Hierdie tema kon nie op ‘n meer gepaste tyd kom nie, veral nie in die Suid-Afrikaanse konteks nie, waar die koers van geweld (in alle vorme) teen vroue astronomies is. Die Suid-Afrikaanse regsdefinisie van verkragting is progressief en breed en erken die vele maniere waarop verkragting kan voorkom. Dit behels mondelinge, anale of vaginale penetrasie van ‘n persoon (manlik of vroulik) met ‘n geslagsorgaan, met enige voorwerp en die penetrasie van ‘n persoon se mond met die geslagsorgane van ‘n dier. Die statistieke spreek tot ‘n deurdringende verkragtingskultuur (die sosiologiese konsep vir ‘n omgewing waarin verkragting deurdring en genormaliseer word weens die samelewing se houdings oor geslag en seksualiteit) waar vroue en kinders – die kwesbaarste – die swaarste getref word, tesame met die straffeloosheid waarmee te veel oortreders te werk gaan.
Met inagneming van bogenoemde definisie is daar volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die tydperk 2018/19 41 583 verkragtings aangemeld. Dit is ‘n toename van 40 035 verkragtings gedurende 2017/18. Die 2018/19-getalle is gemiddeld 114 verkragtings wat elke dag deur die polisie aangeteken word. Alhoewel enige iemand ‘n slagoffer van verkragting kan wees, dui die statistieke aan dat die oorgrote meerderheid van die slagoffers wat dit aanmeld, wel vroue en meisies is. Dit is belangrik om te erken dat te veel slagoffers weens die intieme aard van verkragting nie die misdaad aanmeld nie. Dit verdraai die syfers, wat beteken dat dit onwaarskynlik is dat ons ooit ‘n akkurate weergawe van die beeld van verkragting in Suid-Afrika en die wêreld sal hê.
Die onwilligheid om verkragting aan te meld word vererger deur ‘n aantal faktore. Verkragtingskultuur floreer omdat dit gewortel is in ‘n ingewikkelde stelsel van patriargale en/of kulturele oortuigings, mag en beheer, wat ‘n sosiale omgewing voed waarin seksuele geweld genormaliseer is. Die stigma wat die samelewing aan slagoffers heg, die straffeloosheid waarmee oortreders te werk gaan en die ruimte wat hulle kry, en die houding van wetstoepassers wanneer hulle met ‘n slagoffer gekonfronteer word, bedreig alles die vermoë om hierdie plaag te beëindig. Verder, in die era van digitale wêreldwye konneksie, spreek die mate waarmee verkragting en seksuele aanranding op sosiale mediaplatforms hanteer word, tot ‘n wêreldwye sosiale probleem.
Die negatiewe, afwysende houding van SAPD-beamptes wanneer hulle met ‘n verkragtingslagoffer werk, soos gereeld oor berig word, is ook rooi vlae wat aandui hoe die samelewing slagoffers beskou en behandel. Volgens die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat vir Polisie is daar gedurende die tydperk 2018/19 gedurende die ses maande tussen April tot September 2018, minstens 55 klagtes teen verkragtings teen polisiebeamptes ondersoek. Dit spreek tot die feit dat vroue nie eens veilig is by die mense wat hulle moet beskerm nie.
Nog ‘n SAPD-verwante aanwyser oor die houding van die land teenoor verkragting is dat daar in September 2019 berig is dat 76% van die polisiekantore in Suid-Afrika nie verkragtingsbewyshulppakkies vir volwassenes in voorraad gehad het nie, en dat 69% van die stasies nie verkragtingsbewyshulppakkies vir kinders gehad het nie. Hierdie pakkies is noodsaaklik vir die versameling van bewyse wat nodig is om die inhegtenisneming en skuldigbevinding van verkragters te verseker. Die feit dat hierdie toedrag van sake bestaan, beteken dat vroue sal voortgaan om geviktimiseer te word weens swak polisie- en belegging deur die regering.
Vanjaar het die wrede verkragting en moord op die 19-jarige universiteitstudent, Uyinene Mrwetyana, die land tot stilstand gebring, nie die minste nie omdat sy vermoor is deur ‘n werknemer van ‘n openbare instelling, die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAP). Die swak kontrolestelsel wat ‘n man met ‘n skuldbevinding aan ‘n geweldsmisdaad en aanklagte van seksuele aanranding (wat teruggetrek is) toegelaat om hom in diens van SAP te bevind, is ‘n aanklag op die Suid-Afrikaanse regering. Haar moord is maar een voorbeeld van die straffeloosheid waarmee werknemers van die regering vroue mishandel.
In Oktober 2019 het President Ramaphosa aangekondig dat die tussentydse bestuurskomitee, in reaksie op die verontwaardiging oor geweld teen vroue in Suid-Afrika, die implementering van ‘n noodreaksie op GGG sal lei. Die Nood-aksieplan, wat ondersteun word deur ‘n R1.1 miljard-toekenning, het onder andere ten doel om te help met:
- die agterstande by forensiese laboratoriums in te haal, wat verband hou met GGG en veral seksuele aanranding;
- die aanstelling van bykomende personeel vir howe vir seksuele misdrywe, Thuthuzela-sorgsentrums en eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe;
- die aankoop van verkragtingsbewyshulppakkies; en ingryping betreffende gedragsverandering om die gedrag van mans en seuns te beïnvloed, terwyl alle sektore van die samelewing betrek word;
- die onmiddellike implementering van opleiding betreffende slagoffergerigte dienste, wat op oorlewendes gefokus is, met ‘n spesifieke poging om polisie, aanklaers, landdroste en beleidmakers op te lei;
- die instelling van ‘n GGG-fonds vir vinnige reaksie om oorlewendes op gemeenskapsvlak te help, insluitend toegang tot geregtigheid deur regshulp.
Voorts het die President Suid-Afrikaners die versekering gegee dat verskeie programme van stapel gestuur is om die ondersoekproses van die regering te verbeter en te waarborg dat wat met Uyinene Mrwetyana gebeur het, nooit herhaal word nie.
Suid-Afrika het die beskerming van die regte en liggame van vrouens en kinders met ‘n paar van die mees progressiewe en insiggewende wette ter wêreld toegepas. Soos met ander gebiede waarin die regering nie slaag nie, lê die kwessie by die implementering van die voorsorgmaatreëls wat in die Grondwet en sekondêre wetgewing uiteengesit is. ‘n Gebrek aan steun aan slagoffers en sekondêre viktimisasie in openbare verhore het daartoe gelei dat ‘n magdom verkragtingsake teruggetrek is, wat verseker dat die siklus nie eindig nie.
Verkragting word steeds as wapen gebruik en ook gebruik om mag en beheer oor vroue en lede van die LGBTQI-gemeenskap en kinders regoor die wêreld uit te oefen. Van huweliksverkragting tot regstellende verkragting, verkragting in oorloggeteisterde gebiede en in die welgesteldste woonbuurte, word vroue en kinders onderwerp aan ‘n afskuwelike vorm van marteling en skending van liggaamlike integriteit en waardigheid. Waar verkragting ongestraf bly en nie met die nodige erns hanteer word nie, word dit genormaliseer en word dit deel van die samelewing waarteen ‘n blinde oog gedraai word.
Die verantwoordelikheid om te verander val op die hele wêreldgemeenskap. ‘n Multisektorale benadering, wat op sowel slagoffers as oortreders konsentreer, is nodig om die siklus effektief te verbreek. Suid-Afrika moet begin met die erkenning van die inherente waardigheid en ander fundamentele menseregte van vroue en kinders. ‘n Menseregtekultuur moet in polisiekantore bevorder word waar beamptes slagoffers van die eerste kontakpunt tot die laaste ondersteun. Aanspreeklikheid en sanksie van oortreders moet vereis en nagekom word.
Hierdie 16 Dae van Aktivisme sal, dit ten doel het, waarskynlik ‘n moeilike tydperk vir die wêreldgemeenskap wees, en dit behoort te wees. Die enigste manier om responsiewe maatstawwe te skep, is om erkenning te gee aan die skade en die krake in die stelsels wat bestuur en dien, en dit is wat hierdie veldtog probeer doen.
Deur me Rebecca Sibanda: Regsbeampte van die Sentrum vir Grondwetlike Regte
25 November 2019