Die FW de Klerk Stigting verwelkom die aankondiging deur President Ramaphosa dat advokaat Shamila Batohi as die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) aangestel is. Advokaat Batohi is goed gekwalifiseerd en ervare om hierdie belangrike rol te vervul.Dit kom op 'n tyd waar die land 'n belangrike kruispad bereik het en die regstelsel 'n onafhanklike en regverdige individu nodig het om uitvoering aan die mandaat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te gee. In ooreenstemming met artikel 179 van die Grondwet vertrou ons dat sy haar mandaat sonder “vrees, begunstiging of vooroordeel” sal uitvoer. Advokaat Batohi het ervaring as 'n voormalige Direkteur van Openbare Vervolging in KwaZulu-Natal, en het internasionale blootstelling verkry met haar rol as die senior regsadviseur van die aanklaer in die Internasionale Strafhof (ICC). Laasgenoemde ervaring sal belangrik wees, aangesien dit aan haar die nodige afstand en objektiwiteit verskaf betreffende sake wat vervolg word.
Ons wens haar voorspoed toe tydens haar ampstermyn, wat in Februarie 2019 'n aanvang neem. Ons vertrou dat advokaat Batohi die vasberadenheid en moed sal inboesem om diegene te vervolg wat strydig met die Grondwet en die Reg optree. Suid-Afrika het dit baie nodig.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
4 Desember 2018