linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: BELEGGING 101 VIR POLITICI

City sml

‘n Groot deel van president Ramaphosa se regrukplanne vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is om miljarde rande in buitelandse en plaaslike beleggings te trek, waardeur daar hopelik honderde duisende (indien nie miljoene nie) werksgeleenthede geskep sal word. ‘n Mens hoor ander politici soms mor oor die “beleggingsboikot” van Suid-Afrikaanse besighede, wat op “miljarde rande” sit en “niks daarmee doen nie”. 

Maar weet politici en staatsamptenare hoe besigheidsmense se koppe werk? Weet hulle hoe om die sogenaamde belegginsgboikot te verbreek? Hier is ‘n paar insigte - noem dit “Belegging 101” vir politici. 

‘n Maatskappy (plaaslik of multi-nasionaal) begin gewoonlik met ‘n entrepreneur wat ‘n goeie sake-idee het. Hy/sy leen gewoonlik by iemand (familie, vriende, die bank) geld om die idee in werking te stel. Wanneer die onderneming begin groei, sal hy dit op die aandelebeurs noteer en die publiek uitnooi om in die onderneming te belê. Individuele beleggers (gewone mense) sal na die prospektus van die maatskappy kyk en besluit of so ‘n belegging opbrengste sal bring. Opbrengste bestaan uit jaarlikse diwidende (wat jaarliks uit die wins van die maatskappy aan aandeelhouers betaal word) of kapitaalgroei - wanneer die maatskappy se aandeleprys styg. Sulke opbrengste sal oor die medium- en langtermyn meer moet wees as wat hy/sy kan kry deur die geld bloot in die geldmark of op ‘n spaarrekening te sit. Die maatskappy kompeteer dus met baie ander maatskappye vir die publiek se geld.  

Wat inderwaarheid gebeur is dat daardie indiwiduele belegger sy geld aan die maatskappy “leen” om daarmee meer geld te maak. Die maatskappy moet die geld van die belegger dus verstandig en met omsigtigheid gebruik. Indien die belegger en nou ‘n aandeelhouer nie tevrede is nie, sal hy/sy die aandele verkoop en die geld op ‘n ander plek belê. En as baie aandeelhouers besluit om dit te doen, sal die aandeleprys van die maatskappy val en sal dit in effek minder werd wees (of selfs ten gronde gaan). Dis wat met Steinhoff gebeur het.

Wat moet die maatskappy met aandeelhouers se geld doen? Die maatskappy, sy direksie en sy bestuur moet ten alle tye in belang van die aandelehouers optree. Om die geld te mors, op verkeerde maniere te belê of om dit in projekte met onaanvaarbare hoë risiko te belê, sal nie net moreel verkeerd wees nie, maar beleggers mag die direkteure ingevolge die Maatskappyewet indiwidueel daarvoor aanspreeklik hou. Trouens, daar mag selfs kriminele klagtes teen individuele direkteure kom indien so iets gebeur.

Natuurlik het die maatskappy ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ‘n breër groep belanghebbers: die werknemers, die gemeenskap waarin dit werk, en die algemene publiek (veral as die maatskappy byvoorbeeld in die voedselbedryf is). Maar in die keuse of daar in nuwe projekte belê moet word en wat die aard van die beleggings is, is die eerste verantwoordelikheid teenoor die aandeelhouers. Eers as hulle geld begin werk en die winste vloei, sal na die breër groep belanghebbers gekyk word. Dit was terloops waarom die eerste Mynbouhandves so kortsigtig (en verkeerd) was in sy bepaling dat gemeenskapbelanghebbers ‘n persentasie van die omset van die maatskappy moet kry (ongeag of daar wins gemaak word). Dit sou ‘n growwe skending van die regte van aandeelhouers (die ware eienaars van die geld) gewees het.

Hoe bepaal ‘n maatskappy of en waarin dit belê? Die antwoord is eenvoudig: projekte waardeur daar vir die aandelehouers waarde tot hulle belegging toegevoeg kan word. In gewone taal is dit projekte waardeur meer van die produk van die maatskappy goedkoper vervaardig en dus vir ‘n goeie prys verkoop sal kan word:

  • “Meer van die produk” beteken dat die vervaardigings- of groeiproses effektief moet wees. Dit help nie om baie geld te bestee en net ‘n paar produkte in ruil te kry nie. Die belegging moet dus groot en effektief genoeg wees. 
  • “Goedkoper vervaardig” beteken dat dit teen die laagste moontlike koste vervaardig moet word. Dit beteken in praktyk dat ‘n maatskappy onafwendbaar na tegnologie sal kyk en sal probeer om arbeid te bespaar (wat in die meeste maatskappye die grootste koste is). Baie min maatskappye kan winsgewend wees as hulle te veel werknemers het (kyk maar na SAL en Eskom). ‘n Belegging sal dus nie altyd baie werkgeleenthede skep nie, maar hopelik nuwe werkgeleenthede wat nie voorheen daar was nie.
  • Produkte moet vir ‘n “goeie prys” verkoop word. Behalwe waar ‘n maatskappy ‘n monopolie in die mark het, bepaal ‘n maatskappy nie self die prys van sy produkte nie. Die “mark” (die verbruiker) doen dit. As ’n produk skaars is, sal die prys hoër wees, en as daar baie van ‘n produk is, sal die prys laer neig. ‘n Goeie voorbeeld vandag is die mielieprys wat hoër neig omdat dit lyk of daar as gevolg van die droogte dalk nie genoeg mielies geplant is nie.
  • En dan moet die produk “verkoop”. Daar moet mense wees wat inkomste het om die produk te koop. As die gewone mense onder armoede en swaarkry gebuk gaan, (soos wanneer die petrolprys aanhoudend styg of BTW verhoog word) sal die maatskappy se produk nie verkoop nie. Dit sal, in de geval van bederfbare produkte onbruikbaar word, en in ander gevalle gewoon weggegee moet word. En in beide gevalle sal die gevolg wees dat die maatskappy nie winsgewend is nie en dat aandeelhouers se geld vermors word.

‘n Maatskappy neem die besluit oor ‘n nuwe belegging slegs nadat al hierdie faktore in ag geneem is. Daarby word gekyk na die risiko wat die belegging inhou. Alle openbare maatskappye moet ingevolge die King IV Gedragskode risikobestuurskomitees hê. Sulke komitees moet na alle bedryfsrisiko’s van die maatskappy kyk, ook dié van nuwe beleggings. En as dit enigsins lyk asof ‘n nuwe belegging té riskant is (natuurlik is daar in elke belegging ‘n mate van risiko), moet hierdie komitee by die direksie aanbeveel dat daar van daardie belegging afgesien moet word. 

Die bestuur van ‘n maatskappy moet verder bereken of daar genoegsame opbrengs op die belegging gaan wees, en of die tydperk waarin die projek die belegging sal “terugbetaal” (in terme van die wins van die projek) aanvaarbaar is.

As President Ramaphosa dus aan maatskappye vra om nuwe beleggings te maak en sò werkgeleenthede te skep, kan die uitvoerende hoof (al wil hy dit dalk persoonlik ondersteun) of die direksie nie sommer net “ja” sê nie. Maatskappye besit en werk nie met hulle eie geld nie. Dit is ander mense se geld, dit is aandeelhouersgeld. En al wil politici dit nie hoor nie, kan die bedoeling om werk te skep, nie die primêre faktor wees wanneer ‘n belegging oorweeg word nie. Die skep van nuwe werkgeleenthede is die byvoordeel van ‘n suksesvolle belegging. Elke maatskappy moet die risiko’s van ‘n nuwe belegging fyn verreken.

Die feit is dat as ‘n maatskappy nie 100% seker is dat die belegging (en die grond waarop die maatskappy bedryf word) veilig is nie, sal dit gewoon onverantwoordelik wees om beleggers se geld vir sò ‘n belegging te gebruik. Dit is waarom ek my karige pensioen sal wed dat nie een van die beloofde beleggings wat laasjaar deur maatskappye aan die President gemaak is, sal realiseer voordat daar nie 100% sekerheid oor onteiening sonder vergoeding is nie. Beloftes en verduidelikings is nie genoeg nie - geen verantwoordelike direksie en bestuur sal op grond van persoonlike versekerings van politici ‘n besluit oor miljoene rande se beleggings met aandeelhouersgeld neem nie. Natuurlik (en dis waarskynlik waar van sommige van die beloftes) het sommige maatskappye lank terug reeds op ‘n belegging besluit en is dit net nou in die beloftesakkie gegooi.

Dit help dus nie dat President Ramaphosa aan die sakesektor verduidelik dat sekere  kommerwekkende sake in die verkiesingsmanifes van die ANC net “wense” is en nie op ‘n beleidsverandering dui nie. Sulke “wense” (byvoorbeeld oor die onafhanklikheid van die Reserwebank) getuig van genoegsame risiko dat nuwe beleggings nie maklik gemaak sal word nie. Dit is daarom wel verblydend om te kon lees dat ‘n groep sakemense onlangs deur die bemiddeling van dr Johan van Zyl (Toyota) en Roelf Meyer met die kabinetsministers wat met die ekonomie te doen het, kon ontmoet. Na wat berig is, was dit ‘n oop en eerlike gesprek en is die sakemense werklik “gehoor”.

“Belegging101” wys dat politici moet verstaan dat sakemense nie net ánders as politici dink nie, maar dat hulle verplig word om anders te dink. Sakemense werk nie met hulle eie geld nie, dis hulle aandelehouers s’n. En as daar ‘n sweem van risiko is om nuwe beleggings te doen, sal dit nie gebeur nie. Politici sal dus anders moet dink as hulle selfs welmenende sakemense wil oortuig om nuut te belê en sò nuwe werkgeleenthede te skep. Goeie ekonomiese beleid en beleidsekerheid is ‘n goeie  begin.

Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting 
13 Februarie 2019

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun RT @News24: OPINION: The second great shift in the destiny of the new South Africa | by FW de Klerk https://t.co/3Il0GP0AWf https://t.co/o
11hreplyretweetfavorite

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.