+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Die dag word toegewy aan die totale uitwissing van marteling en ander wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf. Hierdie dag het ook ten doel om die doeltreffende funksionering van die Konvensie teen Marteling en Ander Wrede, Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf (die Konvensie), wat in Desember 1984 deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aanvaar is en op 26 Junie 1987 in werking getree het.

Kragtens Internasionale Reg is marteling ’n misdaad wat nie onder enige omstandighede geregverdig kan word nie. Gevolglik en kragtens artikel 231 van die Grondwet bind internasionale ooreenkomste Suid-Afrika – tot só ’n mate wat met die Grondwet ooreenstem – sodra dit deur die uitvoerende gesag en die Parlement onderskeidelik onderteken en bekragtig is. Dit tree in Suid-Afrika in werking sodra dit in nasionale wetgewing opgeneem word. Gevolglik is die Konvensie, wat in 1993 deur Suid-Afrika onderteken is en in 1998 bekragtig is, in Julie 2013 in wetgewing opgeneem by wyse van die Prevention and Combating of Torture of Persons Act (die Wet), wat dus vir die eerste keer dade van marteling gekriminaliseer het – soos deur die Konvensie vereis word. Alhoewel die Grondwet voorsiening maak vir vryhede en sekuriteit van die persoon, met inbegrip van die reg om nie gemartel te word of onderwerp te word aan wrede en onmenslike behandeling nie, het daar voor die inwerkingtreding van die Wet geen wetgewing bestaan om marteling spesifiek aan te pak nie.

Die belangrikheid van wetgewing om dade van marteling te straf en te voorkom kan nie genoeg beklemtoon word nie – selfs al maak die Wet nie voorsiening vir die voorkoming van wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf, soos deur die Konvensie vereis word nie. Die Wet maak dit moontlik vir staatsamptenare om verantwoordelik gehou te word vir menseregteskendings, alhoewel niemand tot op datum kragtens hierdie bepalings skuldig bevind is nie. Alhoewel dit goed bedoel, is die Wet nog nie doeltreffend in werking gestel nie. Tans wil dit voorkom of dit versuim om sommige growwe skendings van menseregte aan te pak of te verhoed – spesifiek in verhouding tot voorvalle van wreedheid in die kriminele regstelsel, waaroor wyd in die media berig is.

In 2005, voor die promulgering van die Wet, het gevangenes van die St Albans-tronk voorvalle van grootskaalse loesings onder die aandag van die Verenigde Nasies se Komitee oor Menseregte in Genève (UNHRC) gebring, met verwysings na verskeie oortredings van die Konvensie. Nadat Suid-Afrika vyf versoeke van die UNHRC geïgnoreer het om op die bewerings van marteling te reageer, is die land skuldig bevind aan menseregteskendings. Die gevangenes het sedertdien siviele verrigtinge teen die Minister van Korrektiewe Dienste ingestel en die saak is nog hangende. ’n Kriminele saak is ook ingedien teen die verskeie staatsamptenare met betrekking tot die gewelddadige soektogte na smokkelgoedere, hoewel niemand nog skuldig bevind is nie. Dit het die SA Menseregtekommissie (SAMRK) genoop om ’n verklaring uit te reik waarin die optrede van tronkamptenare veroordeel word, en om ’n ondersoek in hierdie verband van stapel te stuur, wat nog nie afgehandel is nie. Desnieteenstaande het amptenare van dieselfde instelling, ten spyte van die Wet en die ondersoek deur die SAMRK, na bewering in Maart vanjaar grootskaalse loesings, elektriese skokke en aanranding teen ’n groot aantal gevangenes uitgevoer, nadat smokkelgoedere na bewering ontdek is. Gevangenes het kneusmerke, frakture, gebreekte bene en vermiste tande na afloop van die twee uur lange beproewing aangemeld. Die aangeleentheid word nog ondersoek.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) wys ook op ’n sistematiese patroon van geweld deur polisiebeamptes teen burgerlikes. Net in 2013 alleen is 431 sake ten opsigte van 485 sterftes as gevolg van polisieoptrede deur Opod ondersoek. ’n Verdere 539 gevalle van poging tot moord waarby polisie betrek is, is ook ondersoek. Kundiges is van mening dat honderde soortgelyke sake nie aangemeld word nie.

Marteling en ander dade van wrede, onmenslike en vernederende behandeling of straf kan nooit geregverdig word nie. Die sukses van die Wet ten opsigte van die voorkoming, onderdrukking en bestraffing van dade van marteling sal afhang van die doeltreffende inwerkingstelling daarvan. In beginsel beteken dit dat daar van alle staatsamptenare verwag moet word om nie net in ooreenstemming met die voorskrifte van die Wet op te tree nie, maar ook binne die bestek van die etos van menseregte soos deur die Grondwet vereis word. Voorvalle soos dié by die St Albans-tronk hoort nie in – en mag nie geduld word deur – ’n regering of samelewing wat die waardes van menswaardigheid, billikheid en die bevordering van menseregte en vryhede onderskryf nie.

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: takomabibelot / Foter / Creative Commons Attribution 2.0 Generic (CC BY 2.0)

Leave a Reply

Your email address will not be published.