linked inyoutube

facebookicon-twitter-32x32

 

ARTIKEL: VYF WENSE VIR SUKSES VIR SUID-AFRIKA IN 2019

TE HEADSHOT opt

2018 lê byna op sy rug. Desember is vir baie Suid-Afrikaners ‘n tyd van klaarmaak en afsluit, om ‘n bietjie verlof te neem en te gaan rus. Maar dit is ook ‘n tyd van bestek opneem oor die jaar en wat vermag is - en begin nadink oor wat in 2019 voorlê. 

Noem dit maar ‘n kombinasie van wense vir Kersgeskenke en Nuwejaarsvoornemens, maar as daar, sê, net vyf is wat gekies kan word, sou ek die volgende vyf dinge vir die land kies. Dit kan die resep vir sukses vir Suid-Afrika in 2019 wees.

‘n Nuwe leierskorps, gesuiwer van selfsugtiges, staatskapers, korruptes en welmenende sosialiste

Of dit nou die kabinet, die staatsdiens, die privaatsektor of die burgerlike samelewing is - ons het ‘n nuwe leierskorps nodig wat gesuiwer is van selfsugtiges, mense wat net aan hulself en hul eie belange dink. Só ‘n ingesteldheid doen niks vir die land nie, en werk meestal téén die gemeenskaplike welvaart en welsyn. Ons is moeg vir korruptes, staatskapers en Zuptas in ons leierskapstrukture - hulle moet met die volle mag van die reg uit hulle posisies verwyder en effektief vervolg word. Hiervoor moet leefstyloudits ‘n algemene praktyk in veral die staatsdiens en politiek word. Maar meer as dit, ons is moeg (en baie versigtig) vir welmenende leiers wat beleidsrigtings voorstel wat wesenlik sosialisties is en die land oor die lang duur ekonomies kan verlam. ’n Minister wat in die openbaar sê dat die bekostigbaarheid van ‘n gesondheidstelsel nie sy probleem is nie, hoort nie in die kabinet nie. Ons wil hê ons leiers moet volgens alle grondwetlike waardes lei.

Ons wens vir ‘n nuwe leierskorps...

Méér as beleidsekerheid: goeie, bemagtigende beleid

‘n Mens hoor baie maal van ekonome dat “beleidsekerheid” nodig is. Maar sekerheid van swak beleid is nie goed genoeg nie. Om seker te wees jou eiendom kan gáán gevat word, laat jou nie daarin belê nie. Ons wens tweedens vir ‘n owerheid wat méér doen as beleidsekerheid - een wat goeie en duidelike beleid daarstel. Ons wens vir beleide wat bemagtigend is vir die privaatsektor en gewone burgers, beleide wat gestroop is van ideologiese dryfvere en burokratiese rompslomp. Ons land het ‘n ekonomiese beleid nodig wat die privaatsektor aanmoedig om werk en welvaart te skep. Ons land het ‘n beleid nodig wat die eiendomsreg in die Handves van Menseregte bevestig en nie verdun nie. Ons het arbeidsbeleid nodig wat soepel is en die ekonomie en werkskepping kan laat gedy. Ons wens vir beleide wat die staat aanvuur om vennootskappe met die privaatsektor te sluit veral op die gebiede waar die staat nie (meer) die kapasiteit het om dit self te doen nie. 

Ons wens vir goeie beleidsrigtings...

Die kwessie van staatsbeheerde ondernemings (soos Eskom, SAL en die SAUK)

Daar is onlangs weer in die gat wat SAL genoem word, R5 miljard gepomp - ‘n druppel in die emmer wat hierdie lugdiens nodig het. Dit is duidelik dat daar ook etlike ander staatsbeheerde ondernemings is wat nie goed bestuur en bedryf word nie - tot dié mate dat ingeligte kommentators meen dat hulle nie eers weggegee kan word nie. Ons wens vir ‘n Eskom wat goed bestuur word, sodat verhogings in dubbelsyfers die uitsondering word en nie die reël is nie, en waar dieselfde waar is van elektrisiteitsonderbrekings en beurtkrag. Ons wens vir ‘n openbare uitsaaier wat nie deurgaans op die rand van bankrotskap is en permanent in krisisbestuur is nie. Ons wens dat ons belastinggeld beter aangewend sal word as om gebruik te word om gebrekkige- en wanbestuur te beloon deur voortdurende reddingsboeie. 

Ons wens vir goed funksionerende staatsbeheerde ondernemings...

Rassepolarisasie en intimidasie van minderhede

Die hoofdrywer van rassepolarisasie, Julius Malema, is tans besig om selfs sy eie vorige rekords van haatspraak en rassepolarisasie te oortref. Die onlangs gepubliseerde konsepwet op Billike Indiensneming (praat van ‘n anomalie!) gaan, as dit goedgekeur word, rassekwotas vir alle fasette van die Suid-Afrikaanse samelewing die norm maak. Dit gaan rasseminderhede nóg verder in die land van hulle geboorte vervreem en intimideer. Ons wens dus vir ‘n land waar rassepolarisasie met die minagting wat dit verdien, bejeën word. ‘n Land waar Malema en diesulkes hulleself deur hul uitlatings as irrelevant as blote geraasmakers bewys. Ons wens ook vir ‘n land waar daar nie meer teen minderhede op grond van hulle ras gediskrimineer word nie en waar hulle tuis voel om tot die land en al sy mense se welvaart by te dra. Ons wens vir verdraagsaamheid en ‘n verwelkoming van diversiteit. Ons wens vir gewone ordentlikheid in hoe Suid-Afrikaners met mekaar omgaan.

Ons wens vir goeie rasseverhoudinge en waardering van minderhede deur die meerderheid...

Burgerlike samelewing gaan rus (weer) op hulle louere

Die burgerlike samelewing was instrumenteel om apartheid teen te staan. Dit het ook ‘n beslissende rol in die val van die Zuptas gespeel. Dit speel steeds ‘n belangrike rol om Suid-Afrika van Zupta-invloede vry te maak. Maar ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994, het die burgerlike samelewing mettertyd spreekwoordelik op sy louere gaan rus en minder effektief geraak. Dit is aangehelp deur die nuwe regering se aandrang dat buitelandse befondsers die geld wat histories aan burgerlike samelewingsorganisasies gegee is, eerder na die nuwe legitieme regering moet vloei. Toe die kwynende kapasiteit van die staat op vele terreine in die vroeë 2000s duidelik geword het, en veral toe die Zupta-regime ‘n werklikheid geword het, het die burgerlike samelewing as’t ware “opgestaan”. En vandag is die resultate duidelik. Die gevaar is dat met die nuwe daeraad van President Ramaphosa, die burgerlike samelewing mettertyd weer sy waghondrol gaan laat verslap. Ons wens is dat die burgerlike samelewing nie (weer) op sy louere gaan rus nie, maar waaksaam sal bly oor die Grondwet en grondwetlike waardes.

Ons wens vir ‘n aktiewe en immerwaaksame burgerlike samelewing ...

Terug by die harde werklikheid van Desember 2018. Ons wense vir ‘n nuwer Suid-Afrika gaan nie deur ‘n mitiese Kersvader (miskien genaamd Cyril?) toegestaan word nie. Trouens, daar is geen enkeling wat dit kan doen nie. Hierdie vyf wense (en ander) sal slegs ‘n werklikheid word as alle Suid-Afrikaners hulle rol speel en hulle deel doen. Dit sal natuurlik help as ons leiers die voortou neem, maar uiteindelik sal dit ‘n gesamentlike poging verg. En dit is moontlik.

Maak dus klaar met die 2018 se werk en gaan neem ‘n rustyd. En begin dink aan jou rol in die verwerkliking van die groot vyf...

Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
3 December 2018

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

 

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Jongste Tweets

FWdeKlerkFoun RT @theCFCR: [READ] Latest article from intern, Jonas Pauly: "Let the Electorate, Not the Corrupt, Set Policies" https://t.co/ZeHOhuExai #E
FWdeKlerkFoun [WATCH] Three-part interview with former President De Klerk #FirstCitizen #Part1 #eNCA @eNCA https://t.co/5qAospTabf

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.