Ten opsigte van KKP BBP het China in 2015 reeds oor die grootste ekonomie in die wêreld beskik – VS$ 19,392 miljard, (17% van die internasionale KKP BBP) in vergelyking met die EU op VS$ 19,205 miljard en die Verenigde State op VS$ 17,947 miljard. Indië is volgende met VS$ 7,965 miljard.
Die grootste ekonomie in Afrika is Nigerië in die 22ste posisie in die wêreld met ‘n KKP BBP van VS$ 1 092 miljard. Egipte is 23ste met ‘n ietwat kleiner KKP BBP van VS$ 1 048 miljard. Suid-Afrika strompel in met die derde plek in Afrika en 30ste in die wêreld met ‘n KKP BBP van VS$ 724 miljard.
Maar dit was nie altyd so nie. Nigerië het skielik die voorste posisie ingeneem in 2014 nadat dit die grondslag waarop sy BBP geasseseer is, herbereken het – wat dit oornag met 89% verhoog het.
Die nuwe syfers is glo deur die IMF en die Wêreldbank geverifieer. As ‘n mens egter ander belangrike faktore in ag neem wat verband hou met Nigerië en Suid-Afrika se ekonomieë, blyk dit of sommige statistieke net nie water hou nie. Nigerië se federale begroting, byvoorbeeld, was VS$ 30,4 miljard in 2014, in vergelyking met Suid-Afrika se begroting vir dieselfde jaar van VS$ 115 miljard.
Nog ‘n oorweging is die feit dat Suid-Afrika met sy 54 miljoen mense meer as 10 keer soveel elektrisiteit gebruik as Nigerië met sy 177 miljoen mense. Suid-Afrika se gebruik van 234 miljoen MW uur/jaar is die 15de hoogste in die wêreld. Ons het meer as 2000 winkelsentrums (6de hoogste getal in die wêreld) in vergelyking met 12 – 15 in die hele Nigerië. Ons uitvoere en invoere in 2013 het op VS$ 198 miljard te staan gekom in vergelyking met Nigerië se totale handel van VS$ 135 miljard. 90% van Nigerië se uitvoere was olie en olieprodukte – wat met meer as 40% oor die afgelope twee jaar geval het.
In 2015 het Suid-Afrika 615 000 motorvoertuie gelewer en ons het oor 165 motors per 1000 mense beskik. Nigerië het oor 31 motors per 1000 mense beskik. Dit is ook nie ‘n geval van Nigerië wat oor ‘n voorspoedige landelike boerderysektor beskik nie. 62% van die bevolking lewe onder die internasionale armoedelyn van VS$ 1,25 per dag – in vergelyking met die 9.4% van Suid-Afrika se bevolking.
Ook ten opsigte van finansiële dienste wil dit blyk of Suid-Afrika ver voorloop. Die waarde van aandele op die JSE is VS$ 790 miljard, in vergelyking met die VS$ 47 miljard op die Lagos Exchange. Suid-Afrika se banke en finansiële dienste word ook onder die beste ter wêreld gereken deur die Wêreld-ekonomiese Forum se Internasionale Mededingendheidsverslag.
Egipte is moontlik meer geregtig om as die vasteland se grootste ekonomie bekend te staan. Sy begroting is VS$ 85 miljard en sy buitelandse handel was VS$ 97 miljard. Dit het 28 motors per 1000 mense. Slegs 1.2% van sy bevolking lewe egter onder die armoedelyn van VS$ 1,25 – wat beteken dat daar ‘n baie hoër vlak van algemene welvaart onder sy mense is as wat dit in Suid-Afrika is.
Waarop dit neerkom is dat ‘n mens skepties moet wees oor statistieke. Soos een kommentator op gelet het – hulle is soos bikini’s – meer belangrik vir wat dit toemaak as wat dit wys. Desnieteenstaande, wat ook al Suid-Afrika se ware posisie op Afrika se ranglys mag wees, gaan ons elke jaar agteruit. Gedurende die afgelope drie jaar het die ekonomie van Afrika suid van die Sahara met ‘n gemiddeld van 4.5% gegroei, in vergelyking met Suid-Afrika se groei van slegs 1.3% in 2015 – en geprojekteerde groei van 0.4% vanjaar.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
AFRIKA-DAG: WIE HET REGTIG DIE GROOTSTE EKONOMIE?