ARTIKEL: DIE KONSTITUSIONELE HOF EN GELYKE KANSE: WAT HET GEBEUR?

foter sa flags celebrate

Op 10 Oktober 2019 lewer die Konstitusionele Hof (KH) uitspraak in die saak waarin Gelyke Kanse (GK) aansoek doen dat die 2016-taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch (US) ter syde gestel word omdat dit ongrondwetlik is. GK se aansoek was in wese ‘n appél teen die Wes-Kaapse Hoogeregshof se vroeëre uitspraak, en ‘n versoek om die Appélhof verby te gaan en direk na die KH te kom. Dit is toegestaan.

Die oorhoofse uitspraak - waarmee al tien die regters saamgestem het - is geskryf deur regter Edwin Cameron (wat onlangs as nuwe kanselier van die US aangestel is). Daar is ook twee bykomende uitsprake, een deur hoofregter Mogoeng Mogoeng en die ander deur regter Johan Froneman, waarin bykomende perspektiewe gegee word.

In ons grondwetlike bestel is dit moontlik dat mens van die uitsprake van die howe en ook die Konstitusionele Hof kan verskil sonder om vir minagting van die hof aangekla te word. Die voorwaarde is dat dit in redelikheid en met respek gedoen word. Dit is die uitgangspunte van hierdie artikel.

Die beginsel van “toepaslike regverdiging” (“appropriate justification”)
‘n Kernelement in die KH se uitspraak is dié van “appropriate justification” (toepaslike regverdiging). Dit kom uit die bekende  KH-uitspraak oor Hoërskool Ermelo se taalbeleid in 2009. Daarin sê regter Albie Sachs dat waar ‘n leerder reeds die voordeel van onderrig in keuse van taal geniet, die staat die negatiewe plig het om hierdie reg nie weg te neem of te verminder sonder “toepaslike regverdiging” nie. 

Die KH aanvaar die US se bestuur se motivering dat die 2014-beleid, waar Afrikaans en Engels gelyke status geniet het, moes verander. Die redes was dat die swart studente van die US, wat oorwegend nie Afrikaans kan verstaan nie, deur daardie gelyke behandeling “gestigmatiseerd, gemarginaliseerd en uitgesluit” gevoel het. Dit vloei uit afsonderlike lesings in dieselfde vak (sommige in Afrikaans, ander in Engels), en simultane tolking in lesings wat in Afrikaans aangebied is. Dit het ook gevloei uit die algemene gebruikstaal van Afrikaans op die kampus. Die US voer aan dat die gelyke behandeling van Afrikaans nie meer houdbaar as dit studente sò laat voel nie is nie en dat dit daarom afgeskaal moet word. Die KH aanvaar dit en gaan selfs verder deur te sê dat die US se mening dat die 2016-beleid nie Afrikaanse onderrig verminder  nie, maar net herrangskik, nie waar is nie. Die 2016-beleid gee effektief voorrang aan Engels om die US se doelwitte van “gelyke toegang, veeltaligheid en integrasie” te bevorder. Terloops, hoe die voorkeur vir een taal veeltaligheid kan bevorder weet net die geagte regters! Die gebruik van Afrikaans by die US is nou onderhewig aan beskikbare hulpbronne - en dit is te duur vir die US om dit redelikerwys doenlik reg te kry. Daarmee, so verklaar die KH, het die US “toepaslike regverdiging” vir die afskaling van Afrikaans by die US gegee.

Hoe het dit gebeur dat die KH, wat nogal op eie koste die eedverklarings en ander verklarings in Afrikaans laat vertaal het, tot hierdie gevolgtrekking gekom het? Daar was hoofsaaklik drie  probleme waarmee GK in die hofsaak en uitspraak te doen gekry het.

Die toepassing van die beleid was buite perke 
Omdat GK die eerste aansoek in die Wes-Kaapse Hoogeregshof gebring het vòòr die begin van die implementering van die 2016-beleid, het die KH beslis dat hulle nie die toepassing van die beleid mag gebruik in die saak nie.   Dit het tot gevolg gehad dat baie van GK se goeie getuienis van studente en personeel waaruit die negatiewe implikasies vir Afrikaans alreeds duidelik was, nie deur die KH in ag geneem is nie. As regter Cameron in sy uitspraak (op grond van die US se versekering) stel dat alle eerstejaarklasse steeds in Afrikaans aangebied sal word, kon GK se getuienis nie gebruik word om dit as vals te bewys nie - ten spyte daarvan dat talle van die eedverklarings deur studente bewys het dat dit nie waar is nie. Die ironie is dat GK hulle saak dalk te vroeg gebring het, voordat die implikasies van die toepassing van die beleid duidelik(er) was en dat hulle waarskynlik nie maklik toegelaat sal word om later ‘n “nuwe” saak te bring oor die negatiewe gevolge van die toepassing van die beleid nie. En dit is die situasie ten spyte van die feit dat die KH self die negatiewe gevolge vir Afrikaans voorsien en selfs (in hoofregter Mogoeng en regter Froneman se bykomende uitsprake) simpatieke geluide daaroor gemaak het.

Die interpretasie van “redelikerwys doenlik”
Die tweede probleem was die KH se huiwerigheid en onwilligheid om die regsfoute van hulle uitspraak in AfriForum se Kovsies-saak reg te stel. Selfs regter Froneman, wat in sy bykomende uitspraak baie positief oor Afrikaans as onderwystaal was, bevestig dat die KH gebonde is aan die Kovsie-uitspraak, al was die feite in die GK saak heel anders. Die grootste fout wat die KH in die Kovsie-saak gemaak het, was om die kwalifikasie vir die reg om in taal van keuse onderrig te word, naamlik “redelikerwys doenlik”, normatief te interpreteer en aan gelykheid en regstelling in die volgende sin van artikel 29(2) te koppel. Daar word gestel dat om die reg tot onderwystaal van keuse ‘n werklikheid te maak, die staat alle redelike opvoedkundige alternatiewe (insluitend enkel-medium instellings) moet oorweeg, maar daarby ook gelykheid, doenlikheid en die noodsaaklikheid om die verlede se diskriminatoriese wette en praktyke reg te stel. Enige eerstejaar taalstudent sal weet dat “redelikerwys doenlik” (Engels “reasonably practicable”) net daarop kan dui dat die kwalifikasie met die praktiese uitvoerbaarheid van ‘n saak te doen kan hê, soos dat dit nie onbetaalbaar duur of onimplementeerbaar moet wees nie. 

Afgesien daarvan dat dit taalkundig onsin is om dit sò te interpreteer, moet die bedoeling van die “wetgewer“ (in hierdie verband Kodesa en later die Grondwetgewende Vergadering) ook in ag geneem word. Beide Cyril Ramaphosa en Roelf Meyer sal kan getuig dat die bedoeling in die eerste sin van artikel 29(2) altyd was dat die reg tot taal van keuse die toets van praktiese uitvoerbaarheid moet slaag. Die tweede deel van die sin, waar die moontlikhede om die reg (verder) te realiseer, bring eers gelykheid, regstelling en (weer) doenlikheid na vore. In die gesaghebbende “Bill of Rights Handbook” (2013), verklaar Currie en De Waal dit ook presies as ‘n saak van praktiese en redelike toepassing. En die KH se uitspraak haal hulle nogal hieroor aan. Met respek, ons geagte howe het hier nie die taaltoets geslaag nie. En GK en Afrikaans is die slagoffer daarvan.

Die KH het wel die redelikerwys doenlik aan die koste-aspek getoets, en op grond van die US se (ongetoetste) finansiële berekenings, kom die KH tot die gevolgtrekking dat die gelyke behoud van Afrikaans naas Engels by die US te duur sal wees om “redelikerwys doenlik” te wees. Maar die KH gaan verder en bring ook die feit dat so baie (swart) studente nie Afrikaans kan verstaan en/of praat nie, as ‘n verdere element in om die “redelikerwys doenlik” onmoontlik te maak. En die feit dat hulle deur simultane tolking in klasse “gestigmatiseerd”, gemarginaliseerd en uitgesluit voel, is volgens die KH verdere redes dat die behoud van Afrikaans nie redelikerwys doenlik is nie - ten spyte van die feit dat simultane tolking internasionaal beste praktyk by onder andere die VN en die EU is. Dit is duidelik dat hierdie redes wat die US bring en deur die KH aanvaar word, nie objektief is nie - en in die ideologie van FeesMustFall in studente se “lived reality” berus.

Die gebrek aan ‘n sistemiese analise
Die derde probleem waarmee GK gekonfronteer is, is dat die KH in ‘n saak soos hierdie nie na die “groter prentjie” van Afrikaanse onderrig kyk nie. Die Hof beoordeel die feitestel op die tafel en pas daarop die regsbeginsels toe. Want alhoewel al drie die regters wat die uitsprake geskryf het, erken het dat Afrikaans as onderrigtaal deur die 2016-taalbeleid onder druk geplaas word en selfs kan verdwyn, het hulle hierdie feit nie in hulle uitspraak in ag geneem nie. En daarvoor kan hulle gekritiseer word. Regter Cameron gaan sover as om te stel dat die afskaling van Afrikaans ten gunste van Engels ter wille van gelykheid, toegang en deelname, geweeg op ‘n glyskaal van wat taalgewys verlore gaan, en wat verkry word in terme van sosiale geregtigheid, grondwetlik regverdigbaar is. En hier is die kruks: as dit oor taal gaan, weeg die indiwidu se grondwetlike regte in die interpretasie van die KH nie so swaar as sosiale geregtigheid nie. En Afrikaans en  minderheidstaalregte is die slagoffers. 

Teen die einde van sy uitspraak maak regter Cameron enkele sydelingse opmerkings. Hy erken dat die lot van inheemse tale (insluitend Afrikaans) ernstige nadenke vereis. Om die US se 2016-beleid as in lyn met artikel 29(2) te verklaar, kom met ‘n koste, wat “ons uitspraak moet erken”. Maar dan maak die regter ‘n ommekeer: hierdie probleem is nie die KH s’n nie. Die hegemonie van Engels is deel van die “mars van die geskiedenis” en is vyandig teenoor alle minderheidstale wêreldwys, ook teenoor Afrikaans. Hierdie mars van die geskiedenis en die feit dat slegs een universiteit nog Afrikaans as onderrigtaal gebruik, is ook nie US se probleem nie. En ewe vroom sluit hy af: “Yet we should not miss the cost that the diminution of Afrikaans at the University entails not only for Gelyke Kanse and its adherents, but for our world, and for ourselves”. 

Met verwysing na een van die argumente van GK, naamlik dat Afrikaans as ‘n inheemse en amptelike taal ingevolge artikel 6(4) “gelykheid van aansien” moet geniet en “billik behandel” behoort te word (en dat dit nie by die US gebeur het nie), noem regter Cameron in die verbygaan dat die Wes-Kaapse Hoogeregshof nie daarop ingegaan het nie. Maar daardie element, in samehang met artikel 6(2) oor die bevordering van inheemse tale “mag oorweging vereis”. Dit is die naaste wat die KH aan ‘n sistemiese analise kom.

Hoofregter Mogoeng bevestig dat Afrikaans ‘n Afrikataal is en dat die feit dat dit in die verlede misbruik is, nie dié taal se “Afrika DNA” beïnvloed nie. Dan maak hy die verstommende punt dat, omdat die staat nie nou die geld het om Afrikaans en ander inheemse tale in terme van artikel 6 te help nie, die korporatiewe sektor dit tog asseblief moet doen! 

Regter Froneman gaan verder en benader die saak wel sistemies. Hy begin met ‘n sterk stelling oor die KH se aanvaarding dat die 2016-beleid in lyn met artikel 9(2) is. 

Mens benodig nie internasionale studies nie, waarvan daar vele is, om te besef dat hierdie stand van sake Engels as dominante taal bevestig, nie net op têrsiêre vlak nie, maar, soos ons sal sien, ook vanaf laerskool na hoërskool tot by universiteit. Menings mag wissel oor die wysheid hiervan, maar dit is seer eienaardig dat hierdie Hof, die uiteindelike bewaker van minderheidstaalregte ingevolge die Grondwet, sy goedkeuring daaraan gee. 

Hy wys voorts hoedat die hegemonie van Engels uiters nadelige gevolge vir jong bruin en swart Suid-Afrikaners inhou, terwyl wit Engelssprekendes (met hulle eie erflating van kolonialisme) skotvry daarvan afkom.  Hy eindig met die oortuiging dat die grondwetlike bemagtiging vir elke Suid-Afrikaner om op sy/haar taal trots te wees, nie vra vir die vernietiging van ander tale nie. Om Suid-Afrika werklik veeltalig te maak, sal vereis dat almal sal saamwerk. Dit is nie “redelik onprakties” nie. 

Regter Froneman se uitspraak erken ten minste die sistemiese krisis van Afrikaans en ander inheemse tale. Maar dit het nie die uitspraak verander nie. 

Moenie die boodskapper skiet nie...
‘n Mens kan nie anders as om te oordeel dat die KH se uitspraak nie regverdig is nie, veral omdat die nie die volle prentjie in ag geneem het nie. Maar dit is belangrik om te onthou dat die instansie wat die Afrikaanse taalgemeenskap by hierdie punt gebring het, nie die KH is nie, maar die US, en die Afrikaanse sakeleiers, ouers en studente wat Engels as onderrigtaal verkies. Hulle moet ten minste deel van die skuld dra. 

Wat duidelik is (en verdere ontleding verdien), is dat Afrikaans by openbare instellings ‘n gevoelige slag toegedien is, indien nie ‘n nekslag nie. Ná die KH se uitspraak het artikel 29(2) geen waarde meer vir die Afrikaanse taalgemeenskap nie. Hulle sal ons nou op artikel 29(3) moet beroep - en private Afrikaanse instellings bou. Dit is - ironies genoeg - goeie nuus vir Soltech, Akademia en Die MOS Inisiatief. 

Theuns Eloff: Voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting 
28 October 2019

*Eers op Maroela Media gepubliseer

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.