WÊRELDGESONDHEIDSDAG – DIE NGV SAL ALMAL SE REG OM TOEGANG TOT GESONDHEIDSORG AAN BANDE LȆ
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk-stigting, op 05/04/2024
Wêreldgesondheidsdag word op 7 April 2024 dwarsdeur die wêreld gevier. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moet lande “toesien dat almal blootgestel word aan toeganklike, beskikbare, aanvaarbare en voldoende gesondheidsorggehalte.” Ons Grondwet waarborg almal die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste (artikel 27).
Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (“NHV”) – wat nou net die president se handtekening nodig het om as wet bekragtig te word – beoog om “Universele Gesondheidsdekking” aan almal te voorsien. Dit poog om te verseker dat niemand toegang tot kwaliteit gesondheidsorg ontneem word weens ‘n gebrek aan geld nie, deur een openbare gesondheidsfonds te skep met voldoende hulpbronne om aan die gesondheidsbehoeftes van die hele bevolking te voorsien deur effektiewe beplanning en voorsiening.
“Eerder as om almal se reg op toegang tot gesondheidsorg na te kom, sal die NGV egter hierdie reg ondermyn”, meen Daniela Ellerbeck, die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Programme Bestuurder. “Die staat het eenvoudig nie die geld nie: Dit NGV vereis ‘n bykomende R200 miljard se belasting van ‘n Suid-Afrikaanse belastingbasis wat onderdruk (en aan die krimp) is. Selfs Finansies Minister, Enoch Godongwana, erken dit is onbekostigbaar en dat die voorgestelde finansieringsbronne onvolhoubaar is,” sê Ellerbeck.
“Die NGV sal nie die gaping tussen die private en openbare gesondheidsorgsektore verklein nie, maar slegs almal se vermoë om toegang tot gesondheidsorg ondermyn, omdat die staat nóg die menslike hulpbronne, nóg die bestuursvermoë het om dit te implementeer nie,” sê Ismail Joosub, Regsbeampte by die Stigting.
Rakende die NGV se gevolge vir die geraamde 3,7 miljoen Suid-Afrikaners wat aan seldsame siektes ly, sê Shaun Kinnes, ‘n intern by die Stigting dat “hulle die meeste geraak word, omdat die komplekse aard van baie van hierdie siektes gespesialiseerde dokters, mediese toerusting, medikasie en diagnostiese toerusting vereis. Die NGV poog om gesondheidsorg aan burgers voor te skryf en plaas die klem op primêre gesondheidsorgdienste. Dit hou die risiko in dat dit die mense wat ‘n behoefte aan gevorderde mediese hulp vir seldsame siektes en gevorderde chirurgie het, verwaarloos.”
“Die NGV inkorporeer nie inklusiwiteit of universaliteit nie, maar aspekte van eksklusiwiteit”, meen Siyakudumisa Zcina, ‘n intern by die Stigting. “Eerder as om die openbare gesondheidsorgstelsel te probeer regstel met so ’n onbekostigbare wet wat nie suksesvol geïmplementeer kan word nie, sal Suid-Afrikaners beter gedien word sou die staat byvoorbeeld, meer hospitale in universiteitsonderrighospitale omskakel.”
Die Stigting doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die magte wat die Grondwet aan hom gee, uit te oefen om hierdie wet terug te stuur na die Parlement vir heroorweging, sodat ons nie gkonfronteer word met onoorkomelike finansiële-, menslike hulpbronne- en bestuurderstekorte wat almal se reg op toegang tot gesondheidsorg sal knou nie. Stel die huidige openbare gesondheidstelsel reg en verseker dat die beste moontlike en korrupsievrye gesondheidsorg aan die publiek verskaf word wat nie privaat gesondheidsorg kan bekostig nie. En ondersteun die privaat gesondheidsorgstelsel, aangesien dit dien as ‘n platform vir hoë-end tegnologiese innovasies en gevorderde mediese en chirurgiese prosedures wat ook tot voordeel is van die publieke gesondheidsorgstelsel.