Volgens die amptenare van die Departement moet die Minister, Gugile Nkwinti, eers oorleg pleeg met die landbousektor met betrekking tot die voorstelle. ’n Finale weergawe sal dan na volgende maand se verkiesings aan die nuwe kabinet voorgelê word.
Ook maar goed so, want die voorstelle in die vorm waarin dit tans verskyn sal ’n ernstige uitwerking hê op eiendomsregte, voedselsekuriteit en op die toekomstige lewensvatbaarheid van ons landbousektor.
Kortliks stel hulle voor dat daar van alle boere vereis word om 50% van hul plase aan hul werkers af te staan. Die plaaswerkers se aandeel sal aan hul toegeken word in verhouding tot hul bydrae tot die ontwikkeling van die grond, gebaseer op die aantal jare wat hulle op die grond gewerk het. Gevolglik sal werkers wat vir 10 jaar op die plaas gewerk het, 10% van die werkers se toegekende grond kry; diegene wat vir 25 jaar gewerk het sal 25% van die toegekende grond ontvang en diegene wat vir 50 jaar op die plaas gewerk het, sal geregtig wees op 50% van die toegekende grond. (Dit is nie duidelik wat sal gebeur indien daar agt werkers is wat vir 10 jaar en drie wat vir 25 jaar op die plaas gewerk het nie).
Die staat sal die 50% van die plaas wat aan die plaaswerkers toegeken sal word, koop. Dit sal egter nie die geld aan die boer betaal nie, maar dit in ’n beleggings- en ontwikkelingsfonds betaal wat gesamentlik deur die partye wat eienaarskap van die plaas het, besit word. Die Fonds sal gebruik word om die bestuurs- en produksievermoë van die nuwe grondeienaars te ontwikkel, om verder in die plaas te belê asook om mense uit te koop wat nie meer deel wil wees van die nuwe eienaarskap nie.
Volgens die voorstelle moet die behaling van gelykheid deur plaaswerkers lei tot ’n fundamentele verandering in die beheermeganisme van die plaas. Dit word gesien as ’n fundamentele veranderingsfaktor van die spel. Dit stel gesamentlike bestuur van die plaas daar, gebaseer op relatiewe ekwiteitsbesit en die vermoë van elke deelnemer ten opsigte van produksie en bestuur.
Die stelsel sal steeds plaaswerkers se verblyfreg en ander regte beskerm. Dit sal egter ook ’n reeks pligte en verantwoordelikhede instel wat die plaaswerkers wat op die plaas woon, moet nakom ten einde hul aandeel in die plaas te behou. Indien werkers nie hul pligte nakom nie, sal die nuwe saamgestelde plaasbestuur die saak na ’n voorgestelde Komitee oor die Bestuur van Grondregte moet verwys, wat oor die mag sal beskik om van hulle te vereis om die plaas te verlaat.
Die Departement is duidelik bewus daarvan dat die ineenstorting van toekomstige grondhervormingsprojekte vermy moet word deur die kennis en belange van bestaande boere te behou. Soos dit sê, die regering het ten doel om die sekuriteit van plaaswerkers en plaasbewoners se eiendomsreg te verdiep sonder om huishoudings se voedselsekuriteit en -soewereiniteit te bedreig. Hierdie sensitiewe balans tussen die sekuriteit van eiendomsregte aan die een kant, en voedselsekuriteit en -soewereiniteit aan die ander kant, moet ten alle tye gehandhaaf word.
Die outeurs van die voorstelle wil duidelik voedselproduksie verseker deur bestaande boere toe te laat om 50% aandeel in hul plase te behou. Daar sal egter van boere kragtens wetgewing vereis word om plaaswerkers op te lei ten opsigte van bestuursvaardighede en hulle sal steeds verantwoordelik wees vir die plaas se instandhouding en onderhoud, met inbegrip van die versekering dat werkers op die grond in geskikte lewensomstandighede woon en gepaste lone betaal word. Hulle sal eiendomsbelasting en inkomestebelasting betaal, terwyl die werkers nie sodanige las sal dra nie.
Die punt is dat boere ontneem sal word van 50% van hul plase sonder vergoeding. Sodanige aanval op eiendomsregte sal die rooiligte laat flikker vir graderingsagentskappe, wat reeds die evolusie van regeringsbeleid met kommer bejeën.
Dit is ook nie duidelik hoe boere van hul eiendom ontneem sal word sonder om die vereistes van artikel 25 van die Grondwet te oortree nie – alhoewel Minister Nkwinti blykbaar dink dat plaaswerkers reeds wesenlik regte betreffende eienaarskap bekom het kragtens die Land Tenure Act.
Die voorgestelde gesamentlike bestuursregime – met ingryping deur die regering en die Komitee op die Bestuur van Grondregte – sal die vermoë van boere ondermyn om hul basiese funksie om voedel te produseer.
Soos so baie ander fasette van die regering se toenemend aggressiewe beleide wat op ras geskoei is, het hierdie hartseer en lomp voorstelle hul oorsprong in die Nasionale Demokratiese Revolusie se obsessie met die konflikte uit die verlede aan die een kant, en ’n ernstige wanindruk oor hoe doeltreffende moderne ekonomieë funksioneer.
Minister Nkwinti glo die morele grondslag vir hierdie voorstelle is dat mede-Suid-Afrikaners (wit boere) wat deur die winste van die land wat deur die oorloë waartydens grond onteien is, bekom is, en die rasgebaseerde segregasiebeleide en wetgewing van die koloniale en daaropvolgende apartheidsregime bevoordeel is, ’n morele plig en verantwoordelikheid het om by te dra tot die herstel van geregtigheid en die nasionale poging om versoening te bewerkstellig.
Na raming word 5% van landbougrond elke jaar op die mark geplaas. Dit beteken dat ’n redelike groot persentasie van plase sedert 1994 aangekoop is. Hoe kan daar van sodanige boere – wat die minimum lone betaal soos wat deur die regering vasgestel is – verwag word om steeds ’n morele las te dra namens vorige koloniale en apartheidsregimes?
Maar waarom stop by 50%? Sodra die staat weggedoen het met die beginsel van eiendomsregte – en sodra plaaswerkers voldoende bestuursvaardighede aan hul werkers oorgedra het – waarom dan nie die werkers se aandeel opstoot na 60%, 80% of selfs 100% nie?
Minister Nkwinti wys ook daarop dat die handhawing van die status quo wat tans heers polities ongewens en onvolhoubaar is. Alle redelike Suid-Afrikaners sal saamstem dat ons ’n gebalanseerde en werkbare grondhervormingsproses benodig. AgriSA en ander betrokke partye het konstruktiewe voorstelle in dié verband gemaak – maar sonder sukses. Hierdie jongste voorstelle sal beslis nie die gewenste doelwitte behaal nie – en mens moet hoop dat hulle breedvoerig gewysig sal word gedurende die oorlegplegingsproses wat voorlê.
Daar is slegs 37 000 kommersiële boere oor in Suid-Afrika – en hul gemiddelde ouderdom is meer as 60. Hul kinders wil nie voortgaan om te boer nie weens die toenemende uitdagings wat grondhervorming inhou, asook weens wrede plaasaanvalle. Die werklike uitdaging vir Minister Nkwinti kan dalk eerder wees om kommersiële boere te oortuig – onder enige omstandighede – om op die grond te bly en om voort te gaan om die voedsel te produseer waarop ons almal staatmaak.
Deur Dave Steward: uitvoerende direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)