Die Universiteit is in 2012 deur die vakbond Solidariteit gestig met Afrikaans as die enigste taal van onderrig.
Hy het gesê hy kan nie ʼn universiteit toelaat wat toegang aan enigiemand weier nie, selfs nie as dit op taal gebaseer is nie. Hy het bygevoeg dat daar geen plek is vir rassistiese instellings nie en dat sodanige instelling nie toegelaat sal word nie.
Hy het weer gesê dat hy wil hê dat universiteite ’n reënboognasie moet weerspieël, met toelating wat gewaarborg is ongeag taal. Hy het benadruk dat hy nie teen Afrikaans as taal gekant is nie en dat dit “ons eie taal is. Ons wil dit nie vernietig nie.”
Die Minister se menings stem ooreen met ’n verklaring wat hy gemaak het tydens sy begrotingsrede in Julie vanjaar in die Parlement, toe hy gesê het dat daar nie meer so iets is soos Afrikaanse, Zulu- of Tswana-universiteite nie. “Al die universiteite in ons land is Suid-Afrikaanse universiteite en hulle moet die mense van die land dien.” Sy menings stem ook ooreen met die toenemende aandrang dat die studenteliggame en fakulteite van al Suid-Afrika se universiteite die demografiese samestelling van die bevolking as geheel moet weerspieël.
Dr Nzimande se benadering spruit nie uit die Grondwet nie – maar uit die SAKP/ANC se ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie – en meer spesifiek uit waarna dit verwys as “die Nasionale Vraagstuk” (wat verband hou met die verhoudings tussen Suid-Afrika se verskillende bevolkingsgroepe).
In ’n beleidsdokument van 2005 verklaar die ANC dat die nasionale vraagstuk, in die Suid-Afrikaanse konteks, nie in beginsel oor die regte van minderhede of etnies gemotiveerde griewe handel nie. Dit gaan hoofsaaklik oor die bevryding van die Afrikane. Elders het die ANC verklaar dat, ter oorweging van “die identiteit van die Suid-Afrikaanse nasie in wording”… “is wat nodig is ’n voortgesette stryd om die Afrika-hegemonie in die konteks van ’n multikulturele en nie-rassige samelewing te laat geld.”
Die ANC dring daarop aan dat die bevestiging van ons wese as Afrikane as ’n nasie niks te doen het met die oorheersing van een kultuur of taal bo ’n ander nie – dit is die erkenning van ’n geografiese werklikheid en die ontwaking van ’n bewussyn wat deur kolonialisme onderdruk is. Hegemonie het in werklikheid slegs een betekenis: dit beteken oorheersing, en dit is onversoenbaar met die beginsels van gelykheid en menswaardigheid waarop ons Grondwet gegrond is.
Dr Nzimande se idee van ’n “reënboognasie” is dat minderhede, vir alle praktiese doeleindes, onderworpe sal wees aan die oorheersing van die meerderheid in feitlik elke aspek van hul lewens – in hul werk, in hul skole en in hul universiteite.
Hy sê dat hy nie gekant is teen Afrikaans nie en dat hy dit nie wil vernietig nie. Soos hy egter seker weet is dít juis die waarskynlike uitslag van die beleid waarna hy streef. Ervaring regoor die wêreld wys daarop dat wanneer streekstale gedwing word om met ’n wêreldtaal soos Engels in onderwysinstellings mee te ding, die streekstaal gou uitgeroei word. Hierdie proses is reeds goed op dreef by al Suid-Afrika se universiteite wat voorheen onderrig in Afrikaans aangebied het. Indien Afrikaans egter sy status as ’n universiteitstaal verloor, sal dit ongetwyfeld ’n domino-effek op Afrikaanse skole en die Afrikaanse media hê. Waar sal toekomstige Afrikaanse taalonderwysers en joernaliste opgelei word? Afrikaans is reeds vinnig besig om as die taal van besigheid oortref te word.
Dít alles is onversoenbaar met die Grondwet se beskerming van taalverskeidenheid en multikulturalisme.
Artikel 6(4) van die Grondwet verklaar dat “alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.” Hoe is dit dan billik indien een taal, Engels, op alle universiteite afgedwing word?
Artikel 6(2) vereis dat “die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Maar hoe kan dit verwesenlik word indien hulle nie toegelaat word om te ontwikkel en blom as volwaardige akademiese taal nie – en indien een van ons inheemse tale – Afrikaans – wat hierdie status verkry het, afgeskeep word en aan die wingerdstok verwelk.
Die Grondwet erken ook die reg van alle Suid-Afrikaners om die taal van hul keuse te gebruik en aan die kultuur van hul keuse deel te neem. Maar hoe kan dit verwesenlik word indien die staat – in wese – openbare en private kulturele en onderwysinstellings verbied wat noodsaaklik is vir die bevordering, behoud en ontwikkeling van al ons tale en kulture?
Artikel 29(2) verklaar duidelik dat “[e]lkeen die reg [het] om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.” Sodoende moet “die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings oorweeg…”
Kragtens artikel 29(3) het “[el]keen die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou wat (a) nie op grond van ras diskrimineer nie; (b) by die staat geregistreer is; en (c) standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.” Akademia voldoen duidelik aan al hierdie vereistes.
Nzimande se vergelyking van Afrikaanse enkelmediumonderrig met rassisme is verregaande: volgens die ATKV is slegs 40% van Suid-Afrikaners wat Afrikaans as huistaal praat, wit; 50% is bruin; 9% is swart en 1% is Indiër.
Wat Nzimande vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sê is dat hy voornemens is om hulle te ontneem van hul grondwetlike reg op onderwys in die taal van hul keuse en om private nie-rassige onderwysinstellings te skep. Sodoende kom hy baie naby daaraan om Nelson Mandela se plegtige onderneming te ontken dat dit “nooit, nooit en nooit weer salwees dat hierdie pragtige land weer die onderdrukking van een deur ‘n ander sal ervaar nie”.
Nzimande se benadering is uit pas uit met die wêreldwye beste praktyk ten opsigte van die bestuur van ingewikkelde multikulturele samelewings; dit is onverdraagsaam van diversiteit – en dit sal Suid-Afrikaners verder verdeel wat ras en taal betref.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter/ CC BY-ND
Vir kommentaar oor verklaring:
Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
E-pos: dsteward@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622