Prof Haroon Bohrat van UCT het goedgunstiglik ingestaan vir mnr Pravin Gordhan, wat op ‘n laat stadium deur sy geneesheer tot bedrus verplig is. Prof Bohrat was een van die outeurs van die verslag oor staatskaping deur ’n groep akademici: Betrayal of the Promise: how SA is being Stolen. In ‘n uitstekende aanbieding het hy aan die 240 konferensiegangers die anatomie van staatskaping verduidelik. Die vyf hefbome wat gebruik is om staatskaping te vestig, was om staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) soos Eskom se doel te verander, om paralelle en swak korporatiewe beheerstelsels te vestig, om ‘n skadu-staat te skep, om “rent-seeking”-gedrag te legitimiseer en om beheer van die nasionale tesourie te bekom. Hierop volg vyf stappe na sistemiese korrupsie: verander die doel van korporatiewe beheer van die SBO’s, kry ‘n “makelaar” vir die korrupsie, skep die meganisme vir korrupsie op direksievlak, struktureer daardie korrupsie en was die geld wat vloei. Dit was die skrikwekkende gesig van planmatige en koelbloedige gierigheid.

Thuli Madonsela, nou professor by die US, het op haar gewone rustige en besliste manier die “resep” vir ‘n samelewing sonder staatskaping en korrupsie gegee. Haar tema was “Die herankering van demokrasie deur mense se mag”. Haar toespraak het begin met ‘n profetiese aanhaling van Nelson Mandela: “Even the most benevolent of governments are made up of people with propensities for human failings”. Dit vat meer as ‘n Grondwet, sterk instellings en selfs leiers om die vernietiging van demokrasie teen te staan. Uiteindelik kan net gewone mense hulle eie bevryders wees. Haar oproep was dus dat gewone mense teen staatskaping en korrupsie moet opstaan en leierskap wys. Dit was ‘n sobere herinnering dat demokrasie werklik mag deur die (gewone) mense is.

Dr Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge het in ‘n deeglike nagevorste toespraak gewys op die goeie sosio-ekonomiese nuus tot omtrent 2009, toe die Zuma tsunami begin golwe maak het. Hy het sy perspektief op ‘n SA anderkant staatskaping en korrupsie hoofsaaklik aan spesifieke politieke, ekonomiese en sosio-maatskaplike optrede van die nuwe ANC-regering gekoppel. Die belangrikste kwessies voor die deur van ‘n Ramaphosa-regering is die herstel van die oppergesag van die reg en hervorming van ekonomiese beleid. Die hoofstruikelblokke is die begrotingstekort, die gebrek aan werkskepping en die mislukte onderwysstelsel. Daarby erf die nuwe regering die feit dat die ANC uit voeling met gewone mense is, die verlammende gevolg van ideologiese dogma en die bevoegdheidsvlakke in die staatsdiens. Om Suid-Afrika anderkant staatskaping te kry, sal bemagtiging anders benader moet word, eiendomsregte gewaarborg moet word, arbeidsbeleid verander moet word om mense werk te gee en die skoolstelsel reggeruk moet word. Dis ‘n mondvol, maar ‘n realistiese lys van prioriteite.

Die aanwesiges het as gevolg van hierdie insette die planmatige en sistemiese aard van staatskaping en korrupsie raakgesien en ook besef dat dit met dieselfde ywer beveg en uitgeroei sal moet word. Hiervoor is goeie politieke leierskap met goeie beleid, goeie instellings en vasberade Suid-Afrikaners nodig.

As hoofspreker het oud-president FW de Klerk daarop gewys dat ons net anderkant staatskaping en korrupsie kan kom as diegene wat die mag het, werklik verbind is om die visie van en die  grondliggende waardes waarop die Grondwet gebou is, in stand te hou. Dit gaan dus oor meer as die “letter van die wet”, maar ook die gees van die nasionale akkord van 1994/6. Dit beteken dat:

Mnr De Klerk het in hierdie verband daarop gewys dat alhoewel die nuwe president van die ANC ‘n paar goeie treë op hierdie pad gegee het, daar nog baie uitdagings op sy pad lê.

Sy laaste metafoor was treffend: sonder integriteit onder die sjefs, maak dit nie saak hoe goed die grondwetlike resep geskryf is nie. Die voorgereg van goeie regering sal verwoes word; die tweede gang van nasionale eenheid sal tot roet verbrand; en die poeding van ekonomiese vooruitgang sal in die vullismandjie beland.

My finale gevolgtrekking was dat vier uitgelese sprekers aan Suid-Afrika gesê het: ons kán anderkant staatskaping en korrupsie kom. Maar dit sal toewyding en harde werk vat. En dit kan net gedoen word as ons almal, maar veral ons leiers, die waardes waarop die Grondwet gebou is, én die Grondwet self respekteer en onderhou.

Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting

Eeers op Netwerk24 gepubliseer


Leave a Reply

Your email address will not be published.