Daarby glo min Suid-Afrikaners sy verduideliking dat die jongste beurtkrag en Fase 6 deels aan sabotasie te wyte was. Trouens, die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) het hom in die openbaar gerepudieer – al het hulle dit versag deur te sê dat verkeerde inligting aan hom gegee is. Dit skeel die meeste Suid-Afrikaners min of die fout by nat steenkool, ‘n chroniese gebrek aan onderhoud, swak bestuur of sabotasie lê – hulle is keelvol vir donkerte! En die land se industrieë verloor daagliks miljoene rand, die fiskus verloor belasting en die sakemense wat by die beleggingsberade plegtige beloftes oor nuwe beleggings gemaak het, wonder waarskynlik hoe hulle daaruit gaan kom. Want in sò ‘n land kan mens mos nie belê as jy ‘n greintjie verstand het en jou aandeelhouers se belange eerste stel nie.
Soos Shakespeare se koning Henry IV sê: “Uneasy lies the head that wears the crown”.
Maar as mens nie net na die laaste week en Eskom kyk nie, maar na die hele jaar, is daar enige hoogtepunte vir ons President? Of nog meer laagtepunte?
Om half tong-in-die-kies te begin: hy het darem vroeër (en heel verstandig) van sy besoek aan Egipte teruggekeer en vinnig met Eskom se mense vergader en ‘n verklaring gemaak – al was hy sigbaar tegelyk in die verleentheid en geïrriteerd. Sy terugkeer het ‘n mate van dringendheid gewys.
Op ‘n ernstiger noot: President Ramaphosa het sy magsbasis in 2019 en veral sedert die algemene verkiesing in Mei gekonsolideer en aansienlik versterk. Dit geld vir beide die ANC se parlementêre koukus en die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK). ‘n Mens kan dit aan ‘n paar voorbeelde sien. Sy Zupta nemesis in die ANC se hoofkantoor, Ace Magashule, is deesdae baie stiller en minder uitgesproke as ‘n paar maande gelede. Hy ken duidelik meer sy plek. Die optimiste onder ons sal hoop dat dit ook oor komende vervolgings is wat Ace hom stiller gedra. Dieselfde stilte het oor Nkandla neergedaal, waar oud-president Zuma sedert sy valerige verskyning voor die Zondokommissie kwalik ‘n woord geuiter het. Sò dawerend is hierdie stilte dat gerugte oor sy gesondheid (of die gebrek daaraan) nie bevestig kon word nie.
Meer insiggewend is die verskillende reaksies van binne die ANC oor twee arrestasies in eie geledere. Vroeër vanjaar nog is ANC kaders in hulle honderde gemobiliseer om teen die arrestasie van die burgemeester vaneThekwini, Zandile Gumede, op aanklagte van bedrog te betoog. “Los haar, sy is onskuldig totdat sy skuldig bewus word” was die wekroep. Toe ‘n voormalige adjunk-minister in die Zumakabinet egter later vanjaar gearresteer is op aanklagte van bedrog, was die ANC strukture baie stiller, en het selfs net gesê die reg moet sy gang gaan. Dit mag na ‘n klein klemverskuiwing klink, maar dit het belangrike implikasies – en President Ramaphosa se groeiende invloed kan daarin gesien word.
‘n Ander positiewe ontwikkeling wat soms onderskat word, is die beleidsdokument oor die ekonomie wat minister van Finansies Tito Mboweni vroeër vanjaar deur die Tesourie laat publiseer het, en wat grotendeels deur die ANC aanvaar is. Slegs die vakbonde en hier en daar ‘n aartskommunis het geprotesteer. Daardie dokument gaan in die toekoms al hoe meer help om ekonomiese en finansiële beleid te bepaal.
Miskien die belangrikste positiewe hoogtepunte van President Ramaphosa se jaar is die aanstellings wat hy gemaak het. En alhoewel Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings Shamila Batohi tegnies in Desember 2018 aangestel is, het sy haar pos in 2019 ingeneem. Haar tweede-in-bevel Hermione Cronje is wel in hierdie jaar aangestel. Batohi het onlangs laat blyk dat die eerste hoë profiel-vervolgings in Februarie 2020 verwag kan word, nadat sy vroeër oor die gebrek aan kapasiteit in die Nasionale Vervolgingsgesag gekla het. Haar gebruik van private regspraktisyns het kritiek uitgelok, maar is uit nood gebore en lyk of dit vrugte afwerp. En al voel baie dat vervolgings vinniger moes gebeur het, is dit wesenlik belangrik dat haar eerste vervolging ‘n waterdigte dossier sal hê en met vlieënde vaandels sal slaag.
Dit is te vroeg om te sê of Eskom se nuwe uitvoerende hoof, Andre de Ruyter, in sy bomenslike taak sal slaag, maar dit kan ten minste waardeer word dat die regering (vir ‘n verandering) erken het dat hy (‘n wit Afrikaanse man) die “beste persoon” vir die pos is. En dat hulle daarby gestaan het toe hulle uit eie en vakbondgeledere aangeval is. Die feit dat President Ramaphosa in sy daaropvolgende weeklikse nuusbrief ‘n pleidooi vir rassetransformasie op senior vlakke van die privaatsektor gelewer het, is ‘n bewys dat hy interne opposisie moes paai.
Die Ramaphosaregering moet ook krediet kry vir die beloftes van nuwe beleggings wat die afgelope twee jaar gewerf is. En al is dit steeds grootliks beloftes, wat soos hierbo gesê is, maklik deur die Eskomdebakel verlore kan gaan, is dit ‘n stap in die regte rigting om noodsaaklike groei in die ekonomie te kry.
‘n Laaste veertjie in die Ramaphosahoed is die besluit om SAL in “vrywillige sakeredding” te plaas. Natuurlik moet Solidariteit, wat die aansoek aanvanklik gebring het, volle erkenning hiervoor kry. Dit het die regering eintlik geen ander keuse gelaat nie. En dit kan ‘n interessante presedent vir ander SBE’s wees, waarvan min “lopende sake” of finansieel gesond is.
Daar was dus ‘n hele paar hoogtepunte gedurende President Ramaphosa se jaar. Daar was egter ook ‘n hele klomp laagtepunte, waarvan Eskom Fase 6 die grootste is en terugwerkend ‘n lang skaduwee oor die goeie werk laat val. Die President, die regering en die ANC se geloofwaardigheid is en word ernstig hierdeur geknou – en met goeie reg. Ramaphosa word dikwels gekritiseer dat hy nie vinnig en beslis genoeg optree nie, maar die “lang spel” speel. Sy strategie met staatskaping en die wag op die verskillende kommissies se verslae is ‘n voorbeeld hiervan. Hierdie strategie is nie en behoort nie op die Eskomkwessie van toepassing wees nie. Dit is reeds wyd bekend wat die probleme by Eskom veroorsaak. Aanvullend by die dringende oplossings en krisisbestuur wat nou toegepas en waarvoor hy en minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan moet druk, sal hulle Andre de Ruyter geleentheid moet gee om te doen waarvoor hy aangestel is. En hopelik sal veral Minister Gordhan nie weer ‘n stokkie daarvoor steek dat (soos met die vorige uitvoerende hoof Phakamani Hadebe gebeur het) as iets drasties aan Eskom se aantal werknemers en hulle salarisvlakke gedoen word nie.
As mens die SAL sakeredding in oënskou neem, kan mens aflei dat daar dalk ‘n nuwe Ramaphosastrategie is: wag totdat iets regtig verkeerd gaan en implementeer dan die ongewilde en voorheen onaanvaarbare markverwante strategie. As dit op Eskom van toepassing gemaak word, is die tyd vir die verdeling van Eskom en (ten minste sy gedeeltelike) privatisering, nou ryp. Dit is die enigste optrede wat die skaduwee en skade van Fase 6 ongedaan kan maak.
Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
18 Desember 2019
*Eers op Netwerk24 gepubliseer