ARTIKEL: VERNIETIG DIE SKYN VAN DIE KWAAD, MNR DIE PRESIDENT

ARMY opt

Die onverkwiklike saga rondom die CR17 presidensiële veldtog se befondsing is steeds in volle swang. Vir gewone Suid-Afrikaners is dit duidelik dat die Openbare Beskermer (OB) haar mes in het vir President Ramaphosa en van sy ondersteuners, veral Pravin Gordhan en Derek Hanekom. En die gelekte inligting oor die donateurs en ontvangers van sommige van hierdie fondse laat ‘n hele klompie vrae ontstaan.

 

Die President se kantoor (en die ANC) hou voet by stuk dat daar niks verkeerd was met die veldtog en sy befondsing nie, dat die ontvangstes en uitgawes behoorlik ge-oudit is en dat geen wet, parlementêre regulasie of kode oortree is nie. En tegnies is hulle reg, en ‘n hele aantal kommentators en regskenners het dit reeds bevestig. Daarby is dit duidelik dat die OB se ondersoekmandaat net geld vir openbare fondse en dat sy dus geen reg gehad het om die CR17 veldtog se fondswerwing te ondersoek nie - ten spyte van haar argument dat sy in die geval van “geldwassery” wel ondersoekmag het. Dis ook so helder soos daglig dat die OB, om die minste te sê, uiters selektief in haar ondersoeke is, en dat dit amper uitsluitlik op die Ramaphosakant van die ANC fokus en die Zuptas in vrede laat (woordspeling met opset).

‘n Mens kan daarby voeg dat die OB volhou dat die inligting oor die donateurs en begunstigdes wat sy by die Finansiële Intelligensiesentrum (FICA) verkry het, regmatig was en dat sy dit nie aan die media gelek het nie. Maar die vraag wat knaag is hoedat die FICA afskrifte van e-pos korrespondensie in sy besit sal kry? Dit lyk of FICA ten minste nie die enigste bron is nie, wat die OB se vorige verbintenis met die Staatsveiligheids-agentskap na vore bring. ‘n Ander interessante vraag is wat sou gebeur as ‘n hof bevind dat sy het geen bevoegdheid gehad het om CR17 te ondersoek nie (omdat dit nie oor openbare fondse gegaan het nie) en die hof haar verslag daarom ongeldig bevind. Dan is daardie inligting reeds in die openbare domein - en dus onregmatig bekom. Dit is waarskynlik om hierdie rede dat die Hooggeregshof die Ramaphosa-aansoek toegestaan het om die inligting te verseël totdat die saak oor die wettigheid van die bekom van die inligting voor die hof kom.

Maar ongelukkig is dit nie hier waar die saak se belangrikheid eindig nie. Die ervare en eerlike SAKP-leier Jeremy Cronin (en ‘n Ramaphosa-ondersteuner) skryf onlangs dat dit ‘n “saak van ernstige kommer is” dat DA-leier Mmusi Maimane se leierskapsveldtog R100 miljoen ingesamel het en dat dit “hoogs problematies” is dat die CR17 veldtog amper ‘n half miljard rand ingesamel het. Volgens hom is hierdie “besigheidsgeld” in partypolitieke veldtogte egter iets heel anders as om die staat van miljarde rande te stroop. 

Die erkende politieke kommentator en skrywer Ralph Mathekga skryf in dieselfde week dat “ons onlangs verbyster is” deur die hoeveelheid geld wat vir CR17 ingesamel is en wonder wat daarmee betaal is en wat die verwagte opbrengs vir donateurs was.

Die punt wat hierdie kommentators en baie Suid-Afrikaners maak, is dat as mens die President van ‘n land is wat daardie land uit die moeras van staatskaping en korrupsie moet lei - en waar die verwagting is dat jy amper eiehandig die probleme moet oplos - dan weeg ander faktore swaarder as regstegniese argumente. Dan gaan dit oor eerlikheid en openheid en integriteit. Dan skiet die (geldige) argument dat geen wet of regulasie oortree is nie, tekort.

‘n Mens kan verder gaan en sê dat as mens ‘n ANC-ondersteuner is en jy het ‘n President wat sy hele veldtog daarop gebou het om anders te wees as die staatskapers en korruptes, dan verwag jy meer as regstegniese argumente. Dan weeg wat jy as presidentskandidaat vooraf gesê het, swaarder.

Die meeste donateurs sou basies vir twee redes geld aan CR17 geskenk het: hulle het Cyril Ramaphosa vertrou om ‘n goeie President te wees en hulle het besef dat dit in Suid-Afrika se belang is dat die Zupta’s se greep van staatskaping verbreek moet word. Die meeste van hulle het waarskynlik gevoel (en voel steeds) dat hulle waarde vir hulle donasie gekry het. Hulle vind dit waarskynlik jammer dat die vertroulikheid van die donasies verbreek is, maar hulle het nie daaroor slapelose nagte nie. 

Wat die uitgawes betref, soos in die gelekte inligting na vore kom, is dit duidelik dat ‘n hele rits indiwidue en organisasies geld ontvang het. Van die indiwidue is gewoon voltyds in diens geneem as veldtogbestuurders. ‘n Mens het ook die talle advertensies oor die CR17 veldtog op TV en in die koerante gesien. Die oorspronklike Sunday Timesartikel beweer dat sekere donasies eers ná die Nasrec-konferensie gemaak is en dat nie al die fondse bestee is nie. Die res is reeds in ‘n reeks rekenings belê, waarskynlik vir gebruik in toekomstige veldtogte. Die spesifieke doel van elke uitgawe is egter nie duidelik nie, en dit is een van die bekommernisse onder gewone Suid-Afrikaners. Die vraag is: het CR17 ook gedoen wat die Zuptakant by Mangaung en Nasrec gedoen het, naamlik om met bruin koeverte in kattebakke die afgevaardigdes se stemme te koop? Dit mag onwaarskynlik klink, maar gewone Suid-Afrikaners se hoop op Cyril Ramaphosa maak dit noodsaaklik om enige twyfel hieroor en ander sake uit die weg te ruim.

President Ramaphosa is dit daarom aan sy donateurs en interne ANC ondersteuners, maar belangriker nog, alle goed bedoelende Suid-Afrikaners verskuldig om méér te doen as om vol te hou dat hy niks onwettigs gedoen het nie. Dit weet ons. Maar onder hierdie omstandighede moet hy méér deursigtig, méér eerlik en méér openlik wees as wat die reg en die reëls verwag. Hy moet die ouditverslag van CR17 bekendmaak, maar hy moet ook ander besonderhede bekend maak, veral waarvoor die grootste deel van die uitgawes gebruik is. Sulke deursigtigheid sal geen skade vir donateurs meebring nie - hulle name is reeds in die openbare domein. Dit sal ook geen skade vir legitieme ontvangers wat hard aan die veldtog gewerk het, meebring nie. Hulle name is meestal ook bekend en hulle kan goed voel dat hulle harde werk suksesvol was. 

Om só die skyn van die kwaad uit die weg te ruim, sal onnoembare voordele vir die land en President Ramaphosa hê. Goed bedoelende Suid-Afrikaners (ook buite die ANC) sal weer en groter hoop kry dat ‘n nuwe daeraad inderwaarheid voorlê. Dit sal hulle motiveer om meer te doen om die land te laat werk en slaag - ten spyte van die negatiewes en die pogings van die Zuptas om dit te ondermyn.

President Cyril Ramaphosa het Donderdag in die Parlement ‘n geskeduleerde vraetyd-sessie. Kom os hoop hy gebruik dit om die skyn van die kwaad te vernietig.

Theuns Eloff: Voorsitter, Adviesraad van die FW de Klerk Stigting
22 Augustus 2019

*Eers op Maroela Media gepubliseer