Die dokumente van die Hoofraadsvergadering is geen ligte leesstof nie. Dit bestaan uit meer as 200 bladsye en raak feitlik elke aspek van beleidvorming aan. Die dokumente van die Hoofraadsvergadering is hoofsaaklik heel prakties – en vermy wilde ideologiese voorskrifte – alhoewel daar voorspelbare verwysings na die radikale inwerkingstelling van die tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie is – en vereistes vir fundamentele veranderinge aan landelike grondeienaarskap.
Die uitsondering is die hoofstuk oor buitelandse verhoudings.
Die aard van die probleem word van die begin af uitgewys deur die ANC se karaktarisering van homself as “’n revolusionêre nasionale bevrydingsbeweging wat ‘n integrale rol speel in die internasionale bevrydingsbeweging om die mensdom van die slawerny van imperialisme en neo-kolonialisme te bevry.”
Waarom beskou die ANC homself steeds as ‘n “nasionale bevrydingsbeweging” – terwyl dit reeds vir 20 jaar die gekose regering van ‘n grondwetlike demokrasie is? Wat is die “internasionale bevrydingsbeweging”? Wat op aarde is die “slawerny van imperialisme en neo-kolonialisme” in ‘n wêreld waarin die laaste ryke en kolonies 40 jaar gelede verdwyn het? Hallo – dit is 2015 – nie 1848 of 1917 nie.
Volgens die Hoofraadsvergadering se dokumente het “imperialisme die mensdom in ‘n sosio-ekonomiese krisis gedompel. Die hoë vlakke van armoede, ongelykheid, werkloosheid, siekte en onderontwikkeling bevestig die siening wat ons lank reeds het dat die kapitalistiese markekonomie nie sy eie teenstrydighede kan oplos nie”.
Soos die skrywers van die Nasionale Hoofraadsvergadering opgelet het, was dit kommunisme – en nie die “kapitalistiese markekonomie” nie – wat ‘n fatale krises ervaar het. Almal behalwe Noord-Korea, Kuba en die SAKP het nou van die stelsel afstand gedoen. Om die waarheid te sê, die 70 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, wat hoofsaaklik oorheers is deur waarna die ANC verwys as die kapitalistiese markekonomie, het meer vordering ervaar as enige ander tydperk in die geskiedenis van die mensdom: meer mense ervaar nou vryheid as enige ander tyd in die mens se geskiedenis; sedert 1950 het die internasionale lewensverwagting gestyg van 47 tot 70 jaar – en baba- en moedersterftes het gehalfveer; ook, die persentasie van die wêreld se bevolking wat in absolute armoede lewe (op minder as US$1.25 per dag), het van 40% in 1980 tot slegs 14% in 2013 gedaal.
Die dokumente van die Hoofraadsvergadering is openlik vyandig teenoor die Weste en veral teenoor die Verenigde State. Hulle voer aan dat die VS ‘n koue oorlog teen China en Rusland verklaar het. Dit poog om China te destabiliseer deur die land uit te beeld as die wêreld se ergste besoedelaar; deur diegene wat teen revolusie gekant is as menseregte-aktiviste te steun; en deur te poog om vyandigheid in Oos-Asië betreffende Chinese territoriale eise in die Chinese See aan te hits.
Die Verenigde State poog ook om die Russiese regering te destabiliseer deur betogings en optogte wat teen revolusie gekant is, te organiseer. “Die oorlog in die Oekraïne gaan nie oor die Oekraïne nie. Dit het ten doel om Rusland te teiken.”
Die ANC beweer voorts dat “die destabilisering wat deur Washington geborg is, nie tot Rusland en China beperk is nie. Ons sien dit in die strate van Latyns-Amerika; met inbegrip van Venezuela, wat vreemd genoeg deur die VS verklaar is as ‘n bedreiging vir sy nasionale veiligheid; in die Midde-Ooste en in Afrika-lande met die enigste doelwit om progressiewe, demokraties verkose regerings omver te werp.”
Die ANC verheerlik Kuba – wat volgens Freedom House een van die lande in die wêreld is wat die minste vry is: “Ons sal altyd geïnspireer wees deur die rol van Kuba in die stryd om internasionalisme en solidariteit. Sy rol in die stryd om die bevryding van die Afrika-vasteland teen imperialisme en kolonialisme sal altyd gekoester word.”
Dit is heeltemal gepas vir Suid-Afrika om positiewe verhoudings met China en Rusland te bou as voorste vennote in BRICS – sonder om hul politiese stelsels goed te keur. Dit is egter onverstandig en onnodig om só ‘n openlik vyandige houding teenoor die Weste in te neem – en veral teen die Verenigde Nasies.
Waar kom dit alles vandaan?
In alle waarskynlikheid het Suid-Afrika se nuwe internasionale ingesteldheid sy oorsprong in die toenemende invloed van die SAKP in die rigting van die Nasionale Demokratiese Revolusie en in ANC-beleid oor die algemeen. Die Hoofraadsvergadering se dokumente word gelei deur die SAKP se Going to the Root-dokument vroeër vanjaar en deur die menings wat onlangs tydens sy Derde Spesiale Kongres uitgedruk is, waarin dit ‘n beroep doen om die “gedeeltelike ontkoppeling van die Westerse imperialistiese ekonomiese sentrums” ten einde “wesenlike moontlikhede vir radikale ekonomiese transformasie in ons land te skep”.
Die ANC wil duidelik Suid-Afrika se buitelandse beleid in ‘n nuwe en radikale rigting neem.
Voordat dit hierdie rigting inslaan, moet dit oorweging skenk aan die feit dat ‘imperialiste’ die grootste beleggers in ons ekonomie is – met meer as 2 000 Europese maatskappy wat hier in bedryf is. Wil hulle hul regtig vervreem?
Ten spyte van die toenemende belangrikheid van Suid-Afrika se handel met China, is ons handel met die EU en die VS baie groter. Wil die ANC regtig hierdie handel in gevaar stel – veral wanneer daar absoluut geen rede is om tussen handel met China en die Weste te kies nie?
Laastens is die Grondwet – en nie die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie nie – oppermagtig. Buitelandse beleid behoort die waardes in die Grondwet te weerspieël – en nie dié van die jargon van Marxisme-Leninisme, wat verkeerd bewys is nie. Ons moet ons nasionale belange in ons verhoudings met al die nasies van die wêreld nastreef – maar ons moet vriende maak met lande wat saam met ons toegewyd is tot werklike demokrasie en vryheid.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND