linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: MEER PARTYE, BETER DEMOKRASIE?

IEC LOGO opt

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het onlangs aangekondig dat 48 partye die nasionale verkiesing op 8 Mei gaan betwis. Dit is meer as die 29 wat in 2014 aan die nasionale verkiesing deelgeneem het - ‘n toename van 65%! Gaan groter deelname egter vir Suid-Afrika ‘n beter demokrasie gee?

Die verstommende feit is dat volgens die OVK se webwerf daar op nasionale vlak 312 partye geregistreer is, en op provinsiale vlak 294. Die getal partye op nasionale vlak het as gevolg van twee faktore tot 48 gekrimp. Die eerste is die keuringsproses van die OVK self wat 118 partye deregistreer het en 29 se aansoeke verwerp het. Die tweede faktor is dat sommige partye (117) nie die registrasiegeld om aan die verkiesing deel te neem, betaal het nie.  Hierdie koste is taamlik hoog - R200 000 om op nasionale vlak deel te neem, en dan R45 000 per provinsie. ‘n Party wat op nasionale vlak en in ál die provinsies wil deelneem, sal dus R605 000 moet opdok. Vir ‘n kleiner party is dit nie ‘n maklike taak nie om sò ‘n bedrag bymekaar te kry nie.

Die feit is dat kiesers in die komende verkiesing ‘n baie groter keuse van partye gaan hê om uit te kies as ooit tevore in Suid-Afrika se demokratiese bestel. Dit is trouens sò groot dat dit sommige kiesers waarskynlik deurmekaar gaan maak. Die stembrief sal waarskynlik uit meer as drie bladsye bestaan. Baie kiesers sou nog nooit van die meerderheid van die partye gehoor het nie. Watter gemiddelde kieser sou al van die “African Security Congress” of die “Compatriots of South Africa” of “International Revelation Congress” of “Woman Forward” gehoor het? Die kleiner partye kry ook nie die blootstelling in die media wat die groter partye kry nie. En dan is daar twee stemme wat uitgebring moet word: een nasionaal en een provinsiaal. Hoe maak mens daardie keuses? 

Die meeste kiesers sal hopelik voordat hulle die stemlokaal binnegaan, weet vir wie hulle wil stem. Die minderheid sal op die laaste oomblik ‘n besluit neem, dalk gebaseer op die naam van die party of ‘n woord in die partynaam wat goed klink.

‘n Argument wat dikwels van die groter partye gehoor word, is dat kiesers hulle stemme “mors” deur vir ‘n kleiner party te stem. Die antwoord hierop is ‘n groot “Nee” en ‘n klein “Ja”. In die proporsionele kiesstelsel wat ons sedert 1994 het, tel elke stem, omdat ‘n party se verteenwoordiging in die nasionale Parlement en provinsiale wetgewers bepaal word deur die aantal stemme wat dit gekry het - en elkeen van daardie stemme “tel” dus. In die 2014 verkiesing het die APC (African People’s Convention) met 30 676 stemme een setel gekry, en die party ná hulle (Al-Jama-Ah) met 25 976 stemme, geen setel nie. Indien 5 000 mense meer vir Al-Jama-Ah gestem het, het hulle een setel gehad en die APC was nie in die Parlement nie. Hierdie stemme was inderdaad nie gemors nie. ‘n Tweede deel van die “Nee” handel daaroor dat selfs klein partye in ons huidige politieke bestel besig is om ‘n belangrike rol in koalisiepolitiek te begin speel. Hulle is soms “koningmakers” in plaaslike regerings, en kan die senior vennoot in koalisies dikwels positief beïnvloed. ‘n Stem vir ‘n kleiner party is dus nie gemors nie.

Die “ja” op die vraag hierbo kan soos volg verklaar word. As ‘n mens na die komende verkiesing kyk, is daar 35.9 miljoen Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is. Hiervan het 26.7 miljoen as kiesers geregistreer, en sal dus kan gaan stem. In 2009 was die stempersentasie 77.3% en in 2014 laer op 73%. As ‘n mens dus die dalende tendens volg en werk op ‘n stempersentasie van 70% vir 2019, sal 18.7m kiesers gaan stem. Op grond van die OVK se formules sal ‘n party dan ongeveer 45 000 stemme nodig hê om een setel in die Parlement te kry. Indien die stempersentasie net 60% is, daal hierdie aantal stemme na 40 000. Maar in die 2014 verkiesing, waar 29 partye meegeding het, het die meerderheid van die partye (16) nie genoeg stemme gekry om ‘n enkele setel te kry nie. ‘n Mens sou dus kon argumenteer dat die stemme vir daardie kleiner partye inderdaad “gemors” was. Aan die ander kant was die aantal “gemorste” stemme sò ‘n klein deel van die groottotaal (178 060, en minder as 1%) dat dit nie regtig een van die groter partye soos die ANC, DA of EFF kon baat nie. Maar dit was wel ietwat meer as die aantal stemme wat die sewende grootste party, die VF+ (met 165 715 stemme), getrek het. 

Die punt wat kiesers wat wonder waar om te stem, dus moet onthou, is dat as jy vir ‘n kleiner party wil stem, dit belangrik is dat jy seker is dat daardie party ten minste 45 000 stemme landwyd gaan kry - en dat jou stem dus help om ‘n party in die Parlement te sit. En hier is die historiese rekord van ‘n party belangrik. As ‘n party in die laaste drie verkiesings nooit meer as 30 000 stemme landwyd kon trek nie, is dit twyfelagtig of sò ‘n party dit in 2019 gaan regkry. Kies dus die kleiner party waarvoor jy voel jy wil stem, baie versigtig.

Kan meer politieke partye in die verkiesing dus ons demokrasie verbeter? Die rede vir soveel meer nuwe partye is hoofsaaklik ‘n ontevredenheid met die huidige situasie in die land en die regerende party se rol daarin. Hier en daar word nuwe partye gedryf deur persoonlikhede wat met hulle vorige partye gebots en toe weggebreek het - Patricia de Lille se GOOD is ‘n goeie voorbeeld hiervan. In ander gevalle is nuwe partye plaaslike groepe of groepe met ‘n eendimensionele agenda, soos die omgewing of vroueregte. Wat ook al die oorsake, moet meer partye verwelkom word en kan dit ons demokrasie verdiep. Indien die kleiner partye (uitgesluit die ANC, die DA en die EFF) saam byvoorbeeld beter kan doen as die 8.3% wat hulle in die 2014 verkiesing gekry het, en hulle, sê 15% kan kry, sal dit die groter partye se stempersentasie verklein en hulle sò op hulle tone hou. En uiteindelik is 48 politieke partye wat aan ‘n nasionale verkiesing deelneem, eindeloos beter as sommige ontwikkelende lande met een-party demokrasieë waar mens eintlik net vir of teen een presidentskandidaat kan stem. Die 2019 verkiesing is dus ‘n verdere voorwaartse stap om Suid-Afrika se relatief jong konstitusionele demokrasie te verbeter en te verdiep.

Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
9 April 2019

 

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

 

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun RT @theCFCR: [READ] Latest from @theCFCR Manager, Ms Christine Botha, unpacks the State's promises to combat #GBV https://t.co/XmKZKl60r0 #…
FWdeKlerkFoun RT @theCFCR: [READ] Ms Rebecca Sibanda @theCFCR Legal Officer, writes on the #SANDF #deployment in the #WesternCape https://t.co/KqbHoPq59l

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.