VERKLARING: VOORGESTELDE WYSIGING VAN ARTIKEL 25 VAN DIE GRONDWET

Op 6 Desember 2019 het die ad hoc-komitee van die Parlement die Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet (wysigingswetsontwerp) vir openbare kommentaar gepubliseer. Ingevolge die Kennisgewing van die Parlement het die publiek tot 31 Januarie 2020 om skriftelike voorleggings oor die voorgestelde wetsontwerp voor te lê.
Die ad hoc-komitee het die opdrag om die wysiging van artikel 25 van die Grondwet – die eiendomsklousule – op te stel om “eksplisiet dit wat implisiet in die Grondwet is, ten opsigte van onteiening van grond sonder vergoeding, as ‘n wettige opsie vir grondhervorming daar te stel”.
Die Stigting is bekommerd oor die feit dat so ‘n krities belangrike Wysigingswetsontwerp gedurende die feestyd vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit blyk dat hierdie kommer spesifiek tydens ‘n vergadering van die ad hoc-komitee op 3 Desember 2019 bespreek is, maar die regsdienste van die Parlement het die komitee ingelig dat ‘n soortgelyke proses in die verlede met wetsontwerpe gevolg is. Die wysigingswetsontwerp sal blykbaar in Desember aan die Huis van Tradisionele Leiers en provinsiale wetgewers gestuur word, en sal ook vroeg in Januarie 2020 weer in ‘n nasionale koerant gepubliseer word.






