linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: KAN CYRIL EN TITO SE EKONOMIESE VLIEËR VLIEG?

Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) , het op 28 Augustus  ‘n verslag uitgereik met die naam “Running out of Road: South Africa’s public finances and what is to be done”. Hulle gevolgtrekking is dat as Suid-Afrika nie sy fiskale krisis oorkom nie, daar geen versnelde ekonomiese groei sal wees nie. Die teenoorgestelde is egter ook waar: as ons groei nie aan die gang kom nie, sal ons nie die fiskale krisis kan baasraak nie. Suid-Afrika het ‘n onversetlike groeistrategie nodig, wat streng toegepas moet word. CDE-hoof Ann Bernstein waarsku dat dit nie lyk asof die regering en die regerende party ten volle besef hoe diepgaande die vereiste veranderings is nie, en hoe baie leierskap dit van die President sal vat om dit reg te kry nie. 

‘n Dag vroeër maak die Minister van Finansies, Tito Mboweni, bekend dat daar op die Tesourie se webwerf ‘n dokument geplaas is waarop enigiemand tot 15 September kan kommentaar lewer. Die naam van die plan is “Ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid - oppad na ‘n ekonomiese strategie vir Suid-Afrika”. Sonder dat dit gesinkroniseer is, begin die plan breedweg doen waarvoor die CDE pleit. 

Die vertrekpunt van die plan is dat die kombinasie van lae groei en stygende werkloosheid beteken dat Suid-Afrika se ekonomiese kurwe nie volhoubaar is nie. Die regering moet dus ‘n reeks “groei-hervormings” implementeer wat ekonomiese transformasie bevorder, inklusiewe groei ondersteun, en ‘n ekonomie skep wat internasionaal mededingend sal wees. Die interessante feit is dat in die detail van die plan daar ook strategieë voorgestel word wat die staatskas (die fiskus) sal versterk en skuldvlakke sal afbring. Een hiervan is om Eskom kragstasies aan private maatskappye te verkoop. 

Alle Suid-Afrikaners wat ‘n bietjie insig in die politieke ekonomie het, weet dat naas staatskaping en korrupsie, die grootste probleem wat Suid-Afrika het, die “aaklige drieling” van armoede, ongelykheid en werkloosheid is. Tito se plan stel ‘n “deugsame” drieling voor: ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en internasionale mededingendheid. Hierdie drie is aanvullend tot mekaar en sal ‘n “deugsame spiraal” vorm. 

Sedert hy President geword het, lê Cyril Ramaphosa baie klem op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat die basis van alle regeringsbeleide en -planne moet wees. Om dit te kan laat waar word, kan mens dink dat die President aan elke Minister kon gesê het: “Gee my ‘n vyfjaarplan gegrond op die beginsels van die NOP”. Sy minister van Finansies (wat hy ten spyte van Mboweni se aanvanklike teësinnigheid teruggebring het kabinet toe) het dit nou gedoen. 

Maar is dit net Mboweni en sy Departement se plan? Oud-president Mandela het baie maal ‘n ANC jeugleier gebruik om ‘n vlieër op te stuur - om iets in die openbaar te toets wat Mandela as gevolg van die aanvegbaarheid daarvan, nie self wou doen nie. Is die ekonomiese plan miskien Cyril se eie wat Tito nou vir die eerste keer lug gee? Al sal sommige meen dat die plan groter impak sou gehad het as die President dit self aangekondig het, kan mens ten  minste aanvaar dat die President in die breë geweet het wat in sy vertroude Minister van Finansies se plan gaan staan.

Die plan begin om ses fundamentele boublokke van volhoubare groei te noem, en identifiseer daarna ‘n reeks spesifieke en gedetaileerde hervormings om ekonomiese groei te bevorder. 

Die boustene is:

  • die verbetering van onderwysuitkomste;
  • werk- en opleidingsgeleenthede vir die jeug;
  • volhoubare stede en inklusiewe vervoerstelsels;
  • strategieë om die vaardigheidstekort in die ekonomie te verbeter;
  • die skep van ekonomiese instellings en ‘n bekwame staat, en ten slotte
  • stabiele makro-ekonomiese beleid (as voorvereiste vir volhoubare ekonomiese groei).

Die plan het vyf groeitemas waarbinne telkens spesifieke strategieë voorgestel word. 

Die eerste hiervan is die modernisering van “netwerk industrieë” soos vervoer, energie, water en telekommunikasie. Dit kan mededingendheid en inklusiewe groei bevorder. Dit is in hierdie afdeling waar hervormings by Eskom genoem word, asook die oopstel van die breë band spektrum in telekommunikasie, die oopstel van Transnet se spoor- en hawestelsel, en belegging in waterinfrastruktuur. 

Die tweede tema is groter mededingendheid, wat ‘n hefboom vir inklusiewe groei en ekonomiese transformasie kan wees - deur die groei van klein firmas te bevorder en nuwe deelnemers in die mark te kry. Hier word veral op die vermindering van burokratiese rompslomp (“red tape”) gefokus, insluitend rassetransformasie.

Die derde groeitema is arbeidsintensiewe ekonomiese groei, wat noodsaaklik is om onaanvaarbare hoë vlakke van werkloosheid om te draai. Die plan fokus veral op landbou en verwys goedkeurend na die pro-aktiewe rol van landbou om meer swart landbouers te help vestig. Spesifieke aandag word gewy aan die belangrikheid van toepaslike finansiering, toegang tot plaaslike en internasionale markte, voldoende landbouversekering en hulp aan opkomende boere.  In terme van toerisme word melding gemaak van ‘n makliker visa-regime en veiligheid van toeriste. 

Die vierde groeitema is ‘n gefokusde en buigsame industriële en handelsbeleid om mededingendheid en langdurige groei te bevorder. Hier word klem gelê op “veredeling” (“beneficiation”) van rou produkte en uitvoere. 

Die laaste groeitema is die optimale gebruik van internasionale- en streekswaardekettings, deur die verbetering van uitvoere en uitvoermededingendheid.  

Die plan bepaal ten slotte die voordele wat op die kort-termyn (na twee jaar), die mediumtermyn (na vier jaar) en die langtermyn (vanaf sewende jaar) behaal kan word. Dit sluit meer as een miljoen werkgeleenthede en ekonomiese groei van tot 3% per jaar in. 

Wat is die betekenis van die Mboweni-groeiplan? Nie alles wat voorgestel word is nuut nie, maar dit is die eerste keer dat soveel ekonomiese hervormings van so ‘n ingrypende aard in een dokument saamgevat word. Dit is ‘n tweedens ‘n beleidstuk met praktiese voorstelle wat direk op die NOP gegrond is, waarskynlik ‘n eerste van sy soort - en ‘n voorbeeld wat ander ministeries gerus kan volg. 

Die plan tref ‘n fyn balans tussen ekonomiese transformasie (maar nie op grond van ras nie), inklusiewe groei en internasionale mededingendheid. Trouens, die woord “ras” kom nêrens in die dokument voor nie, iets wat verwelkom moet word. Die woord “swart” kom net twee keer voor: een keer waar swart ekonomiese bemagtiging as ‘n remblok vir klein sake beskryf word en een keer in die sin van swart nywerheidsleiers. 

Alhoewel “privatisering” nêrens in die dokument voorkom nie, word “private sektor” meer as veertig keer gebruik - meestal met klem op die kundigheid, ervaring en deelname van die sektor aan die strategieë wat die plan voorstel. Dit is duidelik dat die plan ‘n groot rol vir die private sektor in groei-hervormings voorsien, in vennootskap met die staat, en soms ook op terreine wat voorheen slegs of grootliks deur die staat hanteer is (soos elektrisiteitsvoorsiening en telekommunikasie-infrastruktuur).

Die klem om dit vir klein- en medium ondernemings makliker te maak om te groei, is ‘n groot plus en iets wat sal kan slaag, veral omdat die vakbonde nie ‘n ledebelang het nie en dit nie kan teenstaan nie. As besighede met minder as R50 miljoen omset byvoorbeeld van rassetransformasie en ander regulasies vrygestel kan word, kan hierdie sektor ‘n enjin van groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie word. 

Daar is ook (ten regte) ‘n sterk fokus op landbou, en veral omdat dit kan help met arbiedsintensiewe groei en help om werkloosheid te verminder. Dit is veral betekenisvol dat die plan ‘n sydelingse opmerking oor grondhervorming maak. Die uitdaging met die belangrike proses van grondhervorming lê in hoe dit aangepak word en watter model toegepas word. Om onsekerheid te voorkom, moet dit gedoen word op ‘n deursigtige, konsultatiewe manier en binne ‘n breë raamwerk wat kan verseker dat faktore wat krities is vir voortgaande belegging in landbou en voedselsekerheid (soos veiligheid van private eiendomsreg) deurgaans gerespekteer word. Hierdie is oorwoë woorde, wat ‘n sterk sein uitstuur dat ten minste die Tesourie nie voorstanders van ‘n onverskillige verandering aan artikel 25 van die Grondwet nie. 

Of dit Cyril se vlieër is wat deur Tito opgestuur word, of Tito se eie vlieër, bly die vraag: gaan dit vlieg? Kritiek en instemming het reeds begin instroom. Kritiek het veral van die vakbonde gekom, wat te verwagte meestal oor Eskom en die rol van die private sektor gekla het. Nadat die kommentaartyd op 15 September gesluit het en die finale plan vroeg in die nuwe jaar aan die Kabinet en dalk aan die Parlement voorgelê word, sal die antwoord of dit kan vlieg, duidelik word. Die groeiplan is ‘n duidelike teken dat die hervormings-gesindes in die ANC daadwerklik die inisiatief in ekonomiese groeihervormings wil neem. Al sal puriste sê dat dit nou alles of niks is nie, is die politieke werklikheid dat sekere dele sal vlieg en ander nie. Dit is die aard van die politiek en die lot van ‘n verdeelde ANC. Hoe President Ramaphosa dit in die komende maande gaan hanteer, sal bepaal hoeveel dele van hierdie mooi vlieër gaan vlieg.

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
4 September 2019

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

 

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun [WATCH] Former President De Klerk participating in panel discussion on "The Power of Law vs The Law of Power"… https://t.co/GTdGSBZc6G
FWdeKlerkFoun Attending and participating in the 17th #NobelPeaceSummitYucatan This year 30 Laureates, Prize-awarded organization… https://t.co/1YVLNoIaIl

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.