ARTIKEL: Erfenisdag - 24 September 2020: Vereniging van 'n afstand af

Heritage Day

Op hierdie Erfenisdag kom ons stadig maar seker uit die onmiddellike nasleep van Covid-19 en die verwoestende uitwerking daarvan op ons land, ekonomie en mense.

Op hierdie dag - en in 'n land wat aan al sy mense behoort - word Suid-Afrikaners aangemoedig om hul kultuur, die diversiteit van hul oortuigings en tradisies te vier.

Een van die belangrikste aspekte wat in die Grondwet van Suid-Afrika erken word, is die belangrikheid van ons kollektiewe erfenis en die ryk kulturele, taalkundige en historiese landskap wat die doek van ons nasie se diversiteit skilder. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is baie duidelik hieroor in sy aanhef: Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon - verenig in ons verskeidenheid - in die breër konteks van 'n nasie en land wat die ongeregtighede van ons verlede erken; diegene wat gely het vir geregtigheid en vryheid in ons land vereer, asook respek toon vir diegene wat gewerk het om ons land te bou en te ontwikkel.

Wyle adv George Bizos SC (wat verlede week oorlede is) was toegewyd aan die Suid-Afrikaanse Grondwet, asook die noodsaaklikheid dat alle Suid-Afrikaners daarby moet hou - veral ons leiers. In Augustus 2016 het hy gepraat oor versoening en die toenemende belang vir die behoefte om verenig te wees in ons diversiteit as Suid-Afrikaners toe hy gesê het:

“Ons het leiers nodig wat glo in die waarde en belofte van die Grondwet, en wil sien dat dit gehandhaaf en verwesenlik word. Dit is onvanpas vir leiers om roekelose uitsprake oor ras te maak wat haat of geweld aanhits, of om so maklik te praat oor die wysiging van die Grondwet sonder die nodige inagneming van wat nodig is om dit te bereik. Daar kan beslis - en moet - meer gedoen word om die visie van die land wat baie van ons gehad het vir 'n gelyke en verenigde Suid-Afrika, te bereik.”

Adv Bizos SC was ook heeltemal teen woorde en retoriek wat verdeeldheid en pyn in Suid-Afrika gesaai het. Hy het verstaan, en dit duidelik gemaak dat:

“Dit van geen hulp is vir ons nom veralgemenings oor swart mense of wit mense, Christene of Moslems, mans of vrouens uit te spreek nie, maar om die voorbeeld van ontelbare ander te volg, ongeag hul kleur, godsdiens of politieke siening. In plaas daarvan om mekaar die skuld te gee of om vinger te wys, laat ons saamwerk om konstruktiewe nasionale eenheid te bewerkstellig, grondwetlike regte te bevorder en harmonieuse nierassigheid tussen almal wat in Suid-Afrika woon, te bevorder ”.

Die erfenis van alle Suid-Afrikaners is onlosmaaklik verbind en enige deel van ons mense se erfenis behoort dus in gelyke mate aan alle ander Suid-Afrikaners. Die erfenis van een groep is ook nie belangriker as dié van 'n ander nie: Ons Grondwet heg 'n spesiale waarde aan kulturele inklusiwiteit en gelykheid in Suid-Afrika.

Dit sluit kulturele inklusiwiteit en gelykheid van die erfenis van al ons mense in. Van die eerste nasies van Suid-Afrika soos die Khoi, Nama en San, tot ons ander inheemse Afrika-nasies - die Zoeloes, Xhosas, Ndebeles en Swazi's; die Tswana, Pedi en Suid-Sotho, Tsonga en Venda. Van wit Suid-Afrikaanse afstammelinge van die Nederlandse, Engelse, Duitse, Portugese, Franse en ander Europese setlaars tot ons uitgebreide Indiese en bruin gemeenskap, sowel as die Maleiers, Asiërs en talle ander wat tussen die 17de en 19de eeu van die Nederlandse Oos-Indië en elders in Suid-Afrika aangekom het.

'n Belangrike vraag wat Suid-Afrikaners toekomsgerig moet beantwoord, is of die dialoog eksklusief of inklusief moet wees? Bevoordeel dit Suid-Afrika as net mense wat met mekaar saamstem oor die toekoms praat? Is dit verkieslik bo kollektiewe insig van deelnemers wat van mekaar verskil?

Kan iemand wat - volgens die Vryheidshandves en die Grondwet - gesamentlike eienaarskap van die land het, uitgesluit word van die bespreking oor die toekoms van die land? Wil ons ons kinders 'n Suid-Afrikaanse erfenis nalaat waar ons eens die kettings van apartheid en rassehaat verbreek het - saam as 'n nasie - net om terug te keer en na 'n toenemend ras gepolariseerde en her-rassige samelewing: 'n samelewing waar sekere mense vertel word dat hulle nie welkom is nie of minder werd is as ander?

Suid-Afrika se grondwetlike onderhandelinge van die vroeë 90's weerspieël die morele vesel van Suid-Afrikaners wat saam werk. Gedurende die proses het partye met ‘n lang geskiedenis van vyandigheid en agterdog bymekaar gekom en 'n nuwe grondwetlike bedeling onder die moeilikste omstandighede gesmee. Die sterkpunte van die Suid-Afrikaanse benadering - ons benadering - was die inklusiwiteit daarvan, die werklike poging om die redelike belange van alle partye, insluitende minderhede, te akkommodeer, asook die sterk bepalings wat dit ingestel het om die Grondwet as die hoogste reg van Suid-Afrika te verskans.

Dr Martin Luther King Jr het gesê dat mense dikwels nie oor die weg kom met mekaar nie omdat hulle mekaar vrees; hulle vrees mekaar omdat hulle mekaar nie ken nie; hulle ken mekaar nie omdat hulle nie met mekaar gekommunikeer het nie. Soos soveel ander Suid-Afrikaners deel ek dr King Jr se droom van 'n erfenis dat ons kinders eendag in 'n land sal woon waar hulle nie beoordeel word op grond van hul velkleur nie maar deur die inhoud van hul karakter.

Dit is heel eenvoudig: as 'n gevarieerde en ryk kulturele erfenis soos ons s'n nie op 'n sensitiewe, grondwetlike en kultuursensitiewe wyse beskerm word en bestuur word nie, stort die inherente verenigings krag daarvan in duie. Omgekeerd, as ons ons gedeelde erfenis, selfs die pynlike aspekte daarvan, kan omarm deur inklusief te wees, kan ons gesamentlik meer trots wees nie net op wie ons is en dit wat ons oorkom het nie: maar ook op wat ons nog steeds saam kan bereik.

As ons daarin slaag, sal ons ons erfenis, wat ons gedeelde erfenis van die nuwe en grondwetlike Suid-Afrika insluit, beter kan beskerm en koester.

Op hierdie Erfenisdag,

Nkosi Sikelel' iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.

God seën Suid-Afrika. God bless South Africa.

Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika

Adv Jacques du Preez: HUB – FW de Klerk Stigting

24 September 2020

Photo source: https://crushmag-online.com/heritage-day-in-south-africa-and-what-it-means/

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.