linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: OM ARTIKEL 25 TE WYSIG OF NIE...

ARMY opt

Die verslag van die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou is op 4 Mei 2019 aan president Ramaphosa oorhandig en in Julie aan die publiek beskikbaar gemaak. Reeds voor hierdie datum het twee paneellede - Dan Kriek (president van AgriSA) en Nick Serfontein (bekende boer) - besluit om ‘n  minderheidsverslag aan die president te oorhandig. Dit is nádie hoofverslag aan die publiek bekendgestel. 

Wat is die kernverskille tussen die hoofverslag en die minderheidsverslag? Hoekom het hierdie twee gesiene paneellede dit nodig gevind om ‘n minderheidsverslag op te stel?  Die verskille kan in drie groepe saamgevat word: proseskwessies, styl en ideologiese kwessies en inhoudelike kwessies.

Wat die proses van die adviespaneel betref, is die minderheidsverslag taamlik krities. Die onderskeie werkgroepe het te lank geneem om hulle verslae af te handel en daarom kon daar nie betyds en voldoende op die inhoud daarvan kommentaar gelewer word nie. Met ‘n spertyd van 31 Maart om ‘n verslag aan die Interministeriële komitee te oorhandig, was sekere werkgroepverslae op 24 Maart steeds uitstaande en die eerste konsepverslag is eers laatmiddag op 29 Maart aan paneellede gestuur met ‘n spertyd vir kommentaar minder as 48 uur later. Die eerste verslag was duidelik ‘n “sny-en-plak” produk. Kommentaar deur Kriek en Serfontein is nie in die finale verslag voldoende in ag geneem nie - alhoewel daar wel sydelings in die hoofverslag melding gemaak word van verskille tussen lede. Die minderheidsverslag se hoofbeswaar oor die proses is dat nátwee kollokwiums die standpunte van deelnemers “op ‘n manier” deel geword het van die verslag se aanbevelings, sonder dat daar enigsins ‘n poging was om konsensus tussen paneellede te kry. 

As mens die hoofverslag indringend lees, is die haas waarmee dit opgestel is, duidelik. Daar is ‘n hele paar spel en grammatikafoute, en baie herhalings. Dit kan aandui dat daar verskillende outeurs vir verskillende dele was (wat met so ‘n verslag nie ongewoon is nie) maar dit is wel duidelik dat daar nie goed geredigeer was om herhalings en veral teenstrydighede te voorkom nie. Die voorwoord van die voorsitter bevat byvoorbeeld ander klemtone as die hoofdeel van die verslag (soos die saak van gewillige verkoper, gewillige koper). Die argumentasie in die hoofdeel van die verslag bevat hier en daar aanbevelings, en die hoofstuk met aanbevelings bevat heelwat argumentasie, dikwels herhalend. Die vraag kan dus tereg gevra word: indien nie die skrywers van die minderheidsverslag nie, wie van die paneellede het dan die hoofskryfwerk gedoen? En hoekom is daar nie na konsensus gesoek nie?

Wat die aanpak,  styl en ideologiese kwessies betref, noem die minderheidsverslag die “ontsaglike groot klem” op sosiale kwessies in die verslag, wat volgens hulle nie werklik deel van die mandaat uitgemaak het nie. Daarmee saam noem hulle die sogenaamde “klas-agenda” ten opsigte van grondhervorming, waarmee bedoel word dat toegang en besit tot grond as die groot gelykmaker tussen ryk en arm gesien en gebruik moet word. Hulle probleem is dat grondhervorming in landbou sterker klem op produksie, effektiwiteit en voedselsekerheid moet plaas. Kriek en Serfontein wys daarop dat daar ‘n onderliggende aanname in die verslag is dat blote toegang tot grond opsigself ‘n beter lewensstandaard vir arm Suid-Afrikaners sal meebring. Hulle sêdat dit gewoon nie waar is nie en dat die geskiedenis dit bewys. 

As ‘n mens tien sterk leiers oor grondhervorming op een paneel plaas, moet mens aanvaar dat ideologiese sienings oor klas en armoede nie verbloem sal kan word nie. ‘n Mens kan wel verwag dat die proses dan sterker moet wees om groter konsensus te soek of ten minste om inklusief ander se menings ook in die verslag te plaas. Die tydsdruk en gebrek aan optimale bestuur van die proses het dit klaarblyklik nie toegelaat nie. Dit is ‘n groot jammerte en gebrek wat ooglopend is.

Die verskille oor inhoudelike kwessies is uiteraard die belangrikste. Hieronder tel die voorgestelde moratorium op afsettings van werkers van plase, omdat dit ook die regte van die grondbesitters in gedrang bring en tot grootskaalse grondbesittings kan lei. Die minderheidsverslag steun ook nie die voorstel dat van die beginsel van gewillige koper-gewillige verkoper afgesien moet word nie, omdat dit in die meerderheid van gevalle steeds ‘n belangrike oorweging sal en moet wees.

Die sterkste inhoudelike verskil lêegter op die terrein van onteiening sonder vergoeding (OSV) en die wysiging van artikel 25 van die Grondwet. Die minderheidsverslag is duidelik: die verslag behoort nie enige verwysing na OSV en ‘n wysiging van die Grondwet te bevat nie. Daarmee saam moet daar ook nie ‘n vergoedingsbeleid opgestel word nie - die beginsel van regverdige en billike vergoeding in art 25(3) moet deur die howe op ‘n saak-tot-saak grondslag bepaal word.

Die hoofverslag hanteer OSV op verskillende plekke en dit is nie altyd duidelik wat die primêre aanbeveling is nie. In die voorwoord sê die voorsitter, Dr Vuyo Mahlati, dat die paneel rigting gee oor maniere waarop art 25 verander kan word om onder sekere omstandighede voorsiening te maak vir zero vergoeding. In die hoofdeel van die verslag word gestel dat met die huidige bewoording van art 25, OSV ongrondwetlik sou wees (p71). As die (politieke) doel van ‘n grondwetlike wysiging is om weg te beweeg van ‘n verpligtende vergoedingsgebaseerde vereiste, kan ‘n nuwe art 25(2)(c) lees dat die Parlement wetgewing moet daarstel wat gevalle beskryf waar OSV moontlik is vir grondhervorming (soos wat art 25(8) bepaal).  Die paneel bevind dat as ‘n grondwetlike wysiging ten doel het om OSV die reël te maak en op grootskaal sonder voorwaardes toe te pas, dit teen artikel 1 van die Grondwet sal wees - veral die oppergesag van die reg. Maar in die hoofstuk met die aanbevelings word gestel dat die paneel die voorgestelde beleidswysiging ondersteun om grondwetlike voorskrifte te gebruik om OSV moontlik te maak. 

Uiteindelik lyk dit asof die paneel weifel tussen ‘n direkte wysiging van art 25(2) en die aanvaarding van die Wysigingswet op Onteiening waarin daar onder sekere spesifieke omstandighede vir OSV voorsiening gemaak kan word (soos grond wat verlaat is of wat totaal in skuld gedompel is). Hulle maak wel die aanbeveling dat ‘n nuwe Onteieningswet na die Grondwetlike Hof verwys moet word om die grondwetlikheid daarvan te toets. 

Waarmee sit die president nadat hy die paneel se verslag en die minderheidsverslag ontvang het? Dit is nie alles slegte nuus nie. Beide verslae stem saam oor die noodsaaklikheid van vinniger en meer effektiewe grondhervorming. Beide bevat en/of onderskryf goeie idees  oor hoe om grondhervorming beter toe te pas. Dit sluit ‘n grondoudit, ‘n nasionale “grond vraag opname” (‘n “land demand survey”), die daarstelling van ‘n omvattende wetsraamwerk vir grondhervorming, ‘n fonds vir grondhervorming, die aanstelling van ‘n Grondregte Beskermer, die belangrikheid van stedelike grondhervorming, en miskien die mees drastiese, die daarstel van ‘n “Agentskap vir Grond en Landelike Hervorming” - en die wegneem van daardie funksie by die huidige departemente. Daar is ook konsensus oor die foute wat die regering oor die afgelope 25 jaar ten opsigte van grondhervorming gemaak het, die korrupsie wat uitgeroei moet word en die beter stelsels vir die bepaling van begunstigdes wat gevind moet word.

Aan die ander kant belig die minderheidsverslag en veral die verskille oor art 25 en OSV, dat die president se poging om deur die aanstelling van ‘n paneel kundiges die warm patat van OSV te ontlont en ‘n grondwetlike wysiging dalk onnodig te maak, nie heeltemal geslaag het nie. Die aanbevelings van die hoofverslag is wel sagter as ‘n radikale en omvattende wysiging van art 25 en OSV as die reël. Die hoofverslag wys daarop dat sodanige wysiging teen die hele grondwetlike raamwerk sal wees (en daarom ‘n 75% meerderheid vir goedkeuring sal benodig). Dit sal die president en die een deel van die ANC-koukus kan gebruik in die debatte oor die wysiging van art 25. 

Maar die hoofverslag beveel nietemin direk of indirek aan dat OSV moet gebeur - óf deur ‘n art 25 wysiging, óf deur uitsonderings op die grondwetlike reël van regverdige en billike vergoeding in die Onteieningswet te bepaal. Dis nie goeie nuus vir die Ramaphosakant nie. In die hande van die Parlement (waar die Zuptas steeds invloed het en die EFF mondskuimend agiteer vir nasionalisering) is dit steeds ‘n gevaarlike koers. En daar is genoeg geskryf en gesê- onlangs weer deur oud-president Kgalema Motlanthe - dat enige OSV vir die land en die ekonomie katastrofies sal wees. 

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
16 Augustus 2019

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun [WATCH] Former President De Klerk participating in panel discussion on "The Power of Law vs The Law of Power"… https://t.co/GTdGSBZc6G
FWdeKlerkFoun Attending and participating in the 17th #NobelPeaceSummitYucatan This year 30 Laureates, Prize-awarded organization… https://t.co/1YVLNoIaIl

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.