Die wêreld se aandag is met reg gevestig op hierdie dodelike siekte – en op die vordering wat gemaak word betreffende die bestryding van die verspreiding van die siekte. Stories oor Ebola oorheers die nuus – en het ’n groot uitwerking op toerisme en reise, nie net na die lande wat deur Ebola geraak is nie, maar ook na lande regoor Afrika. Skaars ’n aand gaan verby sonder een of ander storie op internasionale TV of in die media wat met die siekte verband hou.

En tog is ’n gemiddeld van 3300 mense in Suid-Afrika gedurende elke week sedert Maart vanjaar dood aan Vigs. Ongeveer 120 000 Suid-Afrikaners (drie keer soveel as die totale aantal toeskouers in die Nuweland-stadion) is dus dood aan Vigs sedert Ebola uitgebreek het.

Daar is geen nuusberigte oor Vigs meer nie. Die media dek nie die duisende begrafnisse wat elke week plaasvind nie. Sterftes weens Vigs is nou deel van ons daaglikse lewe. En tog is elke dood tragies vir iemand: vir lewensmaats, broers en susters – vir die ouers wat hul kinders moet begrawe – en vir al die vriende wat agter bly. Kinders van Vigs-slagoffers word egter die meeste geraak – hulle word deel van die meer as twee miljoen weeskinders wat een of beide ouers weens die siekte verloor het.

Die situasie het natuurlik drasties verbeter sedert 2005 toe die epidemie ’n hoogtepunt bereik het – toe 364 000 mense aan Vigs dood is. Meer as die helfte van die totale aantal sterftes daardie jaar was Vigs-verwante sterftes. In teenstelling daarmee sal “slegs” 171 000 mense teen die einde van hierdie jaar weens Vigs sterf – wat nou slegs ’n bietjie minder as ’n derde van alle sterftes uitmaak.

Die verbetering is verwesenlik by wyse van die bekendstelling van die wêreld se grootste en mees doeltreffende anti-retrovirale program – wat nou ook byna twee miljoen van die 5.6 miljoen Suid-Afrikaners insluit wat MIV-positief is. Die regering behoort geluk gewens te word met wat vandag een van die suksesvolste gesondheidsprogramme in die wêreld is.

Daar is egter geen plek vir die oorgerustheid wat die suksesvolle voorsiening van anti-retrovirale middels op die gebied van Vigs tot gevolg gehad het nie. Die volgende ontstellende feite bly ’n werklikheid:

Sedert hierdie epidemie uitgebreek het, is die totaal seker nou al meer as vier miljoen. Dit is meer as al die soldate wat ’n land soos Brittanje verloor het in al die oorloë wat hulle al ooit gevoer het. Dink daaraan wanneer jy die meer as 900 000 papawers oorweeg wat uit die Toring van Londen vloei om soldate van Brittanje en die Statebond te herdenk wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog dood is. Die uitbeelding van ons Vigs-sterftes sal ’n vloed van blomme vier keer daardie grootte wees. Watter blom sal ons kies om hulle te herdenk?

Waarom het ons nie eens ’n monument in ons land om ons te herinner aan die groot hartseer wat hierdie siekte vir soveel miljoene van ons mense veroorsaak het nie? Ons onteer die slagoffers van Vigs deur so aanhoudend van hulle te vergeet; deur so gereeld ons rûe op hulle te draai; deur so dikwels te ontken dat hulle aan die siekte dood is. Ons moet ’n plek skep waar oorlewendes – die vriende, families, ouers en die kinders van Vigs-slagoffers – bymekaar kan kom om te treur en om hul nagedagtenis te eer. Ons het só ’n monument nodig om die lewendes voortdurend te herinner aan die bedreiging wat Vigs steeds vir ons samelewing inhou.

Onthou dit alles op Wêreld Vigsdag. Ten spyte van die media se afwesigheid, ten spyte van die sukses van die anti-retrovirale program, ten spyte van die afname in die aantal Vigs-verwante sterftes: daar is eenvoudig geen ruimte vir oorgerustheid nie. Ons het ’n plig om te onthou.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Foto: WHO

Vir kommentaar oor verklaring:

Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
E-pos: dsteward@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622

Navrae:

Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622


Leave a Reply

Your email address will not be published.