisies, sonder veel agting vir meriete, kwalifikasies en ervaring.
- Die ANC sal moontlik voel dat sy mandaat sterk genoeg is om voort te gaan met die radikale inwerkingstelling van die tweede oorgangsfase. Soos wat President Zuma gewaarsku het, sal dit aggresiewer inwerkingstelling van rasgebaseerde regstellende aksie, BSEB en grondhervormingsbeleide behels.
- Die ANC sal – sonder enige oorleg met die kiesers – ongeveer 30% van die setels wat hy gewen het, aan die SAKP oorhandig. Dit beteken dat die SAKP – sonder dat hy ’n enkele stem gewen het – omtrent net soveel setels in die Parlement as die DA sal hê.
- Ten spyte van die entoesiasme waarmee die kiesers gestem het, bly die feit staan dat die LPs wat na die Parlement gaan nie aan die kiesers verantwoordbaar sal wees nie – maar aan hul onderskeie party-base.
- Daar is geen rede om te veronderstel dat die nuwe Parlement sy toesighoudende rol oor die uitvoerende gesag enigsins doeltreffender sal uitvoer as sy voorganger nie. Aan die einde van die dag sal dit Luthuli-huis wees, eerder as die ANC se LPs in die Parlement, wat die toekomstige gang van sake sal bepaal.
Ons sal weer eens voor die ou raaisel van demokratiese politiek te staan kom: dat permanente minderhede min of geen sê sal hê in die prosesse waardeur hulle regeer word nie. Dit is om hierdie rede dat ons Grondwet en die Handves van Regte so belangrik is in samelewings soos ons s’n, omdat dit sulke duidelike beperkings plaas op die vermoë van die meerderheid om sy wil op minderhede af te dwing. Sonder hierdie waarborge sal daar nie veel wees wat die situasie wat Nelson Mandela belowe het nie weer sal gebeur nie, kan verhoed nie, naamlik: “Nooit, nooit en nooit weer sal dit wees dat hierdie mooi land weer die onderdrukking van een deur ’n ander sal ervaar nie…”.
Hoe lank ‘nooit’ sal duur, sal direk afhang van ons vermoë om ons Grondwet en die Handves van Regte te handhaaf.
Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: Darryn van der Walt / Foter /Creative Commons Attribution 2.0 Generic (CC BY 2.0)