Hy het ook daarop gewys dat hy in ’n amptelike woning gebly het sonder om huur te betaal en dat hy gebruik gemaak het van amptelike vliegtuie sonder om daarvoor te betaal. Hy het gevra of dít neerkom op onregverdige bevoordeling. Toe hy daarop gewys is dat Nkandla sy eie persoonlik eiendom is, het hy gevra of dit nie die staat se plig is om die President en Adjunkpresident te beskerm nie.
Die President het daarop gewys dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) reeds bevind het dat hy nie vir die besteding aan Nkandla verantwoordelik is nie en tugstappe teen 12 amptenare aanbeveel het (’n bevinding wat vurig deur sommige van die beskuldigde amptenare betwis word).
Indien hy reg aangehaal is, opper die President se kommentaar kommerwekkende vrae betreffende sy mening oor die onderskeid tussen behoorlike staatsbesteding op bona fide projekte en uitgawes wat sy eie enorme en onregverdige verryking tot gevolg sal hê.
Die staat het natuurlik ’n plig om amptelike verblyf en vervoer aan ’n President te bied terwyl hy in sy amp dien. Dit het ook ’n plig om ’n redelike vlak van sekuriteit aan afgetrede Presidente te bied. Iets moet egter ernstig verkeerd wees indien die voorsiening van sodanige sekuriteit gevolg gee tot staatsbesteding wat die waarde van die eiendom wat beskerm word, sowel as die besteding aan sekuriteit van ander voormalige Presidente, aansienlik oorskry. Dit is spesifiek die geval wanneer ’n mens in ag neem dat die bedrag wat aan Nkandla bestee is, genoeg sal wees om 2 500 HOP-huise te bou.
Enige optrede deur die staat wat lei tot verryking met honderde miljoene rande is fundamenteel verkeerd en onaanvaarbaar. Selfs al sou dit bewys word dat die SOE reg is dat President Zuma nie vir die betrokke besluite verantwoordelik was nie, is hy steeds nie geregtig op persoonlike verryking wat desnieteenstaande die gevolg sal wees van die foute wat deur die beskuldigde amptenare gemaak is nie.
Daar kan duidelik geen vergelyking getref word tussen die bou van ’n openbare lughawe en die voorsiening van private verblyf vir aftrede nie.
PW Botha het nie eienaarskap van George-lughawe ontvang nie en het geen persoonlike voordeel uit dit getrek afgesien van die bevoordeling wat almal ontvang het wat van en na die Suid-Kaap wil vlieg nie. Dit was ook nie gebou slegs om aan President Botha se persoonlike reisbehoeftes te voorsien nie. Die Suid-Kaap het ’n lughawe dringend nodig gehad, soos geïllustreer deur die feit dat George-lughawe nou 600 000 passasiers per jaar bedien – baie meer as Oos-Londen, Bloemfontein en Kimberley.
En in elke geval – van wanneer sien President Zuma vir PW Botha as ’n rolmodel?
Wat blyk uit President Zuma se opmerkings is sy toenemende sensitiwiteit betreffende kritiek in die media oor Nkandla; sy en die ANC se versuim om te aanvaar dat die besteding van R246 miljoen aan sy private woning nie verdedig kan word nie; en die gebrek aan geloofwaardigheid betreffende die bevindings van organisasies soos die SOE, wat uiteindelik onder die beheer van die President is.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur
Foto: http://www.georgeherald.com/favicon.ico
GEORG-LUGHAWE EN NKANDLA