ANATOMIE VAN VERANTWOORDBAARHEID: WAT BEHELS PERSOONLIKE AANSPREEKLIKHEID IN GEVALLE VAN KORRUPSIE
Uitgereik deur Ismail Joosub, namens die FW de Klerk Stigting op 23/04/2024
Die voorkoms van korrupsieskandale het die norm in Suid-Afrika geword. Nie net ontbloot dit sistemiese wangedrag op alle vlakke nie, maar dit noodsaak individuele aanspreeklikheid noodsaak. Aan die voorpunt is die berugte “Staatskaping” saga, wat voormalige President Jacob Zuma en ‘n netwerk van staatsamptenare in ‘n web van korrupsie impliseer. Die Zondo-kommissie se ondersoeke het omkopery en tender-onreëlmatighede aan die lig gebring, wat die diep gewortelde aard van korrupsie belig.
Op soortgelyke wyse het die ontbloting van verkryging van COVID-19 persoonlike beskermingstoerusting (“PPE”) en daarmee saam opgeblase pryse en kommerwekkende belangekonflikte blootgelê. Beskuldigings van omkopery en nepotisme rondom die Digital Vibes kontrak soos aangegaan deur die Departement van Gesondheid, beklemtoon die kwesbaarheid van behoorlike toesig.
Te midde van hierdie skandale, kan die fundamentele vraag tereg gevra word óf openbare amptenare persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir korrupsie binne hul onderskeie domeine? Die onlangse Phala Phala kontroversie, wat President Ramaphosa impliseer, belig die noodsaak vir verdere ondersoek in die verband. Alhoewel wetgewing soos die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite Wet, 2004 (“PRECCA”) die blootlegging van korrupsie vereis, bly die kwessie van persoonlike aanspreeklikheid ons ontwyk.
Groter duidelikheid oor individuele verantwoordbaarheid in korrupsiegevalle, is onontbeerlik vir die bevordering van deursigtigheid en die doeltreffende bekamping van endemiese korrupsie.
Persoonlike Aanspreeklikheid en Verantwoordelikheid:
Kriminele Aanspreeklikheid:
In Suid-Afrika kan individue wat by korrupsie betrokke is, kriminele vervolging in die gesig staar onder verskeie wette, insluitend PRECCA. ‘n Persoon skuldig aan korrupsie kan in terme van PRECCA ‘n onbeperkte boete óf gevangenisstraf opgelê word (met ‘n maksimum straf wat lewenslange gevangenisstraf behels), ‘n addisionele boete gelykstaande aan vyf keer die waarde van die omkoopsom betrokke by die oortreding, of die plasing van die skuldige se detail op die Register vir Tender Oortreders (“swartlys”).
Hierdie bepaling beklemtoon die beginsel van persoonlike verantwoordelikheid, waar individue verantwoordelik gehou word vir hul optrede óf versuim om korrupsie te bekamp. In die praktyk is dit reeds in werking gestel, soos in die geval van Zinyana v Smith en Anderes, waar PRECCA aangewend was om beweerde wangedrag aan te spreek, deur dat die hof bevind het dat respondente hul pligte volgens artikel 34 (1) moet vervul. Dit bepaal dat enige persoon in gesag wat weet van, of redelikerwys vermoed dat diefstal van ‘n beduidende bedrag plaasvind, maar wie versuim om dit aan te meld, krimineel aanspreeklik gehou kan word. Versuim om dit bloot te lê kan moontlik tot gevangenisstraf óf swaar boetes lei.
Alhoewel korrupsie geklassifiseer word as ‘n statutêre misdaad wat deur PRECCA gereguleer word, kan enigiemand wat korrupsie pleeg kan ook, indien van toepassing, aan die volgende misdade skuldig bevind word:
1. Verraad:
Verraad, ‘n algemene wetsoortreding in Suid-Afrika, behels die pleging van onwettige gedrag deur individue wat trou aan die staat gesweer het met die bedoeling om die regering deur geweld om ver te werp, nasionale veiligheid in gevaar te bring, óf die grondwetlike struktuur te verander. Hoewel dit gewoonlik nie direk van toepassing is op korrupsiegevalle nie, kan gevalle waar korrupsie nasionale veiligheid in gedrang bring óf staatsintegriteit ondermyn, aanklagte van verraad regverdig. Strafmaatreëls vir verraad sluit gevangenisstraf in, met ‘n maksimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf. Alhoewel omkopery en bedrog nie inherent verraad impliseer nie, kan hul betrokkenheid samewerking van ‘n breër aard teen die staat, individue impliseer by en verantwoordbaarheid hou vir verraderlike aktiwiteite.
2. Algemene Wetsoortredings:
Algemene wetsoortredings soos diefstal en bedrog kan van toepassing wees in korrupsiegevalle wat die misbruik van fondse of bedrieglike praktyke behels. Hierdie oortredings is gebaseer op gevestigde regsbeginsels en vereis nie spesifieke wetsbepalings om individue wat betrokke is by korrupte gedrag te vervolg nie.
3. Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, 1998:
Hierdie Wet teiken georganiseerde misdaad, insluitende korrupsie-verwante misdade soos geldwassery (artikel 4) en rampokkery (artikel 2) en korrupsie in verband met getuies en sekere aktiwiteite.
Siviele Aanspreeklikheid:
Afgesien van kriminele gevolge, kan individue wat by korrupsie betrokke is, ook siviele aanspreeklikheid in die gesig staar, waar slagoffers of geaffekteerde partye finansiële vergoeding óf skadevergoeding deur middel van ‘n siviele geding nastreef. Siviele optrede kan gelyktydig met kriminele prosedures nagestreef word of onafhanklik daarvan, wat ‘n geleentheid bied vir remedie in gevalle waar kriminele vervolging mag faal as gevolg van bewyslas. Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (“PAIA”) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, 2000 (“PAJA”) fasiliteer deursigtigheid en verantwoordbaarheid deur burgers toegang tot inligting te verleen en die geregtelike hersiening van administratiewe optrede moontlik te maak. Hierdie wetgewende raamwerke bemagtig die burgerlike samelewing en fluitjieblasers om korrupsie bloot te lê en individue deur siviele gedinge aanspreeklik te hou.
Batesbeslag:
Onlangse pogings om korrupsie te bekamp, het ook op batesbeslag gefokus as ‘n manier om die opbrengste van misdaad terug te verkry en oortreders aanspreeklik te hou. Die Batesbeslag Eenheid (“AFU”) van die Nasionale Vervolgingsgesag (“NPA”) het beslagleggingsprosedures ingestel teen individue wat betrokke is by korrupsieskandale, met die doel om bates wat deur onwettige metodes verkry is, te teiken.
Die AFU opereer as ‘n gespesialiseerde eenheid binne die NPA, belas met die identifisering, naspeuring en beslaglegging van bates wat uit kriminele aktiwiteite afkomstig is. Deur middel van siviele beslagleggingsprosedures, verkry die AFU hofbevele om bates wat aan korrupsie, geldwassery en ander onwettige aktiwiteite gekoppel is, te vries óf te konfiskeer. Deur korrupte individue van hul onregmatig verkrygte opbrengste te ontneem, het die beslaglegging van bates ten doel om kriminele netwerke te ontwrig, toekomstige wangedrag te stop en gesteelde bates tot voordeel van die staat en sy burgers terug te wen.
In die geval van voormalige President Jacob Zuma, het die AFU ‘n hofbevel verkry om bates ter waarde van miljoene rande te bevries. Dit het Zuma gelas om R6,5 miljoen terug te betaal, wat vermoedelik van korrupsie-opbrengste afkomstig is. Die beslaglegging van bates, gekoppel aan deurlopende kriminele prosedures teen Zuma, dui op ‘n vasberadenheid om korrupte individue aanspreeklik te hou en gesteelde bates tot voordeel van die staat en sy burgers terug te wen.
Verder, die NPA se vorige sukses met die verkryging van ‘n beslagleggingsbevel teen die Gupta-familie se bates, insluitend luukse eiendomme, vliegtuie en bankrekeninge, beklemtoon die effektiwiteit van batesbeslaglegging as ‘n hulpmiddel om korrupsie te bestry en gesteelde fondse terug te wen.
Alhoewel batesbeslaglegging ‘n beduidende stap verteenwoordig in die stryd teen korrupsie, moet nog baie gedoen word. ‘n Verslag van Desember 2023 het onthul dat van die R57 miljard rande wat deur staatskaping verloor is, slegs R5,4 miljard tot op datum herwin is.
Internasionale Raamwerke en Aanspreeklikheid:
Binne die domein van internasionale samewerking, het Suid-Afrika sy pogings versterk om korrupsie te bekamp deur sy wetlike raamwerke in lyn te bring met internasionale standaarde en saam te werk met buitelandse regstelsels en internasionale organisasies. Die poging tot uitlewering van verdagtes wat betrokke is by korrupsiesake, soos die Gupta-broers, uit lande soos die Verenigde Arabiese Emirate en Indië, beklemtoon die belangrikheid van samewerking oor grense heen in die vervolging van transnasionale korrupsienetwerke.
‘n Ander effektiewe manier om kriminele persoonlik aanspreeklik te hou, is om hul bankrekeninge te bevries, wat hulle verhoed om toegang tot fondse te verkry wat deur korrupte aktiwiteite verkry is. Hierdie maatreël ontwrig nie alleen hul vermoe om voordeel te trek uit onwettige winste nie, maar fasiliteer ook bate-herwinningspogings deur wetstoepassingsagentskappe.
Verder beklemtoon Suid-Afrika se deelname aan globale anti-korrupsie-inisiatiewe, soos die Openbare Regspartner (OGP) en die Finansiële Aksie Taakmag (FATF), sy verbintenis tot die handhawing van internasionale standaarde van deursigtigheid en aanspreeklikheid. Tog moet die uitvoering van ooreengekome internasionale norme in werking gestel word. Dit is ongelukkig nog nie heeltemal die geval nie.
Slotsom:
In die lig van hierdie ontwikkelinge, staar die Suid-Afrikaanse regstelsel voor aansienlike uitdagings om korrupsie doeltreffend aan te spreek, terwyl die regstaat gehandhaaf word. Die toepassing van wette soos PRECCA en die vervolging van individue wat betrokke is by korrupsieskandale, is van kardinale belang om publieke vertroue te herstel en die demokratiese beginsels waarop ons nasiestaat gevestig is, te beskerm.