VERKLARING DEUR FW DE KLERK

Ek het kennis geneem van die heftige reaksie op ons reaksie op die EFF se aanval op my tydens Donderdagaand se Staatsrede.
Ek stem saam met die Desmond en Leah Tutu-stigting dat dit nie die tyd is om te kibbel oor die grade van onaanvaarbaarheid van apartheid nie. Dit was totaal onaanvaarbaar.
Die FW de Klerk Stigting het gevolglik besluit om sy verklaring van 14 Februarie onvoorwaardelik terug te trek en om verskoning te vra vir die verwarring, woede en seer wat dit veroorsaak het.
Teen 27 April 1994, onder my leiding, is die hele wetgewende raamwerk van apartheid ontbind en is die weg gebaan vir die aanvaarding van ons huidige nie-rassige demokratiese Grondwet.
Die internasionale misdaad van apartheid het egter nie verdwyn met die ondergang van apartheid in Suid-Afrika nie. In 1998 is dit opgeneem in die Statuut van Rome, wat die Internasionale Strafhof daargestel het. Kragtens artikel 7(1) word ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ omskryf as dade wat “… gepleeg word as deel van ‘n wydverspreide of stelselmatige aanval op enige burgerbevolking, met kennis van die aanval.”







