linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: HOE LYK DIE TELKAART VIR DIE OMKEER VAN ONS GEKNELDE LAND?

SA flags bricks opt

Dis nou reeds ou nuus dat voormalige president Zuma verlede week voor die Zondo-kommissie verskyn. Dit het gelyk asof hy óf aan ernstige geheueverlies lei, óf geen mening oor die meeste sake het nie. 

Maar benewens hierdie nuus, is daar ‘n ander vraag waarmee die meerderheid regdenkende en bekommerde Suid-Afrikaners worstel en waarmee baie kundiges daagliks gekonfronteer word.  Is President Ramaphosa besig om die stryd om die land om te keer, te wen? Is hy aan die wen in sy stryd om die land en veral die staat te hervorm, uit die kloue van die Zuptas te red, die ekonomie te help herstel en die land op ‘n vaste koers te plaas?

Dis nie maklik om hierdie vraag met ‘n ja of nee te beantwoord nie, omdat dit kompleks is en van ‘n hele klomp faktore afhang. En omdat dit dikwels gesê word dat Ramaphosa ‘n lang en strategiese skaakspel speel, is die stand van sake ook nie altyd vir die gewone Suid-Afrikaner so duidelik nie. Max du Preez het onlangs opgemerk dat wat hom bekommer, is dat terwyl Ramaphosa skaak speel, Ace Magashule met ‘n bofbalkolf inklim...

Tans bestaan die Ramaphosa telkaart uit drie groepe faktore: negatiewes, hoofsaaklik veroorsaak deur die Zupta-faksie in die ANC; positiewes wat deur Ramaphosa en sy kant gedryf word; en dan ‘n aantal faktore wat as “eie doele” beskryf sou kon word - aangeteken deur die optrede en soms gebrek aan optrede deur die Ramaphosa-kant self.

Die faktore wat teen die Ramaphosa-planne gekant is, is welbekend. Magashule se oorwinnings in die grootte en samestelling van die Kabinet, asook die aanstelling van voorsitters van portefeuljekomitees in die Parlement is dalk die duidelikste. Al word die skakel tussen die Openbare Beskermer (OB) se heksejag teen Pravin Gordhan en President Ramaphosa self en die Zuptagroep, nie uitbasuin nie, is daar tekens dat die Zuptas hierdie keer die OB ten volle en openlik ondersteun. ‘n Strategie wat onlangs duidelik na vore gekom het, is om Ramaphosa te dwing om die soms irrasionele besluite van die ANC se Nasrec konferensie van Desember 2017 teen wil en dank toe te pas. Hieronder tel die nasionalisering van die Reserwebank en onteiening sonder vergoeding. Magashule het onlangs op ‘n openbare vergadering gesê dat hy dit as sy erflating beskou om seker te maak dat die Nasrec-besluite toegepas word. En daardie selfde naweek het Zuma by ‘n vergadering van die ANC Jeugliga gesê dat as ‘n president van ‘n organisasie weier om die besluite van sy hoogste gesagliggaam toe te pas, hy vervang moet word. ‘n Sterker dreigement en oorlogsverklaring deur die Zuptas teenoor Ramaphosa kan mens jou kwalik indink. 

Daar is aan die Ramaphosa-kant ‘n paar ligpunte wat positief is. Die belangrikste hiervan is die aanstellings wat reeds deur Ramaphosa gemaak is. Dit begin lyk asof die direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, hard aan die werk is, saam met die hoof van haar spesiale ondersoekeenheid, Hermione Cronje. Daar is selfs gerugte dat die eerste hoë profiel vervolging voor die einde van 2019 kan begin. ‘n Aantal prokureursfirma het alreeds ‘n hele aantal lêers ontvang met inligting waarvoor advokate opdrag gegee moet word vir vervolgingsake. Die regulasie wat Ramaphosa onlangs geteken het wat die Spesiale Ondersoekeenheid die mag sal gee om die 2015 omstrede asbeskontrak van die Vrystaatse regering te ondersoek, is ook betekenisvol. Hierdie kontrak is tydens Magashule se bewind as Premier toegeken, en daar was bewerings dat hy persoonlik daarby gebaat het. Indien die ondersoek wel ongerymdhede en voordele aan politici of sakemense uitwys, en vervolgings ingestel word, kan dit ‘n groot hupstoot aan hervormingspogings gee. Dit kan selfs (maar miskien moet mens nog nie asem ophou nie) die begin van die einde vir Magashule se politieke loopbaan beteken. Die President se “terugveg” in die hof oor die Gordhansaak toon ook tekens van ‘n meer pro-aktiewe optrede.

Die meeste Suid-Afrikaners glo dat Ramaphosa die land werklik wil omdraai. Maar dit word nie altyd gesien nie. ‘n Senior raadgewer van Ramaphosa het onlangs navraag gedoen waarom mense “so negatief oor Ramaphosa” is. Dit openbaar dat in Ramaphosa se eie kleiner kring van raadgewers daar nie genoegsaam begrip is oor wat aan die gang is en hoe gewone Suid-Afrikaners die situasie en die talle negatiewe mediaberigte beleef nie. 

En die derde groep faktore wat as “eie doele” beskryf word, bevestig dit. Daar is dié wat meen dat Ramaphosa se profiel te laag is en dat hy nie sigbaar genoeg is nie. Veral in die minderheidsgemeenskappe is die gevoel dat hy te min uitkom en openlik oor byvoorbeeld  sake soos bendegeweld, plaasmoorde, ekonomiese groei en die belangrikheid van eiendomsreg praat. Sy kantoor se siening dat hierdie sake deur die betrokke Ministers hanteer moet word,  mag tegnies korrek wees, maar versterk die persepsie dat hy nie in die openbaar sterk genoeg leiding gee nie. In sy Staatsrede het hy weliswaar visioenêre leiding probeer gee (wat selfs deur joernaliste gruwelik misverstaan is), maar ongelukkig het Suid-Afrikaners nou meer konkrete leiding oor spesifieke knelpunte nodig. 

Dan is daar enkele Ramaphosa-uitsprake wat blykbaar daarop gerig is om die belangegroepe in eie geledere te paai. Die mees onlangse hiervan is die vreemde uitspraak oor die VSA en Sjina oor die maatskappy HUAWEI. Selfs al is Trump nie almal se gunsteling nie, maak dit nie sin om die VSA ‘n vyand van Suid-Afrika te maak nie. In hierdie verband wonder mens wie Ramaphosa adviseer? Om deur ‘n ondeurdagte uitspraak ‘n belangegroep te probeer beïndruk wat jy in elk geval nie aan jou kant gaan kry nie, maar daardeur ‘n belangegroep wat aan jou kant is, te vervreem, is onverstaanbaar. 

Die telkaart is dus ‘n mengsel van negatiewes, positiewes en eie doele. Die uitslag van die stryd is daarom nog lank nie seker nie. En soos voorheen gesê, gaan dit nie ‘n kort stryd wees nie. Wat wel oor tyd aan die Ramaphosakant meer punte sal gee (en selfs ‘n uiteindelike oorwinning) is sy eie aanstellingsmagte as President van die land. Bestuurskundiges se raad is altyd om te begin om die regte mense op die wa te kry en die verkeerde mense af van die wa af. Dan kan die wa deur die drif. En daarmee is Ramaphosa besig. Sy aanstellings in die Nasionale Vervolgingsgesag kan binne maande vrugte vir die land afwerp. Sy interne politieke geveg in die ANC kan na sy kant toe kantel as hy met selfs groter gesag praat en optree, en wys dat, al soek hy as ‘n karaktereienskap eerstens konsensus en kompromieë, daar ‘n punt kom wat hy sy voet neersit en ‘n besluit neem. Na buite behoort hy ook meer só in die openbaar op te tree, en dit sal baie help om bekommerde Suid-Afrikaners gerus te stel dat hy hulle twyfel verstaan maar dat dinge stadig maar seker, aan die regkom is. 

Aan die een kant weet die meeste van ons dat, menslikerwys gesproke, Cyril Ramaphosa die enigste persoon is wat tussen ons en Zupta-anargie staan - en daarom verdien hy almal se steun in sy stryd. Aan die ander kant moet President Ramaphosa ook hy weet dat, menslikerwys gesproke, hy persoonlik die uitslag van die stryd kan (en moet) bepaal. Die geknelde land waarvan hy die verkose leier is, wag vir hom...

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
23 July 2019

*Eers gepubliseer op Maroela Media

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun [WATCH] Former President De Klerk participating in panel discussion on "The Power of Law vs The Law of Power"… https://t.co/GTdGSBZc6G
FWdeKlerkFoun Attending and participating in the 17th #NobelPeaceSummitYucatan This year 30 Laureates, Prize-awarded organization… https://t.co/1YVLNoIaIl

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.