linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: GOED FUNKSIONERENDE MUNISIPALITEITE - DEEL VAN PRESIDENT RAMAPHOSA SE DROOM OF ‘N VOORTGAANDE NAGMERRIE?

broken pipes opt

Twee sake in die media het die afgelope week die oog gevang. 

Suid-Afrika se grootste hoenderprodusent, Astral, het in die openbaar bekend gemaak dat sy hoenderaanleg in Standerton nie meer genoeg water van die plaaslike Munisipaliteit Lekwa (Standerton) kry nie. Hierdie aanleg is die grootste op die kontinent en slag weekliks twee miljoen hoenders. Daarby is Astral se voermeule in Standerton ook die grootste op die kontinent - een wat onlangs ten duurste gebou is na skriftelike versekerings deur die Munisipaliteit dat daar voldoende water en elektrisiteit sal wees. Die rede vir gebrek aan watervoorsiening aan die grootste werkgewer in die dorp, is die volgehoue gebrekkige en swak instandgehoude waterinfrastruktuur - pompe en pypleidings waarmee water uit die Vaalrivier 8 km ver gepomp behoort te word. 

Die tweede saak is die jaarlikse verslag van die Ouditeur-Generaal Kimi Makwetu, oor die finansiële welstand van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite - waarvan net 18 ‘n “skoon oudit” ontvang het - selfs minder as die powere 33 laasjaar. Hierdie jaarlikse verslag is ‘n herhalende verskynsel, maar dit word erger. Die Ouditeur-Generaal (OG) skryf dat die meeste munisipaliteite hulle bevindings ignoreer, en selfs ouditpersoneel intimideer en probeer druk uitoefen om bevindinge te verander of uit verslae te laat. Twaalf van 18 skoon oudits was in die Wes-Kaap en in die hele Limpopo, Noordwes en Vrystaat was daar nie ‘n enkele skoon oudit nie.

Die Grondwet is duidelik: daar is drie sfere van regering wat “onderskeidend, onderling afhanklik en onderling verbonde is”. Dit word ook “samewerkende regering” genoem (artikel 40(1)). In artikel 41(1) word bepaal dat alle regeringsfere “doeltreffende, deursigtige, verantwoordingspligtige en samehangende regering vir die Republiek as geheel voorsien” - dit sluit plaaslike regering in. Daarby stel artikel 152(1) dat die doelwitte van plaaslike regering onder andere is die voorsiening van “demokratiese en verantwoordingspligtige regering” en volhoubare dienste, en die bevordering van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en ʼn veilige en gesonde omgewing. ‘n Munisipaliteit moet volgens artikel 153(a) sy administrasie en sy begrotings- en beplanningsprosesse so struktureer en bestuur dat voorrang verleen word aan die basiese behoeftes van die gemeenskap, en dat die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap bevorder word. Dit kan nie duideliker wees nie. En tog gebeur dit nie. Volgens die OG se verslag en Astral se ervaring is dit grootliks afwesig. Die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika kom dus nie hulle grondwetlike pligte na nie. 

In Astral se geval, was daar ook ‘n groot mate van moedswilligheid, territoriale beheptheid en persoonlike belange wat ‘n rol gespeel het. Sedert die waterprobleem in Maart begin het, was die Munisipaliteit (beide amptenare en politici) grootliks onbeskikbaar. Ten spyte van ‘n krisis, is telefone nie beantwoord nie en daar was niemand op kantoor nie. Ten spyte van die feit dat MISA (die Municipal Infrastructure Support Agency, wat deur die regering ondersteun word en uit oud-ingenieurs bestaan) reeds laasjaar op die probleme met waterinfrastruktuur gewys het, is niks daaraan gedoen nie. Toe Astral aan die begin van die krisis die Adjunk-Minister van die Departement van Handel en Nywerheid gevra het om ‘n gesprek met die Munisipaliteit te kom fasiliteer, is hy uiters sleg deur die plaaslike amptenare en politici behandel - omdat hulle van mening was dat hy niks te sê het oor plaaslike sake nie! Dit is reeds bekend dat ná Sasol se R35 miljoen skenking aan die Munisipaliteit, daar ‘n vuisgeveg was oor wie die geld sou beheer. In Astral se geval het amptenare ewe neerbuigend gesê dat enige finansiële bydrae wat Astral sou maak om te help, nie noodwendig vir die waterkrisis gebruik sou word nie, maar in die diskresie van die Munisipaliteit gebruik sou word. En dit is gesê terwyl dit bekend is dat Astral die meerderheid “munisipale” pompe self gekoop en die instandhouding daarvan gedoen het. Op ‘n stadium was daar selfs sterk vermoedens dat, in ‘n poging om hulleself te verontskuldig teenoor die gemeenskap wat nie water gekry het nie, die Munisipaliteit die gemeenskap laat verstaan het dat Astral “hulle” water, steel. Dit het daartoe gelei dat die lede van die gemeenskap die reg in eie hande geneem het en die toevoer na die Astralanleg toegemaak en beskadig het. 

Die OG skryf die haglike toestand van munisipaliteite se finansies toe aan die gebrek aan verantwoordbaarheid en onvoldoende pogings om op wanoptrede of bedrog in finansiële- of voorsieningskettingbestuur (“supply chain management”) in te gaan. Nie-voldoening wat finansiële verliese en skade kan berokken, is op die hoogste vlak in jare. 92% van plaaslike owerhede is nie in lyn met wetgewing met betrekking tot bestuur en verkryging (“procurement”) nie. ‘n Ander rede vir die swak finansiële posisie van plaaslike owerhede, is hulle onvermoë om skuld in te vorder. Die ouditverslag wys verder spesifiek op die talle mislukkings in die ontwikkeling en onderhoud van infrastruktuur, insluitend paaie, sanitasie en water. Talle munisipaliteite het nie eers beleide oor roetine onderhoud nie.

Wat uit al hierdie kwessies duidelik word is dat:

  • Die meeste plaaslike owerhede in Suid-Afrika eiegeregtige eilandjies van mag geword het, soos die Engelse uitdrukking lui: “a law unto themselves”. Hulle kom nie die mees basiese van grondwetlike riglyne na nie. Daar is, op grond van die Astralvoorbeeld, ook geen respek vir ander sfere van regering nie. Die feit dat rasionele en noodsaaklike besparingsmaatreëls vir munisipaliteite deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, deur die plaaslike owerheidsliggaam SALGA gestuit kon word, versterk hierdie siening.
  • Die meerderheid munisipaliteite die bevindings en aanbevelings van die OG al vir jare ignoreer en voortgaan met ongemagtigde uitgawes, die willekeurige rondskuif van begrotings en die ooglopende toelating van bedenklike praktyke. Maar, soos die Lekwa-munisipaliteit gewys het, is finansiële bestuur maar een van die probleme. Die algemene wil en kapasiteit om goed te regeer en te bestuur ter wille van die gemeenskappe is grootliks afwesig. 

Wat kan gedoen word? In terme van finansiële bestuur, het daar op 1 April 2019 ‘n nuwe Ouditwet van krag geword waarvolgens die OG materiële onreëlmatighede vir verdere ondersoek kan verwys, wat op vervolgings kan uitloop. Die OG sal ook ‘n sertifikaat van skuld kan uitreik waar ‘n munisipaliteit versuim om remediërende aksie te neem in die geval van ‘n finansiële verlies - wat kan beteken dat amptenare persoonlik verantwoordelik daarvoor gehou sal kan word.  Die vraag wat toe gevra is, geld steeds. Sal die OG die kapasiteit hê om hierdie verwysings te doen en sal die vervolgingsgesag die kapasiteit (en die wil) hê om dit ernstig te neem - veral as hulle met “groter” korrupsie besig is en sulke vervolgings die ANC-regering en ANC-lede in verleentheid kan stel? Net die tyd sal leer.

‘n Ander oplossing is dat die nasionale en provinsiale regerings sterker teenoor plaaslike owerhede optree. Artikel 154(1) van die Grondwet maak voorsiening dat die nasionale regering en provinsiale regerings deur “wetgewende en ander maatreëls munisipaliteite se vermoë om hul eie sake te bestuur, hul bevoegdhede uit te oefen en hul funksies te verrig, (moet) steun en versterk”. Maar in die praktyk is al selde sterk optrede gesien. Selfs die grondwetlike beginsel dat plaaslike owerhede wat nie goed funksioneer nie, onder administrasie geplaas kan word (artikel 139) het in die verlede geen of min positiewe gevolge gehad, waarskynlik omdat selfs die meeste provinsiale regerings nie die (ekstra) kapasiteit het om ‘n mislukte munisipaliteit reg te ruk nie. 

Die impak van die Standerton-geval het die nasionale regering se aandag getrek, veral omdat dit negatiewe gevolge vir internasionale en plaaslike beleggings en die skep van werkgeleenthede sal hê. Senior amptenare van die Presidensie het Lekwa besoek en die Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu het in die openbaar onderneem om in te gryp. Die gevolge hiervan sal nog gesien moet word, maar die probleem is dat sulke ingrype nie op ‘n geval-tot-geval basis kan gebeur nie of waar dit die media haal nie. Daar is oor die 200 munisipaliteite waar dit waarskynlik net so sleg gaan. Hierdie krisis moet planmatig deur die betrokke ministeries aangepak word, met die Minister verantwoordelik vir plaaslike regering, dr Nkosazana Dlamini-Zuma, aan die voorpunt.

As ‘n noodmaatreël moet die ANC as politieke party miskien oorweeg om ‘n eie ondersoek te doen na die probleme wat hulle lede en takke in munisipaliteite veroorsaak het. Die aanstelling van die meeste plaaslike politici en amptenare is beïnvloed deur die ideologieë van kaderontplooiing, regstellende aksie, patronaatskap en die 80-9-9-2 model. In baie munisipaliteite is interne ANC faksiegevegte ook aan die orde van die dag. Net die ANC as politieke party kan dit regruk - al is daardie stelling self ‘n droewige kommentaar op die stand van ons grondwetlike demokrasie en die vermenging van party en staat. 

Die OG vat die probleem goed saam - en al praat hy van plaaslike owerhede, kan dit net so goed op die drie sfere van regering en die ANC as politieke party toegepas word. Hy sê dat die leierskap in enige organisasie die voorbeeld stel. As die leierskap oneties is, as die leierskap goeie korporatiewe bestuur, voldoening en kontrole verontagsaam en as die leierskap self nie tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid verbind is nie, sal dit deursyfer na die laer vlakke in die organisasie. 

Dit het reeds in Suid-Afrika gebeur. Plaaslike gemeenskappe pluk daarom die wrange vrugte van swak of geen dienslewering. Plaaslike besighede gaan gebuk onder gebrekkige plaaslike infrastruktuur en soms geen dienste nie. En een of ander tyd gaan die ANC-regering dit voel aan stemgeregtigdes wat van hom af wegdraai. Die EFF is onheilspellende voorbeeld hiervan.

Miskien moet goed funksionerende munisipaliteite deel van President Ramaphosa se droom word - ander gaan dit ‘n herhalende en nóg erger nagmerrie bly...

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
3 Julie 2019

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun [WATCH] Former President De Klerk participating in panel discussion on "The Power of Law vs The Law of Power"… https://t.co/GTdGSBZc6G
FWdeKlerkFoun Attending and participating in the 17th #NobelPeaceSummitYucatan This year 30 Laureates, Prize-awarded organization… https://t.co/1YVLNoIaIl

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.