Hierdie hoë tendens van vermorsing van kosbare hulpbronne  kom ook voor in die geouditeerde finansiële state van die Departement van Basiese Onderwys (Onderwysdepartement). Die OG het in die Onderwysdepartment se 2017/18 jaarverslag aangedui dat die Departement se “onreëlmatige uitgawes”  (uitgawes wat aangegaan  was in teenstelling met Wetgewing) in 2017/18  sowat R154.478  miljoen beloop het en dat ‘n gebrek aan kontrole en die afwesigheid van aanvaarding van aanspreeklikheid oor aankoopprosesse die hoofoorsaak was. 

Die voorsiening van skole-infrastruktuur en die beveiliging van skole is belangrike komponente van die grondwetlike reg tot basiese onderwys. Op 9 Oktober 2018  het die  Finansiële en Fiskale Kommissie van Suid Afrika (FFK) die gebrek aan nakoming in dienslewering in die Versnelde Skole-infrastruktuurleweringsinisiatief (ASIDI) beklemtoon (FFK 2018 inligtingsessie).

Die ASIDI is in 2011/2012 in die lewe geroep met die doel om die swak toestand van openbare skole se infrastruktuur aan te spreek  en die toekenning van fondse aan skole te kontroleer. Die  ASIDI  se teiken was om openbare skole op te gradeer sodat dit voldoen aan die 2013 Minimum Uniforme Norme en Standaarde vir Openbare Skole-infrastruktuur (Infrastruktuur Norme en Standaarde) wat ook sperdatums bevat  vir die voorsiening van basiese dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie aan skole ten einde die agterstand van skole-infrastruktuur uit te skakel.

Die School Infrastructure Backlog Grant (die toelaag) is ‘n indirekte toelaag wat spesifiek geskep is om die ASIDI te befonds, en dit word deur die Nasionale Onderwysdepartement namens die provinsiale onderwysdepartemente bestee. Die toelaag was volgens die FFK egter slegs bedoel om ‘n tydelike “hoë impak” en korttermyn inisiatief te wees. Mens sou dus verwag dat besteding van die toelaag hierdie feit sou weerspieël. Soos die FFK egter aantoon, was die besteding van die toelaag,  ten spyte van ‘n toename in 2017/18, oor die algemeen uiters swak met ‘n gemiddelde besteding van slegs 66% sedert 2011. Dit, tesame met die verstommende gebrek aan bereiking van die ASIDI teikens – soos byvoorbeeld die feit dat slegs 189 van die “ongeskikte skole” van die aanvanklike teiken van 510 tot Maart 2018 vervang was – kan eenvoudig nie deur die Parlement aanvaar word nie. 

Dit wil voorkom asof ‘n gebrek aan oorsig  in die ketting van aanspreeklikheid ‘n herhalende en kernprobleem is. Volgens die FFK word die ASIDI projekte deur twee implementeringsagente bestuur, naamlik Eskom en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika.

Die twee instansies stel sub-kontrakteurs aan om die werk te doen, wat dan weer op hul beurt  Klein, Medium en Mikro-ondernemings aanstel om die projekte uit te voer. Daar is dus min werklike oorsig in die ketting van aanspreeklikheid en kritiese swakpunte sluit volgens die FFK “swak kommunikasie en deling van inligting”, “gebrek aan ‘n effektiewe oorsig stelsel van diensverskaffers” en veral “demotivering van implementeringsagente weens die feit dat hulle nie die eienaars van die projek is nie”, in.

Die FFK het ook beklemtoon dat skole-infrastruktuur projekte op provinsiale vlak verder benadeel word deur die feit dat die beplanning, begroting en implementering daarvan deur verskillende Staatsdepartemente en implementeringsagente uitgevoer word. Dit veroorsaak ‘n verdere gebrek aan toesig en beheer. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die verskaffing van skole-infrastrukture  die verantwoordelikheid van die nasionale Onderwysdepartement is. Hierdie aspek is in Julie 2019 deur die Hooggeregshof van die Oos- Kaap (Bisho) bevestig in die saak van Equal Education and Amatolaville Primary School v the Minister of Basic Education and Others. In die saak is Regulasie 4(5)(a) van die Infrastruktuur Norme en Standaarde onder meer ongrondwetlik verklaar, aangesien dit in wese ‘n geleentheid  vir die ontduiking van aanspreeklikheid deur die nasionale Onderwysdepartement skep. Regulasie 4(5)(a) het bepaal dat die  implementering van die Infrastruktuur Norme en Standaarde afhanklik is van die samewerking van en met ander Staatsdepartemente.

Die  mislukking van die bereiking van skole-infrastruktuur teikens weens ‘n gebrek aan behoorlike oorsig, is al herhaaldelik deur die FFK uitgewys. In ‘n inligtingsessie van die FFK in Oktober 2017 aan die Portefeulje Komitee van Basiese Onderwys, het die FFK beklemtoon dat R3.86 miljard van die toelaag in die periode 2011 tot 2017 nie bestee is nie. Diè enorme bedrag verteenwoordig 30% van die totale toelaag – en soos die FFK uitgewys het impliseer dit dat daar genoeg geld beskikbaar is om die historiese agterstand in skole-infrastruktuur aan te pak. Die FFK het tydens dié 2017 inligtingsessie ook pertinent uitgewys dat die Onderwysdepartment se  R263 miljoen in “onreëlmatige uitgawes” vir die 2016/17 periode in meeste gevalle aangegaan is deur die ASIDI implementeringsagente wat nie die korrekte verkrygingsprosesse gevolg het nie.

Die FFK het in die 2018 inligtingsessie sterk aanbevelings gemaak hoe die Onderwysdepartement die leemte van oorsig en vermorsing van fondse kan bekamp. Die FFK het voorgestel dat die Onderwysdepartement duidelike prestasie-evalueringsraamwerke moet opstel vir toelae wat objektief gemonitor kan word en wat spesifieke aanwysers bevat wat kwaliteit, koste en tydsfaktore in ag neem. Die FFK het ook (weer) voorgestel dat strenger boetes vir onderprestasie van implementeringsagente ingestel moet word.

Die aanbevelings deur die FFK is praktiese, doelgerigte voorstelle wat redelik eenvoudig behoort te wees om op te stel en te implementeer. In die toekoms is daar dalk die moontlikheid dat die OG in die posisie sal wees om hierdie verliese direk van ‘n verantwoordelike party te kan verhaal deur die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Openbare Oudit. Daar is egter reeds maniere om hierdie sistemiese foute  aan te spreek en aanspreeklikheid te verskerp, soos wat die praktiese voorstelle van die FFK bewys.

Die Suid-Afrikaanse publiek en die Parlement kan nie net eenvoudig aanvaar dat daar nie genoeg hulpbronne is om alle openbare skole se infrastruktuur te verbeter en te beveilig nie – veral waar daar duidelik vermorsing van fondse is. Infrastruktuur en veilige skole is ’n integrale komponent van die grondwetlike reg tot basiese onderwys – en daarsonder sal die reg betekenisloos wees. 

Deur me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
23 Oktober 2018

*Eers deur www.maroelamedia.co.za gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.