+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

AFRIKA-SOLIDARITEIT MOET GRONDWETLIKHEID EN DIE JEUG DIEN

Uitgereik deur Thando Malinga namens die FW de Klerk Stigting op 22/08/2025

 

Staatshoofde uit die Suider-Afrikaanse streek het onlangs onder die vaandel van die Liberation Movements Summit in Kempton Park bymekaargekom en ’n duidelike, en kragtige verklaring gemaak. Hulle sal nie toelaat dat Afrika se onafhanklikheid deur eksterne ekonomiese druk óf nuwe vorme van neokoloniale inmenging ondermyn word nie. Verteenwoordigers van SWAPO (Namibië), ZANU-PF (Zimbabwe) en die ANC (Suid-Afrika), onder andere, het weer bevestig dat sanksies en ander dwangmaatreëls nie die swaarverdiende demokratiese suksesse van bevryding mag erodeer nie. Hulle het beklemtoon dat Afrika-leiers in solidariteit saamstaan vir sosio-ekonomiese ontwikkeling – nié net in hul eie lande nié, maar regoor die vasteland.

Hierdie verenigde standpunt is meer as blote diplomatieke simboliek. Dit dui op ’n herlewing van politieke bewussyn in ’n tyd wanneer baie Suid-Afrikaners – veral die jeug – met die paradoks leef van ’n grondwetlike belofte te midde van aanhoudende ongelykheid en werkloosheid. Vir ’n generasie wat ná apartheid gebore is, is die kernvrae dringend: Wat beteken Afrika-eenheid in die een-en-twintigste eeu, en kan hierdie solidariteit die jeug werklik bemagtig? Hoe kan die verdediging van soewereiniteit teen eksterne druk ons grondwetlike demokrasie versterk – eerder as om dit te omseil?

’n Herlewing van Afrika-bewussyn begin by helderheid oor die tyd waarin ons ons bevind. Leiers het gewaarsku teen pogings om Afrika se onafhanklikheid te ondermyn deurverskillende tendense van uitbuiting: die ontginning van grondstowwe, handelsafhanklikheid wat kwesbaarheid verstewig, skuldooreenkomstes wat beleidsruimte inperk en kulturele of tegnologiese invloede wat plaaslike seggenskap en selfbeskikking ignoreer. Hierdie tendense minag nie net die kontinent se lang stryd vir bevryding nie; dit skaal ook Afrika se politieke en ekonomiese soewereiniteit af in ’n wêreld wat vinnig deur tegnologie verander word. Daarom pleit leiers vir eenheid as ’n praktiese beskermingsmeganisme vir Afrika se belange in wêrelddiplomasie, handel en regeringsbestuur. Verskille tussen bondgenote hoef nie ’n gesamentlike projek te fragmenteer nie; die kontinent se toekoms behoort groter te wees as enige enkele party óf persoonlikheid.

In sy kern dui hierdie beraad op ’n terugkeer na grondbeginsels: selfbeskikking, ’n gedeelde visie vir die vasteland en ’n stryd vir ekonomiese geregtigheid en soewereiniteit, gewortel in pan-Afrikanistiese denke. Die antikoloniale generasie het ons geleer dat politieke vryheid sonder ekonomiese vermoë broos is. Die hedendaagse weergawe van daardie insig is eenvoudig: solidariteit moet omskakel in die alledaagse middele waardeur jong Afrikane kan leer, werk, handel dryf en bou. As soewereiniteit vir twintigers wat TVET voltooi óf ’n mikro-onderneming begin werklik iets moet beteken, moet dit ervaar word as maklik oorkombare hindernisse, billiker markte en konkrete roetes na streeksgeleenthede.

In Suid-Afrika kan solidariteit nie die oppergesag van die reg vervang nie; dit moet die bondgenoot wees. Ons Grondwet anker openbare mag in menswaardigheid, gelykheid en vryheid en plaas ’n plig op die staat om regte te respekteer, beskerm, bevorder en te vervul. In een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld is die enigste volhoubare vorm van solidariteit dié wat geleenthede verbreed, selfbelang beteuel en die instellings versterk waarop jongmense staatmaak vir billike mededinging, vaardigheidsontwikkeling en ’n eerste vastrapplek in die ekonomie. Solidariteit wat verantwoordbaarheid afwater, openbare verkryging politiseer of toegang tot markte ondermyn, is selfvernietigend. Dit vernou juis die geleenthede wat die jeug die nodigste het.

Om hierdie rede moet enige kontinentale verklaring omgeskakel word in ’n praktiese program wat jongmense dáár ontmoet waar hulle hulself bevind. Dit is wanneer hulle die skool verlaat, vakleerlingskappe opneem óf voltooi, met digitale platformwerk eksperimenteer, mikro-ondernemings begin en maniere soek om buite hul eie provinsie óf land besigheid te doen. Die Afrika Kontinentale Vryehandelsgebied (AfCFTA) is hier die merkbare skakel tussen voorneme en werklike impak. As dit behoorlik geïmplementeer word, kan die AfCFTA intra-Afrikaanse handel uitbrei, vervaardigings-waardekettings verdiep en dienstemarkte oopmaak op maniere wat besonder relevant is vir jongmense. Maar dié voordele volg nie outomaties op ’n aankondiging nie; dit hang af van binnelandse hervormings wat die koste van sake doen verlaag, standaarde en doeaneprosedures vereenvoudig, logistiek verbeter en volgehou belgging in menslike kapitaal.

’n Jeuggesentreerde begrip van solidariteit begin op ‘n land se voorstoep. Munisipaliteite moet dit eenvoudiger en veiliger maak om mikro-ondernemings te bedryf. Dit behels duidelike, bekostigbare permitte, geserviseerde handelsplekke en konsekwente voldoening. Provinsies en nasionale departemente behoort padkaarte te publiseer wat prioriteits-waardekettings – soos voedselverwerking, ligte vervaardiging, herstelwerk, logistiek en digitale dienste – koppel aan werklike grensoorskrydende vraag onder die AfCFTA, met tydlyne vir standaardnakoming, marktoegang en vaardigheidsontwikkeling. Die krediet-ekosisteem moet ook aanpas: klein uitvoerbestellingsfinansiering en faktuurdiskontering vir jeugbesitte ondernemings kan ’n eerste kliënt in ’n eerste uitvoer omskep, terwyl verantwoordelike gebruik van transaksiedata alternatiewe kredietgradering kan ondersteun. Niks hiervan water soewereiniteit af nie; dit gee juis praktiese uitdrukking daaraan deur vir die volgende generasie deure oop te maak.

Terselfdertyd behoort ware solidariteit die grondwetlike orde te versterk, nie te verswak nie. Mededingingsbeleid en deursigtige openbare verkryging beskerm nuwe toetreders teen uitsluiting deur gevestigde rolspelers. Skoon, doeltreffende instellings verseker dat geleenthede verdien word – nie deur politieke guns toegeken word nie. Hoe meer oop en regverdig ons reëls is, hoe aantrekliker word Suid-Afrikaanse en streeksmarkte vir jong entrepreneurs wat bereid is om tyd en talent op nuwe idees te waag. In hierdie sin is die oppergesag van die reg nié ’n hindernis vir groei nié, maar die noodsaaklike grondslag vir inklusiewe groei wat hou.

Daar is ook ’n generasionele noodsaak wat ons nie kan ignoreer nie. Baie werklose jong Suid-Afrikaners meld dat hulle geen vorige werksondervinding het nie – wat beteken die eerste geleentheid is dikwels die moeilikste om te kry. Die beraad se verwysings na die “beskerming van suksesse wat behaal is” moet gepaard gaan met praktiese stappe om daardie eerste gaping te oorbrug. Dit behels vakleerlingskappe met werklike plasings, TVET-programme wat aan werklike bedryfsbehoeftes gekoppel is, dienslewerende handelsentrums naby logistieke korridors, vinniger erkenning van vaardighede (insluitend mikrokwalifikasies) en volgehoue belegging in digitale geletterdheid. Om solidariteit eerlik te hou, behoort die regering kwartaalikse, ouditeerbare aanwysers te publiseer wat jeuguitkomste aan streeksintegrasie koppel. Onder andere geregistreerde uitvoerebesighede in jeugbesit, eerstekeer-uitvoerders, voltooide vakleerlingskappe en oorgrens kontrakte in goedere en dienste.

Om hierdie hernude bewussyn aan die Grondwet te koppel, bou ’n intergenerasionele brug. Die stryd om vryheid was nooit bedoel om by die stembus te eindig nie. Dit was bedoel om die ruimte te skep waarbinne elke persoon hul talente in waardigheid kan aanwend. Die Grondwet bied die ruimte en gee ons die wettige instrumente om dit uit te brei. Om momentum te gee aan Afrika-solidariteit, moet die vlag daarvan stewig in grondwetlike grond geplant word waarin menswaardigheid, gelykheid, vryheid, verantwoordbaarheid en die oppergesag van die reg kan gedy. Só word soewereiniteit ‘n werklikheid en nié net ’n simbool nié.

Die Stigting verwelkom doelgerigte Afrika-samewerking wat die grondwetlike orde versterk en meetbare voordele vir jongmense lewer – meer vakleerlingskappe, meer eerste werkgeleenthede, meer jeugbesit ondernemings wat uitvoer en meer voorspelbare, deursigtige reëls. As meer jong Suid-Afrikaners met die volgende vrystelling van die kwartaallikse indiensname-syfers die drumpel na waardige werk oorsteek, sal Kempton Park meer as net ’n reeks toesprake en onderhandelinge gewees het. Dit sal ’n stap nader aan die belofte wees dat elke jongmens – in Suid-Afrika en regoor die streek – nié net die reg het nié, maar ook die werklike kans om in vryheid gestalte aan die toekoms te gee.