ARTIKEL: WIE SE ERFENIS?

foter sa flags celebrate

Dit is vandag Erfenisdag. Hierdie dag is ná die 1994 onderhandelde skikking op die kalender geplaas. Die viering daarvan verskil van Suid-Afrikaner tot Suid-Afrikaner, maar President Nelson Mandela het by die eerste viering van Erfenisdag in 1995 gesê dat dit ingestel is omdat die regering besef het dat “ons ryk en gevarieerde kulturele erfnis diepgaande krag het om ons te help om ons nuwe nasie te bou”. Erfenisdag is dus nie net bedoel om verskiedenheid te vier nie, maar ook om eenheid te help bou. 

Dit is interessant dat 24 September aanvanklik nie op die lys van openbare vakansiedae was toe die Wetsontwerp op Openbare Vakansiedae in 1995 in die Parlement gedien het nie. Die Inkatha Vryheidsparty het daarop aangedring dat diè dag, waarop die Zoeloenasie tradisioneel Shakadag gevier het (vir dié Zoeloekoning se vesoenende rol tussen die verskillende Zoeloestamme), by die lys van openbare vakansiedae gevoeg moet word. Die kompromie wat aanvaar is, is dat die dag Erfenisdag genoem sou word - en vir alle Suid-Afrikaners en nie net vir Zoeloes sal geld nie.

Dit is ook interessant dat, deur die invloed van Jan Scannell (ook genoem “Jan Braai”), die dag onder ’n groot deel van die bevolking (nie net Afrikaanssprekendes nie) as “Nasionale Braaidag” bekendstaan en aktief gevier word. Aartsbiskop Desmond Tutu het so ver terug as 2007, 24 September as Nasionale Braaidag verklaar, juis omdat dit ‘n maklike manier bied vir alle Suid-Afrikaners om om ‘n braaivleisvuur hulle erfenis te vier en ook hulle gemeenskaplike patriotisme te gedenk. Nie almal het hiervan gehou nie, maar die gedagte het gegroei en vandag praat sommige swart Suid-Afrikaners selfs van die dag as Chisa Nyama (letterlik “braai vleis”).

Die woord “erfenis” het ‘n wye toepassingsveld. Elemente daarvan kan kultuur insluit (‘n mens se lewenswyse, die manier hoe mens dinge doen, insluitende etiese optrede), asook kuns in baie vorme. Dit kan geskiedenis insluit: geskrewe en mondelings oorgelewerde geskiedenis, met monumente en historiese plekke sentraal daarbinne. Erfenis is ook fisiese dinge soos ons natuurlike omgewing, berge, riviere, plantegroei en diere. Ook ons tale en godsdienste is deel van ons erfenis. 

Dit is betekenisvol dat die “vergete” artikel 235 van die Grondwet die enigste is waar die woord “erfenis” in die Grondwet gebruik word. Daar word gesê dat “enige gemeenskap wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel” die reg op selfbeskikking binne die Republiek van Suid-Afrika het. Dit bevestig dat sekere gemeenskappe ‘n taal- en kulturele erfenis het wat hulle met mekaar deel, maar wat nie noodwendig deur alle Suid-Afrikaners gedeel word nie - en dat dit in orde is. Dit beklemtoon die verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse samelewing. Verskeie ander artikels van die Grondwet (41, 83 en 185) bevestig egter ook die eenheid van die land en alle Suid-Afrikaners.

Om die kernvraag, wie se erfenis gedenk ons op 24 September, te beantwoord, is nie maklik nie - veral nie in ‘n land met so ‘n komplekse hede en verwikkelde toekoms nie. 

Eerstens is die probleem dat die huidige ANC maghebbers, wat hulleself as die oorwinnaars van die 1994 politieke oorgang beskou en uitbeeld, ‘n spesifieke siening van die geskiedenis en die begrip “nasionale eenheid” het. Wat die geskiedenis voor 1994 betref, word dit geheel en al verguis, in alle fasette. Dit is asof alles wat binne Suid-Afrika gebeur het, ideologies in die asblik van die geskiedenis gegooi word (soos wat Grondwetlike Hof regter Chris Jafta inderwaarheid van Pretoria se nie-politieke straatname gesê het). Dit het tot gevolg dat sommige Suid-Afrikaners se erfenis in die asblik gegooi word. Hierdie siening maak dus asof Suid-Afrika se geskiedenis in 1994 begin het en dat daar ‘n bose lugleegte voor daardie tyd was. Dit herinner mens aan die kortsigtige siening van die Noordwes-Universiteit dat om die 150-jarige bestaan van die Potchefstroomkampus (en voorheen die PU vir CHO) te vier, daarop sou neerkom om in die verlede te leef. Een senior ampsdraer van die NWU het selfs gesê dat dit nie nou tyd is vir feesvier nie, maar vir berou en belydenis. Met só ‘n uitspraak is dekades van ‘n erfenis wat vir duisende oud-studente belangrik en kosbaar is, in die asblik gegooi. Dit misken ook die kritiese rol wat daardie universiteit in die afgelope 150 jaar gespeel het. Wat beteken Erfenisdag as daardie erfenis weggegooi word?

Tweedens is die probleem die ANC se siening van nasionale eenheid en sosiale kohesie. Dit is ‘n kombinasie van die Amerikaanse “melting pot”-idee, waar die verskeidenheid eintlik in die eenheid moet opgaan en verdwyn, en waar daar aan taal- en kulturele diversiteit slegs lippediens betoon word. Sosiale kohesie beteken dat almal by die grootste (lees: swart) groep moet inval om deel van die meerderheid te word. Dit is ‘n grondliggende miskenning van die regte en belangrikheid van minderhede.

Aan die ander kant, en grootliks in reaksie op die bogenoemde interpretasie en onverdraagsaamheid, is daar baie Afrikaners en Afrikaanssprekendes wat Erfenisdag verskraal tot “ons groep” en “ons geskiedenis” alleen - slegs die verskeidenheid (en afgeskeidenheid) van een groep word beklemtoon. Ons trek in ons laer terug en te duiwel met die res. Só ‘n siening word ook nie tot die viering van Erfenisdag beperk nie, maar word sommer na alle fasette van die samelewing deurgetrek. En dit veroorsaak dat polarisasie en vervreemding net verdiep.

Om Erfenisdag werklik tot sy reg te laat kom, behoort ons die grondwetlike beginsels van eenheid en verskeidenheid in gedagte te hou. Afrikaners, Zoeloes, swartes, bruines of watter groep jy ook al kies om aan te behoort, woon nie alleen in hierdie land nie. Die probleme van die land is ons almal s’n om te hanteer en te help probeer oplos. En dit is patrioties en maak sin om jou deel te doen.

Maar dan moet leiersfigure soos Ace Magashule (“maak eerder van witmense die teikens in xenofobiese aanvalle”) en Panyaza Lesufi (“As iemand in Afrikaans wil leer, is dit rassisties”) deur hulle leiers in die bek geruk word oor hulle eie onverdraagsaamheid en rassisme. Erfensidag kan nie met ‘n oop gemoed gevier word as jou taal as inherent rassisties en jou wit vel ‘n teiken gemaak word nie. Dit is ironies dat dit skynbaar by Lesufi verbygegaan het dat die tema van hierdie jaar se Erfenisdag deur die regering vasgestel is as “Om Suid-Afrika se literêre klassieke geskrifte in die jaar van inheemse tale, te vier”. En Afrikaans is ook ‘n inheemse taal...

Alle Suid-Afrikaners (ook minderhede wat nie swart is nie) moet die vryheid gegun word en die verdraagsaamheid geniet om dit wat vir hulle kosbaar is uit die verlede en wat nie teen die beginsels van die huidige Grondwet is nie, te vier en te gedenk. Die aanhef van die Grondwet sê immers nie net dat ons diegene “huldig wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het” nie, maar ook dat ons diegene “huldig wat hul beywer het ons land op te bou en te ontwikkel” (en dit het vòòr 1994 gebeur!). 

As ons politieke en ander leiers daardie ingesteldheid het, kan ons in ons viering van Erfenisdag gevolg gee aan die laaste sin in daardie paragraaf van die aanhef tot die Grondwet: 

(Ons) Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”.

Maar as lojale Suid-Afrikaners en trotse Afrikaners en Afrikaanssprekendes moet ons nie toelaat dat ons viering van Erfenisdag bepaal of selfs beïnvloed word deur die skewe en ideologiese sienings van die Magashules en die Lesufis van die wêreld nie.  Dus: wanneer jy môre daardie vleisie op die kole sit saam met lede jou eie groep, dink ook met meelewing aan al die ander groepe wat in hulle diversiteit anders lyk en praat as jou groep, maar wat saam met jou trots Suid-Afrikaans is. Dit is ‘n ware Erfenisdag...

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
24 September 2019

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.